Die vraag na brandstof in Suid-Afrika het byna weer herstel na die vlakke van voor die koronavirus-pandemie, as Sasol se eie verkope ’n maatstaf moet wees.

Suid-Afrikaners verbruik weer amper normale vlakke van brandstof. Foto: Argief
Die vraag na diesel is byna by die vlakke van voor die pandemie, en die petrolvraag is tussen 90% en 95% daarvan, het Sasol Maandag bekend gemaak.
Maar uiteraard is die vraag na vliegtuigbrandstof steeds onder druk en sal dit minstens vir die volgende 12 maande nog laer as normaal wees, het Sasol met die bekendmaking van sy halfjaarsyfers tot einde Desember gesê.
Oor die algemeen was brandstofverkope oor die halfjaartydperk 11% laer as ’n jaar gelede.
Die vraag na brandstof herstel egter wel sterk nadat die inperkings gelig is. In Desember het Sasol sy hoogste verkope van die halfjaar behaal, ondanks die tweede vlaag van die pandemie.
Sasol se produksie by sy Natref-raffinadery was 12% laer as die vorige tydperk, veral weens die laer vraag na vliegtuigbrandstof. Sasol bedryf Natref, ’n konvensionele olieraffinadery, saam met die Franse oliemaatskappy Total.
Sasol sê hy het die vooruitgeskatte produksie by Natref verlaag, maar sy sintetiesebrandstofaanleg in Secunda, wat brandstof uit steenkool en aardgas vervaardig, sal voluit produseer om voordeel te trek uit die beter winsmarges.
Paul Victor, finansiële hoof van Sasol, sê die groep verwag steeds dat sy Secunda-aanleg nog tot 2050 sal produseer, want steenkool sal steeds ’n belangrike element in die energiemengsel wees.
Sasol het teen einde Desember R33 miljard behaal uit die verkoop van sy bates. Die geld is gebruik om skuld terug te betaal.
Wag met dividend
Victor wou nie aan ontleders sê wanneer Sasol sal besluit of hy weer ’n dividend sal verklaar nie. Daar is reeds planne om nie teen die einde van die lopende boekjaar ’n dividend te verklaar nie. Sasol moet eers tevrede wees dat sy balansstaat genoegsaam herstel het sodat hy gereed is om enige toekomstige skokke te kan absorbeer.