Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Vulstasies sukkel oor inperking, diefstal

Die feit dat soveel mense tuis werk, gaan na verwagting nog lank ’n negatiewe impak op vulstasies hê.

In ’n peiling deur die Petroleum-kleinhandelaarsvereniging (Sapra) het meer as 60% van die respondente gesê hul inkomste uit brandstofverkope was in Maart 2020 tussen 10% en 20% laer as in Maart 2019.

Voorraadprobleme, diefstal, die impak van mense wat va die huis af werk, oneerlike mededingers - daar is baie probleme by vulstasies.

Teen September verlede jaar was 70% van die respondente se inkomste steeds minder as ’n jaar tevore, ondanks die slapper inperkingsmaatreëls.

Net minder as 40% van die respondente het aangedui hulle sukkel om hul bokoste te dek of is reeds agterstallig. Net 19% was geensins bekommerd oor of hulle die betalings sal kan bybring nie.

Voorraad-probleme

Sowat 80% van die respondente het ’n geriefswinkel by hul vulstasies en van dié eienaars het meer as 55% gesê hul dienste benewens brandstofverkope – en dus ook hul inkomste – is sleg geraak weens ontwrigting in die verskaffingsketting.

k

Meer as 30% van die respondente het in dié peiling einde November gesê hulle sukkel te midde van die inperkingsmaatreëls met brandstofvoorraad, veral 95-oktaan-petrol en diesel. Van die vulstasie-eienaars het 30 gevalle genoem sedert Maart 2020 waar hulle met voorraad gesukkel het.

Benewens dié hoofbrekens het gelisensieerde brandstof-kleinhandelaars ook te kampe met mededingers wat reuse-afslag op dieselpryse bied, lampolie en ander produkte met diesel meng en dit verswak, asook 93-oktaan-petrol teen 95-oktaan-pryse aan niksvermoedende motoriste verkoop.

Vishal Premlall, nasionale direkteur van Sapra, sê net meer as die helfte van die respondente het gesê onwettige brandstofverkope raak hul ondernemings negatief. In KwaZulu-Natal raak dit 83% van die respondente.

“Daar is te veel handelaars wat sonder geldige lisensies handel dryf of lisensievoorwaardes omseil. Dit lei ook daartoe dat meer petroleumprodukte onwettig in- en uitgevoer word.”

Diefstal

Business Insider berig Transnet het in die 2020-’21-geldjaar en ten tyde van verskeie vlakke van die inperking skade van R102 miljoen gely weens brandstofdiefstal uit sy pypleiding.

In die lig van die negatiewe gevolge van onwettige optrede in die brandstofbedryf verwelkom Sapra die forum vir die nakoming van die Wet op Petroleumprodukte wat einde verlede jaar onder leiding van die departement van minerale bronne en energie op die been gebring is.

Dit is ’n pro-aktiewe poging deur die regering om onwettige bedrywighede in die brandstofhandel te bestry deur alle rolspelers, asook die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die polisie, te betrek, sê Sapra.

Volgens Premlall is 46 sake van beweerde onwettige handel in petroleumprodukte wat op hul fluitjieblaser-platform (www.sapra.co.za/whistleblower) aangemeld is, al aan die nakomingsforum se inspektoraat oorhandig.

k

In sekere gevalle is die oortreders gestraf en ander is opdrag gegee om hul bedrywighede te staak, sê hy.

Gosetseone Leketi, voorsitter van die forum, het vroeër in ’n verklaring gesê sedert die forum sy werk in November begin het, is goeie vordering gemaak.

“Voorheen sou ’n inspekteur ’n bevel uitreik teen diegene wat die wet omseil, maar dit is dikwels geïgnoreer. Nou reageer oortreders positief op ingrypings, luister na die inspekteurs en doen die regte ding.”

Sy glo die samewerking tussen rolspelers, asook die SAID en polisie se betrokkenheid, maak ’n groot verskil.

Ander probleme:

  • In die peiling kla sowat 50% van die respondente oor breë swartbemagtigingsvereistes, maar volgens Sapra is meer diepte-inligting nodig om die oënskynlik negatiewe sienings te verstaan.
  • Voorts besorg pryse hoofbrekens aan 39% van petroleum-kleinhandelaars en regulatoriese kwessies kwel 33%.
  • Vir 31% is instandhouding van toerusting ’n bron van kommer. Dít kan volgens Premlall in die huidige ekonomiese klimaat vererger, omdat sekere vulstasie-eienaars reeds sukkel om hul bokoste te dek.
Meer oor:  Petrol  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.