Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Vakbonde en groenes wil met Gwede kopstamp

’n Groep gemeenskapsorganisasies wat die wegbreek-vakbondgroepering Saftu van die oud-Cosatu-hoof Zwelinzima Vavi en die Climate Justice Coalition insluit, beplan volgende week landwye betogings teen die departement van minerale bronne en energie.

’n Banier van die omgewingsaksiegroep 350 Africa en die Climate Justice Coalition waarmee daar betoog word teen finansiering van die Turkse groep Karpowership se kragskepe as deel van die regering se noodkragprogram.

Die groep meen die departement, onder leiding van Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, slaan die verkeerde rigting in wat energiebeleid betref deur steeds op steenkoolkrag en gas te wil fokus, en deur te min op ’n regverdige oorgang na skoon energie te konsentreer.

Volgens die Climate Justice Coalition het Mantashe Maandag vir dr. Alex Lenferna, sekretaris van die koalisie, persoonlik geskakel en gedreig met regstappe as die groep voortgaan met die protesaksie.

Lenferna wys in ’n artikel op die nuusblad New Frame, wat maatskaplike geregtigheid bevorder, daarop dat die departement se noodkragprogram in die hof uitgedaag word. Pleks daarvan dat die departement skoon energie voorstaan, gee hy met die kontrak aan die Turkse groep Karpowership voorkeur aan ingevoerde fossielbrandstof. Dit is volgens Lenferna ’n verlore geleentheid om werk te skep en die ekonomie te herbou. Lenferna wys ook op die departement se vermorsing van honderdmiljoene rande op stoorkoste vir songeisers wat nooit geïnstalleer is nie.

Terwyl ’n onlangse studie deur die ouditgroep EY wys op meer as 100 groenkragprojekte wat wag op goedkeuring, vertraag Mantashe se departement volgens Lenferna die afgelope jare die bou van nuwe groenkragprojekte deur rompslomp, vertragings en burokrasie. Dít terwyl ’n land soos Viëtnam verlede jaar die hoeveelheid sonkrag gelykstaande aan ses steenkoolkragstasies gebou het.

Hoewel Lenferna die verhoging van die perk op ongelisensieerde kragopwekking tot 100 MW verwelkom, meld hy dat pres. Cyril Ramaphosa oor Mantashe se kop moes gaan om dit moontlik te maak, en dat die beleidskuif eerder groot ondernemings sal bevoordeel. Dit stel nie almal in staat om gelyk en regverdig deel te neem aan die mark vir groenkrag nie.

Die groep organisasies droom van ’n toekoms waar gemeenskappe, huishoudings, koöperasies, munisipaliteite en staatsbeheerde entiteite in besit is van groenkrag-aanlegte, eerder as ’n paar groot, private maatskappye.

Lenferna skryf Mantashe se bevordering van nuwe steenkoolkragstasies verdoem die land tot erger ekologiese en klimaatsprobleme. “Niemand wil nuwe steenkoolkrag finansier nie, want dis eenvoudig onekonomies en besoedelend.”

Die groep is ook gekant teen die departement se planne vir olie- en gaseksplorasie ter see en op land, insluitende die waterintensiewe en besoedelende hidrobreking in die droogtegeteisterde Karoo.

Lenferna wys op die Internasionale Energieagentskap se aanbeveling in ’n verslag in Mei dat beleggings in enige nuwe steenkoolmyne of olievelde onmiddellik gestaak behoort te word as die wêreld nog weghol-klimaatsverandering wil keer.

Hy wys op ’n ander verslag van die University of Technology Sydney in Australië dat die wêreld in werklikheid genoeg potensiaal vir hernieubare energie het om alle fossielbrandstof te vervang.

Die groep se eise sluit in dat:

  • Mantashe moet uittree om plek te maak vir nuwe, progressiewe leierskap in energiebeleid;
  • ’n Vinnige en regverdige oorgang na hernieubare energie met breër eienaarskapspatrone moet plaasvind sodat geen werker of gemeenskap agtergelaat word nie;
  • Geen nuwe besoedelende, korrupte en duur steenkool-, olie- of gasprojek aangepak moet word nie;
  • Gemeenskappe die reg moet hê om nee te kan sê vir mynbouprojekte in hul omgewing; en
  • Mantashe en sy departement Eskom se skuif na hernieubare krag nie moet belemmer nie.

Protesoptrede word reeds van 22 tot 27 September in elke provinsie beplan, onder meer by die departement se streekkantore, by die parlement, die Saldanha-hawe en by ’n gasboorperseel by Beaufort-Wes.

Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Steenkool  |  Protesaksie  |  Energiebeleid  |  Irp2019  |  Groenkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.