Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Transnet kla oor ‘te lae’ tariewe vir pypvervoer

’n Ooreenkoms oor pypleidingtariewe wat nog uit die apartheidsjare spruit, het Transnet genoop om nou by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) te gaan kla en vir ’n beter tarief te vra.

Een van die pompstasies op die roete van Transnet Pipelines se pypleiding tussen Durban en Gauteng.

Dit blyk die Natref-raffinadery wil nie die huidige Nersa-vasgestelde tariewe vir die vervoer van ruolie van Durban na Gauteng via Transnet se pypleiding betaal nie.

Transnet waarsku as hy nie billike tariewe van Natref kan ontvang nie, sal hy dit van ander kliënte, soos ander brandstofmaatskappye, moet verhaal en sal alle ander tariewe buiten die ruoliepypleidingtarief met minstens 10% verhoog moet word. Dit sal uiteindelik ook alle brandstofverbruikers raak, waarsku Transnet.

Volgens Transnet wil Natref – wat saam deur Sasol en Total bedryf word – steeds laer tariewe betaal ingevolge ’n historiese ooreenkoms van 1967 wat in 1991 gewysig is.

Transnet het Woensdag bekend gemaak hy het ’n amptelike klag by Nersa ingedien ingevolge die Wet oor Petroleumpypleidings dat hy geregtig is op ’n tarief wat voldoende is om die belegging te dek en om die pypleiding te bedryf en in stand te hou, tesame met ’n wins wat met die risiko verband hou.

Die ou ooreenkoms spruit uit die 1960’s toe die apartheidsregering Total gevra het om ’n nuwe olieraffinadery in die binneland te vestig weens die stygende brandstofvraag. Die reeds bestaande olieraffinaderye was toe almal aan die kus.

Total was aanvanklik traag om in te stem omdat die binnelandse raffinadery nie so goed met die kusraffinaderye sou kon meeding nie. Om daarvoor te vergoed, is ooreengekom dat Total dieselfde koste vir die vervoer van ruolie na die raffinadery sou betaal as wat die kusraffinaderye sou betaal. Dit het op die bou van Natref in 1966 uitgeloop.

In 1967 is die ooreenkoms tussen Total en die regering gesluit waarin Natref hanteer sou word asof dit aan die kus is wat betref die berekening van die tarief vir ruolievervoer.

Transnet het tot en met 2005 by dié ooreenkoms gehou, maar toe het Nersa die berekening van pypleidingstariewe oorgeneem.

Teen 2013 het Total ’n eis van R838 miljoen teen Transnet ingestel vir wat hy meen hy te veel betaal het as pypleidingtarief. Sasol het ’n soortgelyke eis vir meer as R1 miljard ingestel.

Dié saak is steeds in die hof en volgens Transnet is daar ’n hangende aansoek om verlof tot appèl by die appèlhof daaroor.

Transnet se klag volg op Nersa se onlangse besluit om die pypleidingtarief van 1 April af met 2,39% te verhoog. Dit sal ’n afname van tot R5,5 miljard in Transnet se toegelate inkomste tot gevolg hê weens die laer verwagte volume van brandstofprodukte wat in sy pypleidings oor die komende jaar vervoer sal word.

Sasol het ten tyde van publikasie nog nie op navrae geantwoord nie.

Meer oor:  Nersa  |  Transnet  |  Sasol  |  Total  |  Hawens  |  Olie  |  Petrolprys  |  Brandstofbedryf  |  Infrastruktuur  |  Brandstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.