Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Vrae duur voort oor Koeberg, aardbewings

Eskom is besig om die inligting wat bestaan oor die gevaar van aardbewings vir die Koeberg-kernkragstasie by te werk.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Koeberg-kernkragsentrale moet glo aardbewings van tot sewe op die Richterskaal kan behartig. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Groep wat bekend staan as die Koeberg Alert-alliansie (KAA) het sy kommer uitgespreek oor die “onbetroubare” metodiek wat Eskom gebruik om te bepaal watter aardbewing-gevaar daar vir Koeberg bestaan.

Die groep sê meer openbaarmaking daaroor is nodig nadat vier beduidende aardbewings in 2020 in die Kaapstad-omgewing plaasgevind het.

Volgens Peter Becker van KAA is meer openbaarmaking ook dringend nodig omdat die Nasionale Kernreguleerder (NNR) vanjaar oor Eskom se aansoek gaan besluit om Koeberg se leeftyd te verleng.

“Hierdie besluit sal deels ingelig word deur die seismiese risiko vir die kragstasie.”

Koeberg is in die laat 1970’s gebou om teoreties ’n aardbewing van tot 7 op die Richterskaal te weerstaan, sê Becker.

Die beskerming teen aardbewing is in sy fondament in die vorm van ’n “beton-vlot” wat op neopreen-rubberkussings rus, ingebou.

Die seismiese studie is ingedien as deel van ’n amptelike lisensieaansoek en daar is geen goeie rede om dit van die publiek te weerhou nie.
Peter Becker van die Koeberg Alert-alliansie

Volgens die alliansie het latere ontwerpe vir soortgelyke kragstasies horisontale “faalvrye buffers” ingesluit maar dit is nie by Koeberg aangebring nie.

“Die rubberkussings is nou al 44 jaar in ’n mariene omgewing en hul huidige toestand is onduidelik.”

Volgens Becker het die seismiese risiko-studies wat voorheen vir Koeberg openbaar gemaak is van die probabilistiese seismiese risiko-ontleding (PSHA)- metodiek gebruik gemaak. Hy sê dit is “al lank bekend dat hierdie metode onbetroubare ramings van seismiese risiko’s oplewer.”

Volgens die alliansie probeer hy die jongste seismiese risiko-studie wat oor Koeberg uitgevoer is in die hande kry, maar kon hy nog nie daarin slaag nie.

Ingevolge regulasies moes ’n nuwe seismiese risiko-studie met ’n aansoek vir ’n terrein-lisensie gepaardgegaan het wat in 2016 by die NNR ingedien is vir Koeberg se perseel.

Die KAA het in November 2017 ’n aansoek ingevolge die bevordering van toegang tot inligting (Paia) ingedien om toegang tot die inligting te kry, maar dit is deur die NNR geweier.

Die NNR het glo aangevoer dit is om ’n derde party se inligting te beskerm, wat vermoedelik Eskom is.

“Die kernreguleerder het die mandaat om mense en die omgewing te beskerm, nie inligting nie,” sê Becker.

“Die seismiese studie is ingedien as deel van ’n amptelike lisensieaansoek en daar is geen goeie rede om dit van die publiek te weerhou nie. As dit geheim gehou word, laat dit vrae ontstaan oor wat gevind is.”

Daarna ná ’n meer onlangse Paia-aansoek vir dieselfde dokument, het Eskom geantwoord dat daar nie so studie in 2017 voltooi is nie.

grafika

Nuwe metodologie werk goed, sê Eskom

Eskom het by navraag hoekom die jongste inligting nie publiek gemaak word nie gesê hy is besig om die seismiese risiko-studies vir Koeberg “op te dateer”.

Eskom is gevra of dit korrek is dat die PSHA-metodologie voorheen gebruik is en dat dit onbetroubare inligting verskaf.

Daarop is geantwoord Eskom is vol vertroue dat die nuwe metodologie wat gebruik is om die seismiese gevaar by Thyspunt in die Oos-Kaap naby Jeffreysbaai te bepaal, goed gewerk het.

Dit is metodologie wat in Amerika ontwikkel is en word deur die Amerikaanse Kommissie vir Kernkragbeheer vir nuwe konstruksies vereis.

“Dit word beskou as een van die omvattendste en strengste benaderings wat gevolg kan word en betrek ’n groot aantal internasionale kundiges.”

Die metodologie wat gebruik is, maak voorsiening daarvoor dat skaars, ekstreme gebeure, in die berekeninge oor die gevaar in ag geneem word.

Eskom sê die data wat daar gebruik is en die kennis wat verkry is met die Thyspunt-projek is toeganklik vir die wyer wetenskaplike gemeenskap en dat hy vol vertroue is dat dit bygedra het tot die begrip oor geologie plaaslik en in die streek, asook die gevaar wat seismiese gebeure kan meebring.

Eskom het ’n paar jaar gelede Thyspunt as een van die plekke geïdentifiseer waar nog ’n kernkragstasie gebou gaan word.

Eskom sê die kennis wat met dié studie by Thyspunt opgedoen is, word toegepas in die proses wat onderweg is om die seismiese risiko vir die Koeberg-terrein op te dateer.

“Sodra die finale resultate beskikbaar is, sal Eskom bereid wees om die uitslag van dieselfde studies te deel, soortgelyk aan wat vir die Thyspunt-terrein gedoen is.

“Die studies wat gedoen is vir Thyspunt is vrylik op die internet beskikbaar.”

Volgens Eskom het hy in 2016 aansoek vir terrein-lisensies gedoen by die NNR vir Thyspunt en Duynefontein (waar Koeberg geleë is).

“Dit is gedoen om dié persele se geskiktheid te bepaal vir toekomstige kernkragstasies. Eskom het Thyspunt as die voorkeurterrein beskou en het as sodanig die omvattende seismiese risiko-ontleding daarop uitgevoer.

“Die seismiese studies ter ondersteuning vir die Duynefontein-terrein (vir toekomstige eenhede en die twee Koeberg-eenhede) is nog nie voltooi nie en die perseellisensie kan nie uitgereik word, voordat dit voltooi is nie.”

Eskom sê die seismiese studies wat oorspronklik vir Koeberg uitgevoer word, word ook opdateer om die aansoek te regverdig om sy bedryfslisensie te verleng.

“Die studies sal wanneer dit voltooi is ook gebruik word ter ondersteuning van die aansoek vir ’n terrein-lisensie vir bykomende eenhede by Duynefontein.”

Ontmantelingsplan afwesig

Die KAA voer ook aan Eskom beskik klaarblyklik nie oor ’n ontmantelingsplan vir Koeberg nie.

kerrn
Die son sak agter die Koeberg-kragsentrale naby Kaapstad. Het Eskom ’n behoorlike plan as Koeberg die einde van sy leeftyd bereik?

Koeberg se lisensie spesifiseer ’n ontmantelingsplan moet “so vroeg moontlik in die lewensiklus” van ’n kernkragstasie by die NRR ingedien word en herbesoek en opdateer word indien nodig.

’n Ontmantelingsplan behels hoe die kragstasie uit gebruik geneem en gesluit gaan word.

Die rede hoekom die alliansie dit sê is omdat ’n Paia-aansoek in Augustus 2020 ingedien is om dié plan te bekom en ’n strategie oor die ontmanteling is aan hom verskaf.

“Eskom erken dat hy wel ’n Paia-versoek ontvang het vir die jongste plan vir ontmanteling in Augustus, en in reaksie hierop is die jongste strategie verskaf.

“Maar wat nie genoem word nie, is dat Eskom verduidelik het hoekom die strategie verskaf is, en dat die ontmantelingsplan wel ’n paar jaar gelede aan die alliansie verskaf is.”

Eskom voer aan hy het die ontmantelingsplan (wat gedateer is 2014) onlangs opgedateer en dit vir goedkeuring aan die NNR verskaf.

“Sodra dit goedgekeur is, sal Eskom in die posisie wees om dit te deel indien dit versoek word, soos in 2013 gedoen is.”

Meer oor:  Koeberg Alert-Alliansie  |  Eskom  |  Kaa  |  Peter Becker  |  Koeberg  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Aardbewing  |  Kernkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.