Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Wankelende Eskom kry nóg ’n baas buiten De Ruyter
pylons,eskom,electricity
Eskom gaan nog 'n nuwe baas kry.

Die wankelende Eskom kry nóg ’n baas – dié keer ’n “hoof-regrukbeampte”.

Dit is nou bo en behalwe die aangewese uitvoerende groephoof, André de Ruyter, die hoof-herstruktureringsbeampte, Freeman Nomvalo, en die operasionele hoof, Jan Oberholzer.

Die departement van openbare ondernemings het dié nuwe pos aan Rapport bevestig.

Maar Eskom kon nie die afgelope week vrae beantwoord oor wat die “hoof-regrukbeampte” gaan doen en hoe die verantwoordelikhede onder vier top-base verdeel gaan word nie.

’n Woordvoerder het gesê die besonderhede sal in die volgende weke uitgepluis word.

De Ruyter sal in Januarie minstens van die leisels by Eskom oorneem.

Dis onduidelik of die regruk-hoof aan De Ruyter gaan rapporteer en wat De Ruyter se rol in die regruk-poging gaan wees.

“Ons kyk na verskillende opsies oor hoe ons onsself organiseer om die regrukstrategie en hervormings tot uitvoer te bring,” het die woordvoerder gesê.

Peter Attard Montalto, Intellidex se hoof van kapitaalmarkbeleggings, waarsku teen te veel base wat óf oor mekaar kan val, of bloot stoele volsit sonder enige werklike mag.

Hy sê die Eskom-padkaart gee ’n goeie aanduiding van die breë rigting, maar een van die sleutelprobleme is dat daar 50 mense gevind moet word om verskeie sleutelrolle in onder meer die projekkantoor te vul om die plan uit te voer.

“Dit is onduidelik waar al die mense vandaan gaan kom wat bereid is om die werk te doen en hoe dit gedoen kan word sonder om te veel stuurmanne te hê.”

Die hoof-herstruktureringsbeampte is in Julie aangestel nadat Tito Mboweni, minister van finansies, dié aanstelling as voorwaarde gestel het vir R23 miljard se onmiddellike regeringshulp wat hy in sy Februarie-begroting aangekondig het.

Mboweni het toe gesê die persoon sal as’t ware die rol van ’n administrateur vervul.

Nomvalo is aangestel in dié pos saam met sy heeltydse pos as bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica).

Sipho Pityana, president van die sakekamer Busa, het Nomvalo se aanstelling net ná die aankondiging as “teleurstellend” beskryf.

Nomvalo se aanstelling was aanvanklik ook net vir ’n tydperk van ses maande om ’n herstruktureringskantoor op die been te bring.

Die Eskom-taakspan het glo aanbeveel dat hy al die aspekte van die herstrukturering en ontbondeling van Eskom moet aanvoer, maar uiteindelik blyk sy mandaat beperk te wees tot die herstrukturering van Eskom se skuld.

Hy was sedertdien tjoepstil en Eskom het nie vandeesweek Rapport se vrae oor wat hy al uitgerig het, beantwoord nie.

Die aanstelling van De Ruyter as uitvoerende hoof om Jabu Mabuza, wat tans raadsvoorsitter én uitvoerende hoof is, te vervang, is ook louwarm ontvang.

Dit is hoofsaaklik omdat hy geen bewese ervaring in die elektrisiteitsbedryf het nie.

eskom

Montalto het die afgelope week in ’n nota aan beleggers gesê dit is steeds onduidelik waarom De Ruyter aangestel is en waarom hy enige verandering by Eskom teweeg kan bring.

“Ten beste sal hy die verval kan bestuur as hy die ruimte gegun word om dit ordentlik te doen,” sê Montalto.

Die planne vir nóg ’n strategiese baas het aan die lig gekom toe Rapport navrae gerig het oor Eskom se regruk-padkaart wat in Oktober met groot gewag deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gepubliseer is en kort daarna stil-stil aangepas is.

Die departement het bevestig die plan is inderdaad aangepas, maar sê die veranderinge is klein wysigings om seker te maak dat hul boodskap aan die publiek en rolspelers behoorlik belyn is.

Rapport het die bygewerkte padkaart met Gordhan se aanvanklike plan vergelyk.

Van die klemverskuiwings sluit in:

  • Die plan het gelui: “Oorweging word geskenk om twee of meer opwekkingsfiliale te skep om mededinging tussen interne maatskappye in te stel . . . Dit sal Eskom se deelname aan hernubare energie insluit.” In die bygewerkte plan is Eskom se “deelname” aan hernubare energie uitgelaat.
  • Die tydraamwerk vir die ontbondeling van Eskom se transmissie-afdeling is aangepas, maar die departement sê dit bly in wese dieselfde. Die praktiese ontbondeling moet teen Maart 2020 afgehandel wees en die regsaspekte teen Desember 2020.
  • Wat betref die oorgang van steenkool na skoner energie – iets waarteen vakbonde erg gekant is – neem die nuwe plan subtiel ’n ander houding in. Die aanvanklike plan sê “gegewe die dringendheid van die krisis” moet Eskom die inkoop kry van “sosiale vennote”. Die nuwe weergawe praat nie van instemming of onderhandelinge nie en sê Eskom sal ’n “oorweging skenk” aan ’n ooreenkoms.
Meer oor:  Eskom  |  Andre De Ruyter  |  Reddingsboei  |  Elektrisiteit  |  Kragkrisis  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.