Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Suez-kanaal geblokkeer

Te midde van wêreldwye probleme in die skeepsbedryf, wat ook Suid-Afrikaanse in- en uitvoerders raak, het ’n groot vragskip boonop Dinsdag in die Suez-kanaal skeef gedraai.

’n Sleepboot steun die houerskip van die skeepsredery Evergreen, wat Dinsdag in die Suez-kanaal skeefgedraai en vasgesit het. Dit het tot die opeenhoping van minstens 100 ander skepe en tot ’n styging in die olieprys gelei. Foto: Reuters

Volgens inligting op die skipnavolgingswebblaaie het die houervragskip Ever Given Woensdagoggend steeds dwars in die suidelike deel van die Suez-kanaal gelê, omring deur sleepbote wat hom probeer loskry en vragskepe wat aan weerskante van die kanaal ophoop.

Hulle kon wel teen die middag die skip gedeeltelik loskry, het The Guardian berig.

Die naam Evergreen op die kant van die skip is die naam van die redery, nie van die skip self nie.

Oliepryse het reeds begin styg in reaksie op die opeenhoping, het Bloomberg berig, want olietenkskepe maak algemeen gebruik van die Suez-kanaal om ruolie van die top-olie-uitvoerders in die Midde-Ooste na Europa en Amerika te vervoer. Olie van die Noordsee word ook via die Suez-kanaal na Asië vervoer.

Minstens 100 skepe word tans opgehou terwyl die owerheid van die Suez-kanaal die houervragskip probeer loskry.

Sowat 10% van die totale oliehandel wat per skip vervoer word, beweeg deur die Suez-kanaal. Die effek op die oliepryse sal na verwagting net tydelik wees, meen Warren Patterson, hoof van kommoditeitstrategie vir ING Group in Singapoer.

In die verlede wanneer die Suez-kanaal lang tye geblokkeer was, het skeepsrederye die lang pad om die Kaap geneem. Dit was tot voordeel van die Suid-Afrikaanse hawens, wat uit die verkoop van skeepsbrandstof en ander dienste geld kon maak.

vragskip

Maar die ander huidige skeepvragprobleem blyk ’n wanbalans in vraghouers te wees, met ’n tekort aan leë vraghouers op plekke waar dit benodig word, en ’n ooraanbod van leë houers op plekke waar dit nie benodig word nie en net plek opneem. Dit het teen die einde van verlede jaar al tot rekordhoë vragtariewe gelei, sê Drewy, ’n navorsingsfirma vir die skeepsbedryf.

Verskeie plaaslike maatskappye en die sitrusuitvoerbedryf kla reeds die afgelope tyd oor die probleem aangesien dit in- en uitvoer bemoeilik.

Daarby is daar nog die gebruiklike opeenhopings in die Kaapse hawe wat Transnet tot dusver aan die stormsterk winde en probleme verwant aan die Covid-19-pandemie toegeskryf het.

Freight & Trade Weekly (F&T) berig egter dat sommige skeepsrederye dikwels besluit om die Kaapse hawe oor te slaan weens houerskepe wat soms tot so lank as nege dae buite die hawe moet wag vir vasmeerplek en eerder sorg dat hulle betyds by ander hawens uitkom.

Terry Gale, voorsitter van die Uitvoerdersklub van die Wes-Kaap, het onlangs aan F&T gesê dat een groot wynuitvoerder opgemerk het dat vyf skepe in Januarie en minstens 13 in Februarie verby Kaapstad gevaar het.

Regstelling: In ’n vorige weergawe van die berig is verkeerdelik verwys na Port Saïd, wat noord van die kanaal lê. Die skip het in die suidekant van die kanaal vasgesit.

Meer oor:  Suez-Kanaal  |  Olie  |  Vragskepe  |  Vervoer  |  Skepe  |  Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.