Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Uiteindelik goeie nuus oor petrolprys!

Die regering oorweeg om die prysvasstelling van 93-oktaan-petrol weg te neem om deur groter mededinging die prys te verlaag.

As meer petrol plaaslik vervaardig word, kan dit die koste verlaag.

Luidens die voorstel wat die regering aan bedryfsrolspelers gestuur het, sal daar dan net ’n plafon vir 93-oktaan gestel word en kleinhandelaars sal dit steeds goedkoper kan verkoop.

Die prys van petrol is nou op die hoogste vlak nog teen R17,08 per liter vir 95-oktaan en R16,85 per liter vir 93-oktaan in die binneland.

Die kleinhandelaar se marge is tans R1,92 per liter vir 93-oktaan. As die vulstasie bereid is om dié marge te verklein, sal hy petrol goedkoper kan verkoop as ander vulstasies. Dis ’n soortgelyke geval as diesel, waar net die groothandelprys vasgestel is, maar nie die kleinhandelprys nie.

Kenners in die bedryf beskryf dit as ’n deurbraak en sê enige poging wat verligting kan bring vir pendelaars, voertuigeienaars en produsente, moet verwelkom word.

Van die teenargumente is dat die kleiner vulstasies of dié wat ver van raffinaderye is, bankrot kan raak en dat petroljoggies hul werk kan verloor as kleinhandelbrandstofmarges onder druk is.

In ’n skrywe waarin die departement insette van bedryfsverenigings vra, verduidelik Tseliso Maqubela, adjunk-direkteur-generaal van energie gemoeid met die regulering van petroleum en petroleumprodukte, die regering se voorstel soos volg:

  • Dit sal prysmededinging verseker;
  • Dit sal meer verbruikers wat tans onnodig 95-oktaan gebruik en tot oktaanvermorsing bydra, oorreed om 93-oktaan te gebruik. Die 93 en 95 verwys na die vlakke van oktaan in die petrol. 93-oktaan het minder raffinering nodig en is dus goedkoper;
  • Die hoër verbruik van 93-oktaan sal druk verlig op plaaslike raffinaderye om 95-oktaan te vervaardig en in te voer om in die plaaslike vraag te kan voorsien; en
  • Die laer invoer van 95-oktaan sal ’n positiewe uitwerking op die handelsbalans hê.

Die departement sê net 20% van die petrol wat in Suid-Afrika verkoop word, is 93-oktaan en die res is 95-oktaan, hoewel dit in baie gevalle onnodig is en bloot ’n keuse van die voertuig­eienaar.

Dís waarvoor jy betaal.

Prof. Rod Crompton, direkteur van die energieleierskapsentrum van Wits se sakeskool, sê ’n perk op die kleinhandelprys van 93-oktaan kan beslis werk. “Dis bloot nodig dat die minister met die volgende prysaanpassing die bewoording effens verander, maar regstegnies is daar geen hindernis om dit te implementeer nie.”

Persoonlik meen hy dit is onverdedigbaar dat petrol en diesel reg langs mekaar by vulstasiepompe verkoop word, maar net die petrolprys word vasgestel.

Hy sê die regering se jongste voorstel behels nie werklik deregulering nie, want die plafon vir 93-oktaan sal bly.

Volgens Crompton het die land in elk geval meer doeltreffendheid in die brandstofleweringstelsel nodig en die regering se voorstel lyk na ’n manier om deur mededinging daarby uit te kom.

Martin van Staden van die Vryemarkstigting sê sowat 40% van wat verbruikers vir petrol betaal, is bykomende belasting vir die staatskoffers.

So byvoorbeeld is die algemene brandstofheffing vanjaar met 22c tot R3,37 per liter verhoog, wat die regering R77 miljard in die sak bring. Die heffing vir die sukkelende Padongelukkefonds is met 30c tot R1,93 per liter verhoog, met ’n geraamde inkomste van R41 miljard in die 2018-’19-boekjaar.

Van Staden meen dit kan maklik geskrap word om gedeeltelike verligting vir motoriste te bring.

Collins Khumalo, hoof van die Outomobiel-Assosiasie (AA), het egter vroeër vanjaar op ’n paneelbespreking oor die moontlike deregulering van die petrolprys teen die skrapping van heffings gewaarsku.

Hy het luidens ’n artikel op die AA se webblad gesê die regering gaan die verlies aan inkomste op ’n ander manier van belastingbetalers verhaal.

“Brandstofkleinhandelaars wat ’n selfhelp-opsie vir motoriste toelaat, kan dalk petroljoggies afdank en dit sal bydra tot hoër werkloosheid.”

Volgens syfers van die Suid-Afrikaanse Petroleumbedryfsvereniging is daar sowat 4 600 vulstasies in die land.

Die regering wil al teen Donderdag kommentaar van petroleumbedryfsverenigings hê oor die voorstel.

Die regering is onder druk oor die stygende brandstofkoste en het selfs in September “eenmalig” ingemeng met die brandstofprysformule om vir motoriste ’n blaaskans te probeer gee.

Meer oor:  Vryemarkstigting  |  Aa  |  Diesel  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.