Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Verwarmers: Bly só veilig dié winter

Wanneer die temperatuur daal en die winter sy kloue inslaan, gryp ons na ons verwarmers.

Só lyk ’n onveilige verwarmingstoestel. Foto: Verskaf

Miranda Moahlodi, Eskom se bestuurder van gesondheid en veiligheid, waarsku egter dat verbruikers versigtig moet wees omdat baie brande in huise deur onveilige toestelle veroorsaak word. Dit is dus belangrik dat enige verwarmer, hetsy dit met elektrisiteit, gas, brandstof, hout of steenkool werk, veilig gebruik word.

Só gebruik jy verwarmers en kaggels

1. Laat ’n professionele persoon minstens een keer deur die loop van die jaar alle gasverwarmers nagaan. Gasverwarmers wat lek of selfs klein krakies het, kan koolstofmonoksied in die huis vrylaat of selfs brande veroorsaak.

2. Kaggels moet elke jaar skoongemaak en geïnspekteer word. Moenie vlambare materiaal soos rommel en karton in kaggels brand nie en wees veral versigtig vir enige materiaal wat chemikalieë, soos plastiek, bevat wat giftige gasse in die huis kan vrystel.

3. Moet nooit ’n gas- of elektriese stoof of oond gebruik om huise te verwarm nie. Dit hou ’n brandgevaar in en kan ook gevaarlike gasse soos koolstofmonoksied vrystel.

4. Dit is ’n goeie plan om jou huis se bedrading deur ’n elektrisiën te laat nagaan en te kyk vir enige foutiewe bedrading wat elektriese skokke of brande kan veroorsaak.

5. Hou toesig oor kinders en troeteldiere wanneer hulle naby verwarmers is.

6. Draagbare verwarmers moenie sonder toesig gebruik word nie en moet liefs afgeskakel word as niemand in die vertrek is nie en beslis wanneer die huis leeg is.

7. Hou enige draagbare verwarmer of toestel minstens een meter ver van alles wat kan vlamvat, soos gordyne, papiere, komberse en meubels. Moet dit ook nie plaas op plekke in ’n vertrek plaas waar baie beweging is nie.

10 Veiligheidswenke

1. Leer kinders oor die veilige gebruike en gevare van elektriese of gasverwarmers. Hulle moet dit eerder nie self gebruik nie.

2. Waar ’n verwarmingstoestel ’n oop vlam gebruik, moet daar geen stof of vuilgoed in of aan die verwarmer wees nie.

3. Lees die vervaardiger se aanwysings en waarskuwingsetikette deeglik voordat enige toestel gebruik word.

4. Ondersoek verwarmers voor elke gebruik vir gebreekte of gekraakte proppe en los verbindings. Moenie enige toestelle aanskakel waarvan die elektriese koorde verslete, stukkend of beskadig is nie.

5. Gebruik ’n muurprop om ’n draagbare verwarmer aan te skakel. Moenie verlengingskoorde gebruik nie – dit kan oorverhit en brande veroorsaak. Moet ook nie enige ander elektriese toestelle in dieselfde muurprop indruk nie.

6. Elektriese verwarmers moet uit nat of klam plekke soos badkamers gehou word. Water kan brande en elektriese skokke veroorsaak.

7. Moet nooit verwarmers op kaste, tafels, meubels of matte plaas nie, want as dit dalk oorverhit, kan brande ontstaan. Moet dit ook nie inspan om nat wasgoed droog te maak nie.

8. Moet nooit vlambare vloeistowwe in plekke gebruik of plaas waar verwarmers aangeskakel is nie.

9. Enige verwarmers wat brandstof gebruik om hitte te gee, moet nooit in ’n toe vertrek sonder ventilasie gebruik word nie. Sorg dat vensters en deure oop is, al is dit net gedeeltelik, sodat vars lug steeds die vertrek kan inkom en koolstofdioksied kan ontsnap.

10. Probeer om eerder nie ’n verwarmer wat met gas of keroseen hitte gee te gebruik in ’n vertrek waar min ruimte is nie. As so ’n toestel omval, kan die resultate rampspoedig wees.

Meer oor:  Eskom  |  Kraggebruik  |  Verwarmers  |  Wenke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.