Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag kos SA tot R118 mjd. in 2019 - WNNR

Beurtkrag het die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2019 waarskynlik tussen R59 miljard en R118 miljard gekos.

Sedert Eskom in 2008 vir die eerste keer beurtkrag ingestel het, het dit die land reeds tot soveel as R338 miljard gekos.

Dit is volgens ’n voorlegging deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) oor die stand van kragopwekking in die land. Die voorlegging is deur dr. Jarrad Wright en Joanne Calitz saamgestel.

Die WNNR se data toon daar is ook nie veel hoop dat die probleem binnekort opgelos gaan word nie: In 2001 was Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor sowat 94%, terwyl dit tans net 67% is.

Die energiebeskikbaarheidsfaktor dui op die verhouding van die krag wat Eskom se kragstasies oor ’n sekere tydperk opgewek het teenoor sy totale opwekkingsvermoë indien daar geen uitdiensstelling van opwekkingseenhede weens instandhouding of foute is nie.

Die WNNR sê drastiese stappe is nodig om te verseker dat Suid-Afrika in die toekoms voldoende elektrisiteit sal hê.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het in Desember gesê daar moet dringend 5 000 MW se krag gevind word sodat Eskom noodsaaklike instandhoudingswerk aan sy ou kragstasies kan doen.

LEES OOK: Dís hoekom ons terug is op fase 2-beurtkrag, sê Eskom

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het vandeesweek aan Business Insider gesê Eskom moet dringend die ruimte gegun word om instandhoudingswerk te doen.

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa in Desember gesê het daar gaan gesprekke gevoer word oor hoe en waar bykomende opwekkingsvermoë verkry kan word, is daar nog nie meer inligting hieroor bekend gemaak nie.

Die WNNR se kenners sê hulle beveel aan indien die staat wel op kort termyn bykomende krag bekom om beurtkrag te voorkom, moet die volgende kriteria geld:

  • Daar moet na die aanbod, aanvraag en berging gekyk word;
  • Dit moet binne een tot twee jaar gelewer kan word;
  • Daar moenie ’n uitgebreide verkrygingsproses daarvoor wees nie;
  • Dit moet aan die vereistes vir opwekkingsvermoë (MW) en/of energiebehoeftes (MWh) voldoen;
  • Daar moet vir een tot drie jaar gekontrakteer word;
  • Dit moet maklik wees om in werking te stel;
  • Dit moet by die langtermynplanne vir die energiemengsel pas; en
  • Dit moenie beduidende uitbreiding van of verandering aan die bestaande netwerk vereis nie.

Die WNNR sê die departement van minerale bronne en energie en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) moet dringend regulasies bywerk sodat maatskappye toegelaat word om hul eie krag op te wek.

Die regering se program vir onafhanklike groenkragverskaffers (REIPPP) moet ook dringend bespoedig word.

Peter Worthington, senior ekonoom by Absa, het Dinsdag op ’n voorlegging van die bank gesê selfs al moet Eskom oor die volgende twee tot drie jaar gereeld beurtkrag instel, kan dit só gedoen word dat daar ’n beperkte impak op die ekonomie is. Eskom kan byvoorbeeld meer gereeld beurtkrag instel, maar op ’n laer vlak – met ander woorde eerder fase 1 of fase 2 as minder gereelde hoër fases.

Meer oor:  Wnnr  |  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Andre De Ruyter  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.