Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Tullow en Energy Africa: Verlore kanse
John Bentley

Die Suid-Afrikaanse maatskappy aan die kern van die jongste herrie rondom ’n belastingeis van Jan Taks teen onder andere die sakemagnaat Christo Wiese, het ’n meestal vergete maar eens roemryke geskiedenis.

Energy Africa, ’n filiaal van Tullow Oil, was in ’n stadium die enigste Afrika-gesetelde onafhanklike olie-eksplorasiegroep en die enigste olie-eksplorasiegroep wat op die JSE genoteer was.

Energy Africa spruit uit die plaaslike brandstofgroep Engen, wat Energy Africa in die 1990’s as ’n plaaslike eksplorasiegroep begin het. Engen het later sy belang verklein en Energy Africa is onder leiding van die Brit John Bentley as uitvoerende hoof in 1996 op die JSE genoteer. Sy hoofkantoor was in Kaapstad en hy het oor die jare ’n kundige span petroleum-ingenieurs en eksplorasiegeoloë byeengebring wat met van die beste tegnologie ter wêreld kon spog met nuwe olievondse in marginale olievelde aan die weskus van Afrika. Dit was olievelde waarin die groot internasionale oliereuse nie belang gestel het nie.

Bentley was vyf jaar aan die stuur van Energy Africa, maar het in 2000 bedank nadat hy koppe gestamp het met Engen se bestuur, wat in daardie stadium 57,4% van Energy Africa besit het. Bentley wou hê Engen moet sy belang verder verklein om Energy Africa te help om die koop van nuwe eksplorasiebates te finansier.

Daarna het ’n vyandige oornamepoging gevolg van Petronas, die Maleisiese staatsoliemaatskappy wat op sy beurt Engen besit het. Petronas het sy onregstreekse belang in Energy Africa tot 65,3% vergroot en wou die maatskappy ten volle uitkoop, maar die bestuur van Energy Africa het weer vasgeskop omdat hulle dit ’n onafhanklike Afrika-gesetelde eksplorasiegroep wou hou.

Rhidwaan Gasant

Rhidwaan Gasant, destyds uitvoerende hoof van Energy Africa, het moedig baklei vir die belange van Energy Africa se minderheidsaandeelhouers, want daar is gemeen Petronas se aanbod onderskat die werklike waarde van die maatskappy.

’n Paar jaar later kon Energy Africa egter nie nee sê vir ’n oornameaanbod van die onafhanklike Ierse eksplorasiegroep Tullow Oil nie. Tullow Oil het dus in Mei 2004 Energy Africa vir R3,52 miljard oorgeneem. Dit het Tullow se grootte bykans verdubbel en die hele span van Energy Africa was eensklaps deel van Tullow. Hy het daarmee saam al Energy Africa se eksplorasiebates geërf, insluitende die Kudu-gasveld aan die kus van Namibië. Suid-Afrikaanse beleggers is egter toe ontneem van die kans om in ’n plaaslike eksplorasiegroep te belê.

Saam met die bates is ervare en kundige petroleumgeoloë en ingenieurs van Energy Africa ook oor na Tullow, maar hulle het steeds uit Kaapstad gewerk. Dit sluit mense in soos Adrian Nel, wat bedryfshoof van Energy Africa was, wat as hoof waargeneem het tydens bestuurskommelinge en wat ’n direkteur van Tullow Oil geword het ná die oorname; asook Kevin Stallbom, wat sake-eenheidsbestuurder van Tullow Oil was vir Suider- en Oos-Afrika. Stallbom het voorheen by Soekor gewerk, wat in 2002 met Mossgas saamgesmelt het om die staatsbeheerde PetroSA te vorm.

Energy Africa het benewens die belang in die Kudu-gasveld oor die jare olievelde in onder meer Ekwatoriaal-Guinee, Gaboen, Tanzanië, Marokko en Libië besit.

Nadat Tullow Oil hom oorgeneem het, was dit die eerste eksplorasiegroep wat suksesvol olie in Uganda in Oos-Afrika ontdek het. Tullow het ook Ghana gehelp om sy eerste olie te ontgin, en was betrokke by olie-ontdekkings in Kenia.

Kleiner onafhanklike eksplorasiemaatskappye soos die eertydse Energy Africa, Tullow en die Amerikaanse groep Anadarko word beskou as meer vlugvoetig en innoverend as die internasionale oliereuse soos Shell, BP of Total, en is dus dikwels aan die voorpunt met die ontwikkeling van nuwe olievelde. Hulle is terselfdertyd geweldig blootgestel aan olieprysskommelings, en is dikwels van aandeelhouerfinansiering afhanklik om nuwe velde te ontwikkel.

Tullow se aandeelprys op die Londense beurs het die afgelope vyf jaar van rondom £9,15 tot die huidige £2,15 gedaal.

Meer oor:  Engen  |  Tullow Oil  |  Christo Wiese  |  Belasting  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.