Die National Union of Mineworkers (NUM) gaan Woensdagmiddag voor Eskom se hoofkantoor in Johannesburg betoog.
Die vakbond sê in ’n twiet hy is gekant teen die ontknoping van Eskom en enige voorstel om die staatsonderneming te privatiseer.
Die NUM het in Desember gesê as André de Ruyter, nuwe uitvoerende hoof van Eskom, die regering se beoogde herstrukturering van die kragreus gaan deurvoer, sal hy hom om elke hoek en draai teenstaan.
Die NUM beplan om tydens die betoging wat tussen 12:00 en 13:00 gehou gaan word, ’n memorandum van eise aan De Ruyter se kantoor te oorhandig.
“De Ruyter het ’n program van die regering gekry om in werking te stel. Die NUM sal ons eie program aan hom gee om Eskom te red,” het Paris Mashego, energiesektorkoördineerder van die NUM, voorheen aan Fin24 gesê.
Volgens Mashego is die vakbond bereid om met die nuwe uitvoerende hoof saam te werk om dinge by Eskom reg te ruk, as hy inval by hul pogings om die regering se planne vir die verdeling van Eskom in afsonderlike entiteite teen te staan.
“Dit is ’n opdrag. As hy dit volg, sal hy ons steun hê. Ons dink nie die feit dat hy vroeër by Eskom begin werk het, sal enigiets verander aan die uitdagings by Eskom nie. Dit sal eerder die program verhaas om Eskom te ontknoop.
“Ons wil ’n forensiese oudit hê oor Eskom se skuld van R450 miljard. Maar die regering luister nie na ons nie. Ons het met die president en die ministers gepraat. Hul enigste verbintenis is dat hulle nie werkers sal aflê nie,” het Mashego gesê.