Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Tesourie maak somme oor duur brandstof

Jeff Radebe, minister van energie, het Dinsdag om verskoning gevra dat hy en sy departement nie verlede week die parlement oor die brandstofprys kon toespreek nie.

Oliepryse is siklies, maar die regering kyk na maniere om plaaslike brandstofvervaardiging te verhoog.

Radebe het Dinsdag verduidelik ’n amptenaar van die departement het hom mislei deur te sê die vergadering is uitgestel, en daar word dissiplinêr teen dié amptenaar opgetree.

Radebe was in Windhoek vir ’n beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, en die verstandhouding was dat amptenare van sy departement in sy plek die portefeuljekomitee oor energie oor die brandstofprys sou toespreek. Weens die verkeerde kommunikasie deur die betrokke amptenaar het niemand egter verlede Dinsdag opgedaag vir die vergadering met parlementslede nie.

Radebe het toegegee die onlangse skerp verhogings in brandstofpryse plaas druk op verbruikers en die ekonomie.

In Gauteng kos 95-oktaan petrol nou reeds meer as R16 per liter – die hoogste prys tot dusver.

Radebe sê oliepryse was in 2014 op $115 per vat, en het in Januarie 2016 tot so laag as $30 per vat gedaal.

Brandstof-bedryf in syfers
  • Bedra 8,1% van die BBP
  • Meer as 100 000 regstreekse en onregstreekse werkgeleenthede
  • R365 miljard se omset per jaar
  • R72 miljard per jaar word ingesamel in heffings en belasting
  • Sasol en PetroSA lewer net 20% van Suid-Afrika se totale brandstofverbruik
  • Die meeste van Suid-Afrika se ruolie-invoer kom van Saoedi-Arabië (49%), gevolg deur Nigerië (24%) en Angola (20%)

Sedertdien het Rusland en die Organisasie van Petroleumuitvoerlande hul produksie ingekort om pryse te laat styg, en teen vanjaar het oliepryse weer tot soveel as $80 per vat gestyg.

Die ekonomiese herstel elders in die wêreld het die vraag na olie verhoog, en tesame met die verswakkende rand-dollar-wisselkoers is dit die hoofoorsake vir stygende brandstofpryse.

As dit nie was vir die swakker rand weens die negatiewe sentiment jeens opkomende markte nie, sou brandstofpryse eerder gedaal het, meen Radebe.

Hy beklemtoon ruoliepryse is siklies van aard. Suid-Afrika moet met olieproduserende lande praat om beter pryse vir olie te beding. Taktiese spanne van die departement van energie en die nasionale tesourie ondersoek tans die brandstofprysstruktuur om te kyk of daar ruimte is om laer pryse te bereik.

Die regering wil ook die omgewing vir olie- en gaseksplorasie verbeter om die kanse te vergroot dat Suid-Afrika sy eie olie en gas kan ontdek en ontgin, soos skaliegas in die Karoo, sê Radebe.

Tsediso Maqubela, adjunkdirekteur-generaal van energie belas met brandstof, het verduidelik hoe die brandstof-waardeketting werk sodat parlementslede die samestelling van die brandstofprys beter kan verstaan.

Suid-Afrika voer al sy ruolie by die Durbanse hawe in. Die enigste wat nie ingevoer word nie, is die sintetiese brandstof uit steenkool en gas wat Sasol en PetroSA vervaardig. Suid-Afrika voer egter ook heelwat klaar geraffineerde brandstof in, sê Maqubela.

Die brandstofprys word gereguleer deur die Wet op Brandstofprodukte wat die minister van energie die reg gee om pryse te reguleer en groot- en kleinhandelbedrywighede te lisensieer. Die Wet op Brandstofpypleidings is ook van toepassing.

Suid-Afrika gebruik ’n invoerpariteit-beginsel vir die regulering van pryse ten einde raffinaderye aan te moedig om doeltreffend te wees, want hulle ding met internasionale raffinaderye mee.

Die dieselprys word nie op kleinhandelvlak gereguleer nie, maar sedert 2010 word die prys van vloeibare petroleumgas ook gereguleer.

Maqubela sê dit is baie moeilik om die paraffienprys te reguleer, want dit word verkoop by duisende afsetpunte in wydverspreide gebiede en die departement het nie genoeg inspekteurs om pryse na te gaan nie.

Meer oor:  Sasol  |  Petrosa  |  Jeff Radebe  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Departement Van Energie  |  Olieprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.