Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Virustoetse kan Sasol R11,2 m. kos

Sasol se bestuur by sy Secunda-aanleg het ingestem om die koste te dek van alle Sasol-werknemers se koronavirustoetse wat sy komende instandhoudingsprojek betref.

’n Blik op Sasol se aanleg by Secunda in Mpumalanga. Foto: Sasol

Die vakbond Solidariteit het dié nuus Donderdagmiddag bekend gemaak ná taai onderhandelings die oggend tussen vakbondverteenwoordigers en die Sasol-bestuur.

Dit kan Sasol altesaam amper R11,2 miljoen kos om sy sowat 8 000 werkers elke sewe dae te laat toets vir die duur van die instandhoudingswerk wat in September by die Secunda-aanleg gedoen gaan word.

Daar gaan na verwagting byna 20 000 werkers by die aanleg wees vir die instandhouding, want benewens Sasol se sowat 8 000 werkers moet daar 11 000 werkers van kontrakteurs op die perseel wees vir die projek. Dié werkgewers moet vir die koste van hul eie werkers se toetse pa staan. 

Sasol het vroeër aangedui hy is bereid om ’n antigeentoets wat sowat R350 kos te aanvaar, pleks van die volledige PCR-toets, wat duurder is op R850.

Dít kom nadat Sasol die komende instandhoudingsprojek as ’n hoërisiko-gebeurtenis geïdentifiseer het. Hy sou van werkers kon vereis om ingeënt te word voordat hulle die perseel betree, óf ’n negatiewe koronavirustoets te toon wat nie ouer as sewe dae is nie.

Die instandhouding sal na verwagting van 30 Augustus tot einde September – net meer as vier weke – duur, wat sou beteken werkers wat hulle nie wil laat inent of wat nie betyds ingeënt is nie, vier keer ’n nuwe negatiewe toetsuitslag moet kan toon.

“Ons is verheug daaroor dat Sasol, ná robuuste onderhandeling, daartoe ingestem het om die koste van alle Sasol-personeel se toetse te dra,” het Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris vir mynbou, landbou en chemie van Solidariteit, gesê.

Volgens Solidariteit is baie mense steeds onseker oor inenting en dit behoort gerespekteer te word. “Diskriminasie oor inenting is onaanvaarbaar en sal die huiwering daaroor net verhoog. Dit sal ook die doeltreffendheid van enige inentingsprogram verlaag,” meen Visser.

Daar kan nie van werkers verwag word om die spit af te byt vir die staat se gesloer met die inentingsveldtog nie, sê hy.

Sasol het vroeër Donderdag bevestig hy sal die goedkoper antigeentoets as ’n geldige toets aanvaar en sou moontlikhede ondersoek om werkers met die koste daarvan tegemoet te kom.

Solidariteit het intussen wel sy steun vir inentings beklemtoon en gesê hoewel dit elkeen se keuse is, sal hy steeds aanbeveel dat mense wat kan, die inenting teen Covid-19 moet kry.

Navorsing, ook dié van die Solidariteit-navorsingsinstituut, wys die inentings is doeltreffend en veilig en daarom moedig die vakbond dit aan.

Dit blyk ’n deel van die werkerskorps en gemeenskap van Secunda is erg gekant teen inenting en oorweeg regstappe teen Sasol, en het ook by die Menseregtekommissie oor gedwonge inenting gaan kla.

Meer oor:  Solidariteit  |  Sasol  |  Secunda  |  Inenting  |  Koronavirus  |  Gedwonge Inentings  |  Pandemie  |  Verpligte Inenting  |  Covid-19  |  Sasol-Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.