Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Taai tye wag vir nuwe steenkoolkrag
Nuwe steenkoolkragstasies gaan opdraende kry van omgewingsgroepe se veldtogte teen steenkool.

Dis onwaarskynlik dat die twee nuwe steenkoolkragstasies waarvoor die regering se jongste kragbloudruk voorsiening maak ooit van die grond af sal kom, meen die Sentrum vir Omgewingsregte.

Dié nieregeringsorganisasie wat bestaan uit regslui wat in omgewingsreg spesialiseer, meen daar is net te veel regsuitdagings wat die twee projekte sal moet trotseer voordat hulle gebou kan word.

Intussen vra die omgewingsgroep WWF Suid-Afrika ernstige vrae oor die verwarring wat pres. Cyril Ramaphosa se onlangse aankondiging skep oor ’n Chinese belegging in ’n nuwe steenkoolkragstasie van 4 600 MW in Limpopo.

Die konsep geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat in Augustus vir 60 dae se kommentaar uitgereik is, maak voorsiening vir net 1 000 MW se nuwe steenkoolkrag tot 2030. Dit is bedoel om te kom van twee private steenkoolkragstasies - die Thabametsi-kragstasie naby Lephalale wat deur die Japanse groep Marubeni en die Suid-Koreaanse Kepco besit word, en Khanyisa wat naby eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga beplan word en waarin die Saoedi-Arabiese kragfirma Acwa Power die hoofaandeelhouer is.

Japannese swaai om

Nuwe onsekerheid vir spesifiek die Thabametsi-projek het vandeesweek ontstaan nadat Marubeni aangekondig het hy gaan hom onttrek aan sy steenkool-kragopwekkingsbedrywighede en toenemend meer klem lê op hernubare energie.

Teen 2030 sal Marubeni sy kragopwekkingsvermoë van sowat 3 000 MW by steenkoolkragstasies met die helfte verklein, is deur The Economic Times van Indië berig.

Marubeni se besluit om na groenkrag oor te skuif is ’n slag vir die internasionale steenkoolbedryf, het ’n ontleder aan The Economic Times gesê.

Chinese geld

Maar die WWF Suid-Afrika vra waarom die nuwe kragstasie van 4 600 MW wat glo met Chinese geld gebou gaan word nie ingesluit is in die IRP nie.

“Hoe beplan die president om dan nou te hou by beloftes oor Suid-Afrika se bydrae tot die Parys-ooreenkoms (oor klimaatsverandering)?” het Louise Scholtz, bestuurder vir stedelike toekoms by die WWF se beleidseenheid, gevra.

Scholtz waarsku dié aankondiging oor ’n China-gefinansierde steenkoolkragstasie impliseer die IRP kan nog drasties verander om die nuwe ontwikkeling te huisves. Dit ondermyn die soewereiniteit en internasionale aansien van Suid-Afrika en is in kontras met die IRP-proses. Dit ondermyn Suid-Afrika se internasionale verbintenisse tot die stryd teen klimaatsverandering, maan Scholtz.

Eskom se Hendrina-kragstasie aan wie die Optimum-myn steenkool lewer. Foto: Bloomberg

Hofstryd

’n Gesamentlike veldtog genaamd Life after Coal deur die omgewingsgroep Earthlife Africa, die Sentrum vir Omgewingsregte en die burgerlike organisasie groundWork wil ’n stokkie steek voor enige nuwe steenkoolkrag want hulle glo dit sal Suid-Afrika vir nog ’n hele paar dekades vaspen met “vuil en duur steenkoolkrag”.

Thabametsi moet nog ’n atmosferiese-uitlaatgas-lisensie van die departement van omgewingsake kry, asook ’n waterlisensie, asook ‘’n kragopwekkingslisensie van die nasionale energiereguleerder (Nersa). Al dié aansoeke word teengestaan deur die omgewingsgroepe.

Hulle het ook ’n aansoek by die hooggeregshof ingedien om die departement van omgewingsake se besluit om omgewingsgoedkeuring aan die kragstasie te gee, te laat hersien.

Khanyisa se voorlopige atmosferiese-uitlaatgas-lisensie asook sy waterlisensie is tans onderworpe aan ’n appèl deur groundWorks. Hy wag ook vir sy kragopwekkingslisensie van Nersa, wat in die hooggeregshof bestry sal word as Nersa dit toeken, sê die Sentrum vir Omgewingsregte in ’n verklaring.

In die vorige, uitgediende IRP van 2010 was daar voorsiening gemaak vir 6 250 MW se nuwe steenkoolkragstasies van onafhanklike kragprodusente vir die tydperk 2014 tot 2030.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.