Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Stof wet af oor onafhanklike krag-operateur – Radebe
Jeff Radebe, minister van energie. Foto: Morapedi Moshashe, Daily Sun

Die wetsontwerp om ’n onafhanklike kragnetwerk-operateur te vestig, behoort straks deur die parlement afgestof en herbesoek te word, het Jeff Radebe, minister van energie, gesê.

Die wetsontwerp wat onder die bewind van oudpres. Jacob Zuma ’n stille dood gesterf het, kan volgens Radebe baie help om die proses van herstrukturering van die elektrisiteitsbedryf te versnel.

Die sogenaamde ISMO-wetsontwerp het voorsiening gemaak vir die oprigting van ’n neutrale kragnetwerk-operateur waar Eskom saam met onafhanklike kragprodusente meeding om krag aan die operateur te lewer.

Radebe en ’n span van sy departement was Dinsdag voor die portefeuljekomitee oor energie om vrae te beantwoord oor die nuwe konsep- geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat vir 60 dae vir kommentaar gepubliseer is.

As die gaping in beleggings van nuwe groenkrag uitgehaal word en die bou van groenkrag meer stelselmatig ingefaseer word, sal verbruikers gouer daarvoor moet betaal, het Jacob Mbele, adjunkdirekteur-generaal van energie, verduidelik.

Hy het geantwoord op vrae van parlementslede oor of die gaping van twee tot drie jaar in groenkragbeleggings in die regering se nuwe kragplan nie die momentum in die bedryf gaan ontwrig nie.

Thembi Majola, adjunkminister van energie, het dit vreemd gevind dat parlementslede vrae gehad het oor die insluiting van 2 500 MW se hidrokrag van die Inga-skema in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Volgens Majola is hidrokrag baie skoon en sy kan nie glo mense is daarteen gekant nie. Fikile Majola, voorsitter van die komitee, en Gavin Davis (DA) het egter bloot gevra wat die hidrokrag gaan kos, hoe die Inga-projek vorder en waarom dit ingesluit is. Dit spruit uit kommer oor die uitgerekte projek wat al jare lank sloer weens onder meer politiekery in die DRK.

Die regering werk saam met die buurlande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap aan ’n gas-meesterplan vir die streek, het Radebe gesê oor vrae oor waar al die aardgas vandaan gaan kom as die regering teen 2030 8 100 MW se gaskragstasies gebou wil hê.

Die regering werk saam met die buurlande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap aan ’n gas-meesterplan vir die streek.

Radebe is optimisties oor die Inga-projek. Die huidige hoof van die projek was ’n vorige minister van energie van die DRK en was nog betrokke by die inter-regeringsooreenkoms wat Suid-Afrika met die DRK gesluit het toe Ben Martins nog minister van energie was, het Radebe gesê. Hy kon nie sê presies wanneer die Inga-projek voltooi sal wees nie.

Mbele sê die hidrokrag sal sowat 2c per kWh tot die kragprys voeg. Afwykings van die laagste-koste-scenario van die plan sal sowat R20 miljard ekstra kos, het hy gesê.

Radebe het ontken daar is enige belangebotsing in sy familie oor beleggings in energie. Sy vrou, Bridgette, is betrokke by mynbeleggings en nie by energie nie.

Oor die 27 groenkragprojekte wat meer as drie jaar gelede deur Tina Joemat-Pettersson, vorige minister van energie, goedgekeur is, het Radebe gesê hy was geskok toe hy van dié projekte van R56 miljard gehoor het wat nog nie kontrakte met Eskom kon sluit nie.

Hy het ook wat dié projekte betref geen belangebotsings nie, het hy gesê in reaksie op vrae oor bewerings in die media dat van sy familielede by van die groenkragprojekte betrokke is, of was.

Meer oor:  Eskom  |  Jeff Radebe  |  Elektrisiteitsverskaffer  |  Groenkrag  |  Kragopwekking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.