Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Tonne steenkool aan Medupi laat Exxaro glimlag

Eskom se Medupi-kragstasie, wat al hoe meer steenkool nodig het, is een van die redes hoekom die mynmaatskappy Exxaro ’n blink 2018 agter die rug het.

Eskom se Medupi-kragstasie in aanbou. Foto: Verskaf

Exxaro het Donderdag sy resultate vir die jaar tot einde Desember bekend gemaak.

Hiervolgens het sy inkomste met 12% tot R25,5 miljard gestyg teenoor ’n jaar tevore.

Sy wesensverdienste per aandeel het met 7% tot R21,59 gestyg.

Sy bedrywighede het 3% meer kontant, oftewel R7 miljard in totaal, geskep.

’n Finale dividend van R5,55 is verklaar. Dit bring die totale dividend vir die jaar op R10,85 per aandeel te staan, ’n styging van 55% teenoor 2017.

Exxaro sê sy goeie resultate kan toegeskryf word aan hoër produksie en beter verkoopsyfers vir sy steenkool.

Produksie by sy enorme Grootegeluk-steenkoolmyn in Limpopo het met 17% tot bykans 4 miljoen ton gestyg. Dit was hoofsaaklik weens die kontrak met Eskom, wat vereis dat groter hoeveelhede steenkool aan Medupi gelewer word.

Verkope by Grootegeluk het met 13% tot bykans 3 miljoen ton gestyg.

Exxaro het sy Grootegeluk-myn teen miljarde rande uitgebrei juis om steenkool aan Medupi te kan lewer.

Hy het ’n kontrak om vir die volgende 40 jaar jaarliks 14,6 miljoen ton steenkool aan Medupi te lewer. Die kontrak is op 26 Maart 2010 gesluit en daarvolgens sou die eerste steenkool in die tweede kwartaal van 2012 aan Medupi gelewer word en teen 2015 sou die volle hoeveelheid per maand gelewer word.

Medupi is egter jare agter skedule en het nog nie al die steenkool nodig wat in die 2010-kontrak voorsien is nie.

Hoewel Exxaro fluks steenkool by Medupi aflewer, het Eskom einde verlede jaar erken die steenkool daar hoop op.

Lees ook: Medupi toe onder die steenkool

Eskom is kontraktueel verplig om Exxaro se steenkool te koop.

Eskom het in Desember aangekondig dat hy van dié steenkool per vragmotor na van sy ander kragstasies, waar hy ’n steenkooltekort ervaar, begin skuif het.

Lees ook: Eskom Ry versigtig, ons vervoer steenkool

Buiten Exxaro se bedrywighede in Limpopo wat fluks vooruitboer, het die maatskappy sy uitvoer met 5% tot 8 miljoen ton verhoog.

Die maatskappy sê dit was veral weens ’n hoër vraag uit Indië tesame met ’n hoër internasionale prys vir steenkool.

Waar hy gemiddeld $69 per ton vir sy steenkool in 2017 verdien het, het hy in 2018 gemiddeld $77 per ton verdien.

Die wisselkoers tussen die rand en die dollar het wel effens van R13,30 in 2017 tot R13,24 in 2018 verstewig, maar dit was nie genoeg om ’n negatiewe invloed op verdienste uit uitvoer te veroorsaak nie.

Hoe swakker die rand, hoe meer verdien Suid-Afrikaanse maatskappye wat produkte in dollar verkoop.

Skuld

Die enigste klad op Exxaro se finansiële state is die R3,8 miljard se skuld wat hy nou het.

Dit is teenoor die R69 miljoen kontant wat hy ’n jaar tevore in die bank gehad het.

Exxaro het die skuld aangegaan vir voorkeuraandele-aanspreeklikheid wat deel is van die Eyesizwe-transaksie en om ’n spesiale dividend uit te keer wat verband hou met die verkoop van ’n deel van sy belang in Tronox. 

In die geval van Eyesizwe beloop die bedrag R609 miljoen, terwyl die Tronox-dividend Exxaro R4,5 miljard uit die sak gejaag het. R3,1 miljard hiervan is op 5 Maart verlede jaar aan aandeelhouers betaal.

Exxaro het ’n deel van sy belang in Tronox, wat titaan-dioksied produseer, in Oktober 2017 verkoop.

Exxaro se aandeelprys het Donderdag teen 11:00 bykans onveranderd teen R150,36 op die JSE verhandel.

Meer oor:  Eskom  |  Exxaro  |  Medupi  |  Steenkoolkontrakte  |  Steenkoolkragstasies  |  Mynbou  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.