Sasol het R8,5 miljard so te sê in die bank nadat onderhandelinge vir ’n groot transaksie suksesvol was.

Sasol se aanleg in Secunda. Foto: Bloomberg
Sasol verkoop sy 16 lugskeidingseenhede in Secunda aan Air Liquide. Laasgenoemde besit reeds ’n 17de eenheid op dieselfde perseel en staan Sasol al sedert 1979 met sy eenhede by.
Die lugskeidingseenhede kan tot 42 000 ton suurstof per dag produseer, wat aan Sasol se brandstof- en chemikalieë-aanlegte in Secunda verskaf word. Ander gasse word ook geproduseer wat Sasol inspan of ekstern verkoop.
Werknemers van Sasol wat by die lugskeidingseenhede werk, word nou werknemers van Air Liquide, wat met ’n aanvanklike kontrak van 15 jaar steeds Sasol se verskaffer sal wees.
Air Liquide – met nagenoeg 67 000 werknemers – is ’n wêreldleier op die gebied van gas en is in 80 lande bedrywig.
Benewens die geld wat Sasol verdien, sê hy dat hy oor die volgende 15 jaar tussen R8 miljard en R12 miljard sou moes bestee om die aanleg groener te maak. Een van die voordele van die Air Liquide-transaksie is ’n omvattende plan om die vrystelling van kweekhuisgasse met die produksie van suurstof te verminder.
Mededingingsowerhede en die Reserwebank moet die transaksie nog goedkeur. Sasol voorsien dat die transaksie nie voor Desember voltrek sal word nie.
Sasol gaan die geld gebruik om van sy skuld af te betaal. Hy sal ook tot R2,3 miljard se belasting moet opdok.
Sasol is besig om verskeie van sy bates te verkoop in ’n poging om verliese om te keer in ’n mark waar olie minder as $45 per vat kos.
Hy het reeds vanjaar sy belang in die gas-tot-vloeistof-aanleg Escravos in Nigerië aan Chevron verkoop en het 51% van sy belang in ’n nuwe plofstofonderneming aan sy vennoot, Enaex, verkoop.
Sasol is ook besig om sy aandele in die pypleidingsfirma Rompco en die gasaangedrewe kragstasie Central Termica de Ressano Garcia te verkoop. Albei is in Mosambiek.
Gesprekke oor moontlike vennote in sy Lake Charles-projek in die VSA “is ver gevorderd”.