Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Vraag na olie droog feitlik op

Die lae olieprys wat vir Suid-Afrikaanse motoriste ’n verlaging in die brandstofprys in Mei kan beteken, kan ook vir die regering ’n kans bied om die brandstofheffing te verhoog en so sy fiskale stimuluspakket van R500 miljard teen Covid-19 te help finansier.

Olietenkskepe aan die kus van Long Beach, Kalifornië. Meer as 30 skepe is nou basies drywende bergingsplek vir olie waarvoor daar geen vraag is nie omdat ekonomieë wêreldwyd feitlik tot stilstand gekom het weens Covid-19. Foto: Bloomberg

Só bespiegel Izak Odendaal van Old Mutual Wealth met die prys van Brent-ruolie op sowat $22 per vat. ’n Maand gelede het dit nog teen $27 per vat verhandel.

Die moontlike inkomste uit ’n hoër brandstofheffing sal egter afhang van hoeveel verbruikers kan ry en hoeveel brandstof hulle koop, sê hy.

Tito Mboweni, minister van finansies, sal na verwagting binnekort ’n nuwe begroting aankondig om te wys waar die geld vir die stimuluspakket vandaan sal kom en hoe dit bestee sal word.

Odendaal sê die lae olieprys is goeie nuus vir Suid-Afrika as ’n olie-invoerder omdat ’n laer brandstofprys laer inflasie beteken, wat die Reserwebank dus nóg ruimte gee om rentekoerse te verlaag.

Oliepryse is sedert begin vanjaar onder druk en was die laaste twee weke baie wisselvallig weens onsekerheid oor die uitwerking van die Covid-19-pandemie op ekonomieë wêreldwyd.

Ekonomieë wat feitlik tot stilstand kom, het die vraag na olie feitlik laat opdroog en selfs voor Covid-19 was daar ’n ooraanbod wat oliepryse onderdruk het, sê Odendaal.

Syfers van die Sentrale Energiefonds toon tans ’n oorverhaling van R1,75 per liter op 95-oktaan-petrol (in Gauteng).

Motoriste kan in Mei vir ’n tweede agtereenvolgende maand ’n aansienlike verlaging in die brandstofprys verwag, sê Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec, in ’n nota Donderdag.

Die brandstofheffing is op 1 April met 25c per liter (16c in die algemene brandstofheffing en 9c in die heffing vir die Padongelukkefonds) verhoog vir die nuwe boekjaar.

In April het die prys van 95-oktaan in Gauteng met R1,88 per liter gedaal en dié van 93-oktaan met R1,76 danksy die laer olieprys. Die brandstofheffing op petrol maak tans R3,77 per liter van die prys van R13,96 per liter (95-oktaan) uit.

Odendaal sê ná die sluipmoord op die Iranse militêre leier Kasem Soleimani in Januarie het die prys van olie kortstondig opgeskiet soos wat in oorlogsituasies gebeur, maar toe weer teruggeval weens ’n strukturele ooraanbod van olie in die wêreld.

Olie het dié week vir hoofopskrifte gesorg toe die kontrakpryse van West Texas Intermediate (WTI)-ruolie vir lewering in Mei tot onder nul gedaal het. WTI is die verwysingsprys vir Amerikaanse brandstof. Suid-Afrika gebruik die prys van Brent-ruolie as verwysing, sê Bishop. Suid-Afrika voer olie in van Saoedi-Arabië, Nigerië, Angola, Iran en ander lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Bloomberg berig die vraag na brandstof in Amerika het met vier miljoen vate per dag afgeneem weens inperkingsmaatreëls.

Odendaal verduidelik kragtens WTI-termynkontrakte moet die houer van die kontrak die olie fisiek ontvang wanneer die kontrak gesluit word. Die olie word in Cush­ing in die Amerikaanse deelstaat Oklahoma gehou wat ’n groot handelsnode vir ruolie is.

Die houers van die Mei-kontrakte wou die olie egter nie op 21 April ontvang nie, want daar is tans geen vraag nie, bergingsplek raak min en is dus ook duur. Kontrakhouers het dus betaal om nie die olie te ontvang nie.

Bloomberg berig olietenkskepe wat genoeg ruolie kan dra om in 20% van die wêreldverbruik te voorsien, lê voor anker aan die kus van Kalifornië omdat hulle weens die swak vraag na olie nêrens het om heen te gaan nie.

Meer as 30 skepe is nou basies drywende bergingsplek vir die olie. Dié meer as 20 miljoen vate ruolie is die grootste volume ruolie ooit wat op een gegewe tydstip aan die Amerikaanse weskus in olietenkers dryf, sê Kpler SAS, wat die verkeer van olietenkskepe monitor. Van die tenkskepe lê al sewe dae in die omgewing.

Volgens Odendaal is die prys op die WTI-kontrakte vir later in die jaar steeds positief.

Intussen beplan olieprodusente wêreldwyd om produksie van 1 Mei in te kort om die prysinsinking te keer.

Meer oor:  Olieprys  |  Koronavirus  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brent-Ruolie  |  Diesel  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.