Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Whisky, kos, karre – SA firmas word ál groener

Suid-Afrikaanse ondernemings maak hul merk as van die groenstes ter wêreld, met ’n hele paar maatskappye wat die afgelope tyd óf pryse gewen óf nuwe projekte aangekondig het wat hul “groen” status opkikker.

Distell se James Sedgwick-whiskydistilleerder in Wellington.

Die drankgroep Distell se James Sedgwick-whiskydistilleerdery in Wellington is onlangs vereer as die Volhoubare Distilleerdery van die Jaar op Whisky Magazine se jaarlikse toekenningsgeleentheid in Londen.

Die distilleerdery, produsent van Bain’s Cape Mountain Whisky, het whiskyprodusente van Skotland, Amerika, Ierland en Australië uitgestof.

James Sedgwick herwin die geelmielies wat gebruik word om sy whisky te maak. Dit word na ’n verteringsaanleg gestuur waar die graan van die afvalwater geskei word. Die graan word as dierevoer verwerk, terwyl die afvalwater deur omgekeerde osmose herwin word sodat dit weer in die stoomketels van die distilleerder gebruik kan word. Dit bring mee dat watergebruik met 35% verlaag is.

Verder word die metaangas wat in dié proses vrygestel word, as energiebron gebruik sodat die distilleerder sy steenkoolgebruik kan verlaag. Die koolsuurgas wat tydens die fermentasieproses vrygestel word, word opgevang vir gebruik in bruisdrankies.

Shoprite

Die Shoprite-groep het op sy beurt die afgelope week gespog met sy 2020-volhoubaarheidsverslag. Shoprite het ’n ooreenkoms met ’n energieverskaffer gesluit sodat ’n kwart van sy winkels binne die volgende sewe jaar onafhanklik van Eskom sal kan funksioneer. Shoprite het in die afgelope boekjaar byna 350 000 ligte in sy winkels met energiebesparende LED’s vervang wat meer as 35 000 ton se koolsuurgasvrystellings sal bespaar.

Shoprite het in November verlede jaar begin om plastiekafval in drie van sy pakhuise te herwin en dit word gebruik vir die maak van nuwe inkopiesakke.

Sowat 2 900 ton plastiekafval is al só herwin.

Emira

Die eiendomsfonds Emira spog hy het sonkragproduksie op sy eiendomme se dakke in die afgelope twee boekjare met byna agt keer vergroot.

Die sonkrag-dak van die Wonderpark-winkelsentrum in Pretoria.

In Julie 2018 het hy 736 671 kWh met drie installasies opgewek, en teen Junie vanjaar was dit 5,7 miljoen kWh by ses installasies.

Emira het tydens die koronavirusinperking nuwe sonpanele by sy geboue in Plettenbergbaai en Durban aangebring, en beplan nog drie nuwe installasies in die eerste helfte van 2021.

Hy wil sy bestaande sonkraginstallasie op die Wonderpark-winkelsentrum in Pretoria tot 3 MW uitbrei, wat daarvan een van die grootste dakgemonteerde sonkragstelsels in die land sal maak, en hoop om binne die volgende paar maande goedkeuring by die nasionale energiereguleerder hiervoor te kry.

Ford

Ford Suid-Afrika het al begin met die installasie van ’n groot sonkragaanleg by sy Silverton-fabriek in Pretoria. Dit sal terselfdertyd skadu verskaf vir werknemers se motors.

Die motorreus Ford het die afgelope week planne bekend gemaak om sy Silverton-monteeraanleg in Pretoria teen 2024 heeltemal selfvoorsienend te maak wat elektrisiteit betref.

Hy wil Emira se projek oortref en beplan ’n installasie van 13,5 MW. Die geraamde koste sal R135 miljoen wees.

Dit sal sommer ook as afdak dien vir sy parkeerterrein vir 4 200 voertuie by die aanleg.

Dit sal 30% van die aanleg se kragbehoefte lewer. Vir die res van die kragvraag wil hy ’n kombinasie van biomassa en biogas benut om aan al sy krag-, gas- en verhittingsvereistes te voldoen, het Ockert Berry, bedryfshoof van Ford Suid-Afrika, gesê.

Meer oor:  Ford  |  Shoprite  |  James Sedgwick  |  Emira  |  Distell  |  Hernieubare Energie  |  Kleinhandel  |  Motorbedryf  |  Whisky  |  Eiendom  |  Sonkrag  |  Volhoubaarheid  |  Groenkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.