Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Totale duister kruip nader
Steenkoolhope buite die Grootvlei-kragstasie. Foto: Bloomberg

22:10

Fase 6-beurtkrag is omstreeks 22:00 Maandagaand weer teruggeskakel na fase 4 en dit sal voortduur tot 23:00 Dinsdagaand, het Eskom laataand bevestig.


In ’n ongekende stap wat beteken Suid-Afrika kruip al nader aan die risiko van ’n totale landwye kragonderbreking, het Eskom Maandagaand omstreeks 18:00 beurtkrag na fase 6 opgestoot, wat beteken ’n streek se krag word vir sowat nege ure afgeskakel per dag.

Dit is weens ’n bykomende tegniese probleem by die Medupi-kragstasie by Lephalale in Limpopo.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het egter later aan Moneyweb gesê fase 6 kan dalk teen 23:00 weer afgeskaal word.

Verbruikers het sedert die aankondiging gesukkel om op Eskom se webwerf meer inligting oor fase ses-beurtkrag en die beurtkragskedules te kry, met beperkte toegang tot Eskom se webwerf. Die aanlynskakels vir die Kaapstad-metroraad se beurtkragskedules het vroegaand ook nie gewerk nie.

Volgens Eskom is fase ses beurtkrag egter nie rede tot kommer nie, “omdat die stelsel doeltreffend beheer word”.

“Eskom se noodreaksiesentrum en tegniese spanne sal deurnag werk om kragopwekkingseenhede so gou moontlik weer aan die gang te kry.” Luidens die verklaring het Eskom en munisipaliteite ná 2015 die behoefte raakgesien om beurtkrag se fases tot agt uit te brei.

John Steenhuisen, waarnemende parlementêre leier van die DA, het Maandagaand gewaarsku die land betree nou ongekarteerde terrein, wat vernietigend sal wees vir die ekonomie, werkskepping en groei. Steenhuisen sê dis tyd vir die regering om Suid-Afrikaners te vertel wat regtig aan die gang is want hy glo nie Eskom se verskoning van nat steenkool nie.

Jesse Burton, navorser oor energiebeleid by die Universiteit van Kaapstad. Foto: TWITTER

Prof. Anton Eberhard, afgetrede professor in elektrisiteitsbedryfregulering by die Universiteit van Kaapstad se sakeskool, sê fase 6 het nog nooit in Suid-Afrika gebeur nie. Hy waarsku mense om voortaan verskeie verlengde tye van kragonderbrekings te verwag, met baie streke wat nog nie eens tydroosters het wat vir fase 6 voorsiening maak nie.

Volgens die ekonoom Mike Schüssler kan fase ses-beurtkrag die ekonomie tussen tussen R864 miljoen en R1,294 miljard per dag kos.

“Geen ekonomie kan so iets oorleef nie. Hoe het ons hier gekom? Plaas Eskom eerder in sakeredding, nes die SAL, sodat die sakeredder kan heronderhandel oor steenkool- en groenkragkontrakte.”

Ondertussen het twee onafhanklike energieontleders gesê swak bestuurspraktyke, gebrekkige instandhouding, steenkool van ’n laer graad en tegniese en ontwerpprobleme by Eskom is die eintlik redes vir die huidige vlaag van beurtkrag waaraan Suid-Afrikaners onderwerp word.

Nie soseer “verskonings” soos nat steenkool en onophoudelike reënweer nie, meen Ted Blom en Chris Yelland, die twee ontleders.

Dit nadat Eskom Maandagoggend gewaarsku het dat van sy kragstasies besig is om te oorstroom weens die onophoudelike reën in die noorde van die land wat tot nat steenkool en verdere probleme met kragopwekking lei.

Blom sê soos dinge tans lyk, lyk dit of Suid-Afrikaners ’n “donker” feestyd met beurtkrag gaan hê.

“Dit lyk of die huidige probleme baie groter is as die bestuur se vermoë om dit te kan oplos. Die verhoogde beurtkragfases bewys dit.“

Yelland het ook op Twitter gesê hy kan nie glo Eskom gebruik al weer die “swak verskoning” van nat steenkool as ’n rede hoekom minder krag opgewek word nie.

Prof. Rosemary Falcon, afgetrede steenkoolnavorser van Wits, het gesê dit is ’n “absolute nagmerrie om met nat steenkool te werk. Dit word soos sement. - Verslagspan: Elvira Wood, Francois Williams, Malherbe Nienaber en Llewellyn Prince

'Nat steenkool is soos sement'
“Dit is ’n absolute nagmerrie om met nat steenkool te werk. Dit word soos sement,” sê prof. Rosemary Falcon, afgetrede steenkoolnavorser aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Die eerste probleem in Suid-Afrika is dat die meeste steenkoolmyne oopgroefmyne is, so uiters nat weer soos tans skep al probleme vir die mense wat plofladings moet lê en die steenkool moet uitgrawe.

Daarna, wanneer die steenkool opgelaai en in hope uitgestort word, klou die fyner steenkooldeeltjies soos gom aan mekaar en word soos sement. “Jy kan dit nie beweeg nie,” sê Falcon.

Om dit in vragmotors, met voerbande of in die kragstasie se meule te laai, is ook ’n probleem.

Al is die steenkool effe droër wanneer dit deur die meule fyner gemaal is, is daar steeds vogtigheid aan die gemaalde steenkool en is die kaloriewaarde laer omdat energie verbruik word om eers van die vog ontslae te raak voordat dit verbrand kan word om stoom op te wek. 

1 t nat steenkool lewer op die ou einde dus minder kilowatt-uur elektrisiteit as 1 t droë steenkool, sê Falcon.

Oor waarom Eskom nou nat steenkool as verskoning gebruik terwyl dit nog altyd dié tyd van die jaar in Mpumalanga baie reën, sê Falcon ná gewone donderstorms kry die steenkool kans om uit te droog, maar die huidige volgehoue reën beteken daar is nie ’n kans vir die steenkool om uit te droog nie. 


Die grondwatervlakke styg ook en die water syfer nie weg nie.


Meer oor:  Beurtkrag  |  Fase 6  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.