Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Van der Riet ‘was ’n held teen staatskaping by Eskom’
Dr. Mark van der Riet, Eskom-steenkoolspesialis, wat in November verlede jaar dood is nadat hy te midde van staatskaping by Eskom vir byna drie jaar onder valse voorwendsels geskors is.

Die dood van dr. Mark van der Riet, ’n steenkoolkundige van Eskom, in November verlede jaar herinner aan die dood van die SAUK-joernalis Suna Venter, wat in 2017 aan ’n stresverwante harttoestand gesterf het.

Waarnemers meen Van der Riet, wat aan ’n stresverwante hartaanval gesterf het, was net soos Venter ’n regstreekse slagoffer van staatskaping deurdat hy glo by Eskom uitgewerk is deur mense wat nou by die bewerings oor staatskaping betrek word.

Luidens berigte het die omstrede Gupta-familie aan die kern van die staatskapingsbewerings Van der Riet glo daarvan beskuldig dat hy hulle wou omkoop.

Mike Blenkinsop, ’n onafhanklike kragbedryfs-en-steenkoolkonsultant, wat in die 1990’s met Van der Riet as mentor by Eskom gewerk het, sê in ’n artikel op Biznews dat Van der Riet op die relatiewe jong ouderdom van 56 gesterf het, letterlik slegs ure nadat hy ’n voorlegging afgehandel het wat hy by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping sou indien.

Dit is nie bekend of die kommissie al spesifiek na sy voorlegging gekyk en dit bespreek het nie.

Blenkinsop sê Van der Riet was Eskom se beste steenkoolspesialis en hy was deel van die tegniese span wat al einde 2014 op die been gebring is om die sogenaamde war room by te staan, wat toe onder leiding van pres. Cyril Ramaphosa (toe nog adjunkpresident) gestig is om Eskom uit sy beurtkrag-krisis te probeer help.

Van der Riet moes die steenkool bekyk wat afkomstig was van die Guptas se Brakfontein-myn, en sy span het bevind dat die helfte van dié steenkool te swak vir Eskom se gebruik is.

Maar Matshela Koko, destyds hoof van kragopwekking en later waarnemende hoof van Eskom, het daarop aangedring dat die Guptas se steenkool gebruik word, en Van der Riet is geskors. Dié Eskom-veteraan van sowat 30 jaar, wat verskeie internasionale toekennings vir sy werk gekry het, was 21 maande geskors voordat ’n tugverhoor gehou is.

’n SABS-laboratorium het later bevind dat 97% van die Gupta-steenkool te swak was.

Prof. Rosemary Falcon, afgetrede professor by Wits wat nou saam met Van der Riet gewerk het, sê die voorsitter van sy tugverhoor het vooraf aangedui dat hy gaan aanbeveel dat Van der Riet afgedank word.

Dié voorsitter was ’n advokaat wat deur Koko self uitgekies is om die tugverhoor te lei.

Falcon sê Van der Riet was ’n stil en nederige mens, ’n diep denker met ’n sterk karakter. “Hy was die verpersoonliking van eerlikheid, integriteit en billikheid, en ’n toegewyde Christen.”

Kollegas staan op

Ondanks die advokaat se aanbeveling dat hy afgedank word, het sy eie kollegas van die Eskom-navorsingsafdeling in Rosherville saamgestaan en geëis dat hy van alle blaam onthef word en in sy pos herstel word.

“Dit het in Mei verlede jaar gebeur, 32 maande nadat Koko hom geskors het,” sê Falcon.

Volgens Blenkinsop was dit omdat Koko teen daardie tyd self reeds geskors was en nadat Eskom die bevindings van Van der Riet se tugproses hersien het. Eskom het bevind dat die bevindings irrasioneel was. Hy wys daarop dat die hele proses miljoene rande gekos het en as vrugtelose en vermorste besteding bestempel kan word.

Sy rol by Wits

Falcon sê Van der Riet was 12 jaar ’n besoekende professor by Wits se navorsingsgroep oor skoon steenkool.

Oor die laaste sowat drie jaar tydens sy skorsing het hy veral nou saamgewerk met Falcon en nagraadse studente om laasgenoemde met hul navorsingsvoorstelle te help.

Hy het ook klasgegee wanneer hy gevra is om uit te help.

Hoekom is juis hy geteiken?

Volgens Falcon was hy nie iemand wat geboelie sou kon word om iets soos die swak gehalte van die Gupta-steenkool te aanvaar nie.

“Mark het meer van steenkool en die gebruik daarvan vir kragopwekking as enige van die mense in Eskom se top- en seniorbestuursvlakke geweet. Hy was ’n korporatiewe spesialis: verbranding, wat net aan die uitvoerende hoof gerapporteer het en het 29 jaar se steenkoolnavorsing agter die rug gehad. Gegewe sy standpunt, sterk geloof in die waarheid, ervaring en vermoë, was hy ’n ‘struikelblok’ wat die ‘boelies’ nie kon afbreek nie, maar hulle het hard genoeg probeer!”

Wat was sy bydrae tot die bedryf?

Al die nuwe gebiede van navorsing in steenkoolkragopwekking in Suid-Afrika is sedert die laat 1980’s deur Van der Riet aangevoor, sê Falcon. Hy het nuwe toetsgeriewe vir steenkoolverbranding in Rosherville gevestig, en het die resultate vir toepassing in al die verskillende stoomketels in Eskom se kragstasies benut.

Hy het hierdeur diepte-kennis oor die prestasie en probleme van al die verskillende soorte steenkool in Suider-Afrika opgebou, sê Falcon.

Hy het nuwe kragopwekkingstegnologie vanuit ’n praktiese en ekonomiese oogpunt ondersoek en getoets. Dit sluit sirkulerende vloeibed-tegnologie in en hy het dit by minstens een van Eskom se ou stoomketels suksesvol getoets. Maar die Eskom-bestuur van die tyd het nie belang gestel nie.

Ironies genoeg word dié tegnologie tans wêreldwyd in die meeste ander lande se steenkoolkragstasies bekend gestel of gebruik.

Hy was ook die breinkrag agter die ondergrondse steenkoolvergassingsprojek in die Majuba-kragstasie, wat een van die suksesvolste gidsprojekte in sy soort was. Hy is op grond van sy ervaring genooi om by kragstasies in Ierland, die Verre Ooste en elders advies te gee.

Hy was ’n stille reus onder internasionale spesialiste oor steenkoolkrag.

Enige lesse uit die staatskapingsdebakel by Eskom?

Met die ontsaglike druk by Eskom tydens die era van mense soos oudpres. Jacob Zuma, die Guptas, Brian Molefe, Koko en Anoj Singh sou dit uiters moeilik, gevaarlik en bykans onmoontlik wees om uit daardie outoritêre boelies se pad te bly, meen Falcon. Dit sou net moontlik wees as genoeg ervare mense ’n opponerende faksie kon vorm. Maar al die kundige mense is weg, het afgetree, is afgedank of geskors.

Blenkinsop skryf in die artikel in Biznews dat Ramaphosa Van der Riet se bydrae tot Eskom en Suid-Afrika behoort te erken. Hy glo die destydse Eskom-direksie en senior bestuurders by Eskom wat staatskaping toegelaat het, is “regstreeks of onregstreeks aandadig” aan Van der Riet se dood. Hy bestempel hom as ’n held in die stryd teen staatskaping.

Lees Blenkinsop se oorspronklike artikel hier.

Meer oor:  Eskom  |  Guptas  |  Staatskaping  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.