Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Vraag na olie bly laag weens nuwe Covid-19-vlaag

Twee van die wêreld se grootste olieprodusente, Saoedi-Arabië en Rusland, gaan na verwagting voor die einde van die jaar weer vassit oor hoe die oliemark gemanipuleer kan word.

’n Gasvlam by ’n olieraffinadery van Shell in Deer Park, Texas. Foto: AP

Die vraag na olie bly gedemp, wat die prys afdruk. Die oliekartel van 24 lande wat gesamentlik bekend staan as die Organisasie van Petroleumuitvoerlande Plus (Opul+) het hul produksie in Mei met altesame 9,7 miljoen vate per dag verminder ondanks onderlinge verskille.

Julian Lee, ’n oliestrateeg vir die nuusdiens Bloomberg, reken die volgende ronde onderhandelinge in Opul+ gaan glad nie eenvoudig wees nie.

Lee wys daarop dat die vraag na olie gedemp bly weens die kombinasie van twee faktore.

Aan die een kant is daar hernude inperkingsmaatreëls in Europa – waar baie lande ’n ernstige tweede vlaag van die Covid-19-pandemie beleef – met baie mense wat weer van die huis af werk, en die herinstelling van strenger perke op reis en sosiale byeenkomste.

Aan die ander kant kom baie lande se hulppakkette vir ondernemings einde September tot ’n einde. Dit kan meer ondernemings laat vou en mense werkloos laat, wat die vraag na olie verder verlaag.

Die laer vraag en gevolglike laer pryse is natuurlik goeie nuus vir Suid-Afrikaanse motoriste en ondernemings, wat teen die einde van die week sal weet hoe groot die daling in Oktober se brandstofpryse sal wees. Teen Vrydag was die oorverhaling – dus daling indien pryse op dié dag vasgestel sou word – reeds 35c per liter vir 95-oktaan-petrol en 91c per liter vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05%.

LEES OOK: Petrolprys: Oktober bring (baie) goeie nuus

Dis nie vanselfsprekend dat Opul+ produksie verder gaan verlaag nie. Lee sê daar was ’n skerp daling in die produksie van olie en gas in die VSA se skalievelde. Dit kan die ruimte skep vir die mededingende groep lande om hul produksieperke op te hef.

Daar is ook lande soos Libië – waar daar tans ’n skietstilstand in die burgeroorlog is – wat produksie wil verhoog in weerwil van die perke waaraan die land onderhewig is. Libië se produksie het amper verdriedubbel tot 260 000 vate per dag sedert verlede week, toe ’n blokkade van olie-aanlegte beëindig is, berig Bloomberg.

Die huidige plan is dat Opul+-perke in Januarie met 2 miljoen vate per dag verminder gaan word.

Vir Suid-Afrikaners word ’n ingewikkelde situasie verder gekompliseer deur die rand-dollar-wisselkoers. Die rand het die afgelope paar dae weer tot meer as R17 per dollar verswak.

Meer oor:  Saoedi-Arabië  |  Rusland  |  Inperking  |  Covid-19  |  Opul  |  Staat Van Inperking  |  Olieprys  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Olie  |  Petrolprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.