Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Wat jy moet weet oor eie kragopwekking

Hoewel munisipaliteite nog nie elektrisiteit regstreeks van groot private kragopwekkers mag aankoop nie, kan inwoners en sakeondernemings binne sekere munisipaliteite reeds hul eie krag opwek en die krag wat hulle nie gebruik nie aan die munisipaliteit “terugverkoop”.

  

Sonkrag is aanvanklik ’n duur uitgawe, maar ’n huishouding kan dit mettertyd afbetaal uit die besparing op kragtariewe. Foto: Reuters

Waar kan jy jou eie krag opwek en daarvoor vergoed word?

Die munisipaliteite in Pretoria, Durban en Port Elizabeth laat inwoners toe om hul eie krag op te wek, en oortollige krag mag hulle met goedkeuring aan die munisipaliteit terugverkoop.

In die Wes-Kaap is daar nou al 23 munisipaliteite wat toelaat dat jy jou eie krag kan opwek en steeds aan die kragnetwerk gekoppel wees, en by 19 van hulle is daar Nersa-goedgekeurde terugvoertariewe. Dit verwys na die verkoop van jou oortollige elektrisiteit aan die munisipaliteit teen ’n sekere tarief.

In sommige munisipaliteite, soos Kaapstad, is die tarief waarteen jy krag terugverkoop aan die stad minder as die tarief waarteen jy krag aankoop, maar in die geval van Beaufort-Wes is die tarief dieselfde. Elke munisipaliteit het ’n basiese heffing wat jy per dag of per maand moet betaal. As jy dus meer krag opwek as wat jy gebruik, kan jou finale kragrekening in sommige gevalle krimp tot minder as die basiese heffing.

Om te kyk wat die tariewe is in die verskillende streke, raadpleeg https://bit.ly/2ui6FhS.


Hoe kies jy ’n sonkragstelsel?

Raadpleeg ’n erkende en kundige installeerder wat ’n oudit van jou kragverbruik sal doen en volgens jou betrokke omstandighede jou sal kan adviseer wat tegnies en finansieel jou beste opsie sal wees.

Maak seker die installeerder het ’n PV Green Card, ’n gehaltebeheerprogram van die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïese Vereniging (Sapvia), en dat hy lid is van Sapvia.

Die basiese opsies is:

  • ’n Netwerkgekoppelde stelsel met terugvoer-tariewe: Dis ’n stelsel sonder batterye. Jy gebruik jou eie krag, maar as jy te min het, koop jy van die munisipaliteit, en as jy te veel het, verkoop jy dit aan die munisipaliteit.
  • ’n Netwerkgekoppelde hibriede stelsel: As jy te veel krag het, kan jy batterye laat laai of dit aan die munisipaliteit terugverkoop. As beurtkrag toeslaan kan jy dan krag van die batterye kry.
  • Netwerkgekoppelde stelsel met kragblok: Jy gebruik jou eie sonkrag, en as jy te min het koop jy van die munisipaliteit, maar as jy te veel het kan jy dit nie terugvoer na die munisipale netwerk nie.
  • Alleenstaande stelsel: Dis ’n heeltemal onafhanklike stelsel met batterye. Jy is glad nie gekoppel aan ’n eksterne kragnetwerk nie. Jy gebruik jou eie sonkrag, oortollige krag laai die batterye waaruit jy krag kry as jy te min het. Alleenstaande stelsels moet ook by die munisipaliteit geregistreer word, maar vereis nie die volledige goedkeuringsproses nie.

Die ANC het luidens berigte besluit dis wel ’n goeie idee om munisipaliteite toe te laat om elektrisiteit regstreeks van onafhanklike kragopwekkers aan te koop.

Die DA het Dinsdag die nuus verwelkom nadat dit blyk die ANC het op sy lekgotla in Pretoria die naweek in ’n verslag hierop gesinspeel.

Dit kom te midde van ’n hofsaak wat in Mei weer voorkom waarin Kaapstad die minister van energie wil dwing om die munisipaliteit toestemming te gee om regstreeks krag van private kragopwekkers te koop.

Die ANC wil ook die rompslomp opklaar waardeur sakeondernemings moet gaan om hul eie krag op te wek.

Tans moet ondernemings, soos boere wat hul eie krag wil opwek en die oortollige krag aan die kragnetwerk wil terugverkoop, ’n baie uitgerekte tegniese en administratiewe proses volg, wat insluit om by die munisipaliteit of Eskom aansoek te doen, tegniese goedkeuring te kry, asook by die nasionale energiereguleerder vir ’n kragopwekkingslisensie aansoek te doen. Klein kragaanlegte hoef nie by Nersa vir ’n lisensie aansoek te doen nie, maar moet steeds geregistreer word.

Bron: resource.capetown.gov.za

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Beurtkrag  |  Munisipaliteite  |  Krag  |  Ipp's  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.