Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Sweet liewer, jou lugversorger vreet ons krag op

Lugversorgers se doeltreffendheid sal dringend moet verbeter, want die internasionale vraag na krag vir lugversorging kan teen 2050 drie keer soveel wees as vandag, waarsku die Internasionale Energie-agentskap (IEA) in ’n nuwe verslag.

Die toenemende gebruik van lugversorging in huise en kantore oor die wêreld heen sal oor die volgende 30 jaar een van die grootste dryfkragte in die vraag na elektrisiteit wees.

Vier lugversorgingeenhede gemonteer teen 'n gebou. Foto: Pixabay

Om al die lugversorgers in die wêreld teen 2050 te laat werk, sal soveel nuwe kragvermoë vereis as die huidige gesamentlike kragvermoë van Amerika, Europa en Japan. Daar is tans sowat 1,6 miljard lugversorgers in geboue en dit sal teen 2050 na verwagting tot 5,6 miljard toeneem, wat beteken tien nuwe lugversorgers kan elke sekonde verkoop word vir die volgende 30 jaar.

Die gebruik van lugversorgers en elektriese waaiers om koel te bly, gebruik reeds sowat ’n vyfde van die totale elektrisiteit wat in geboue in die wêreld gebruik word – oftewel 10% van alle elektrisiteit wêreldwyd.

Die IEA waarsku namate inkomste en lewenstandaarde in talle ontwikkelende lande verbeter, sal die groei in die vraag na lugversorging in warmer streke net aanhou styg.

Daar is groot verskille in die doeltreffendheid van lugversorgers. Dié wat in Japan en Europa verkoop word, is 25% doeltreffender as dié wat in Amerika en China verkoop word. Groter doeltreffendheid kan die groei in kragvraag vir lugversorgers halveer as verpligte energiestandaarde afgedwing word.

Dr. Fatih Birol, uitvoerende direkteur van die IEA, sê “die groeiende kragvraag vir lugversorging is een van die mees kritieke blindekolle in vandag se energiedebat”.

Hy waarsku die standaarde vir die meeste nuwe lugversorgers is veel laer as wat dit behoort te wees.

As streng standaarde vir energiedoeltreffendheid vir lugversorgers ingestel word, kan die gemiddelde doeltreffendheid van die toestelle wêreldwyd teen 2050 meer as verdubbel, sê Birol. Dit kan die noodsaak vir nuwe kraginfrastruktuur aansienlik verklein.

Meer doeltreffende verkoeling kan dit ook meer bekostigbaar maak en kan tot $2 900 miljard aan belegging, brandstof en bedryfskoste bespaar.

Maar die vraag na lugverkoeling sal in die warm dele van die wêreld aanhou groei. Vandag besit minder as ’n derde van alle huishoudings in die wêreld hul eie lugversorger. In Amerika en Japan het meer as 90% van huishoudings lugversorging, teenoor net 8% van die 2,8 miljard mense wat in die warmste dele van die wêreld woon.

Dis veral ’n sensitiewe kwessie in snelgroeiende lande. In ’n warm land soos Indië word 10% van die krag in spitstye vir lugversorging gebruik. Teen 2050 kan dit 45% beloop. Dit sal groot beleggings in nuwe kragstasies verg vir spitstye saans, wanneer sonkrag nie krag lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.