Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
WNNR identifiseer 3 nuwe sones vir hernubare krag

Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) het drie nuwe sones vir grootskaalse hernubare kragontwikkeling geïdentifiseer wat dalk kan optel waar Eskom misluk.

’n Paar van die windturbines by die Gouda-windplaas in die Swartland. Foto: Keith Quixley, Acciona

Die nuwe Hernubare Kragontwikkelingsones (HKOS), wat vir 20 400 MW se hernubare krag voorsiening sal maak, moet teen 2030 gebou word waar dit die doeltreffendste sal wees. Agt van hierdie sones bestaan reeds as deel van die eerste fase van die WNNR se werk wat in 2015 voltooi is.

In die pas gepubliseerde geïntegreerde hulpbronplan (IRP), wat Suid-Afrika se kragtoekoms beplan, het ’n behoefte aan minstens 14 400 MW se nuwe windkrag- en 6 000 MW se sonkragprojekte geïdentifiseer.

Die taak van die WNNR is egter baie moeiliker as om net die beste plekke te vind waar nuwe windkrag en sonkrag na gelang van die heersende weerpatrone opgewek kan word.

Die ontplooiing van hernubare energie (kan) beduidend bespoedig word as dit binne die nuwe HKOS plaasvind.
WNNR

Die WNNR se jongste verslag moet in ag neem dat 12 000 MW van Eskom se steenkoolkragsentrales in dieselfde tydperk die einde van hul leeftyd gaan bereik.

Volgens die WNNR is dit egter ’n geleentheid om twee vlieë met een klap te slaan.

Die bestaande infrastruktuur kan dus benut word, gemeenskappe sal nie werkloos gelaat word nie en die opwekking van energie kan voortgaan waar dit steeds die nodigste is in die leemte wat Eskom laat.

Volgens die WNNR kan die gebruik van hierdie nuwe sones “die ontplooiing van hernubare energie beduidend bespoedig word as dit binne die nuwe HKOS plaasvind”.

Abulele Adams, omgewingswetenskaplike van die WNNR, sê een van die hoofdoelwitte in die tweede fase van die HKOS was om voorheen ontginde gebiede naby Gauteng, waar die grootste vraag na energie is, te identifiseer om grootskaalse sonkragprojekte daar te begin.

Die twee nuwe HKOS vir sonkrag is in die omgewing van Emalahleni in Mpumalanga, en Klerksdorp in die Noordwes-provinsie, terwyl die derde een, wat op windenergie fokus, in die Groot-Karoo, oos van Beaufort-Wes, sal wees.

HKOS, hernubare krag

“Op hierdie manier kan die nuwe projekte vir hernubare energie bydra tot die rehabilitasie van voorheen ontginde gebiede, werk in die gebiede skep, veral waar ’n afname in mynbou voorkom, en potensieel van bestaande infrastruktuur, soos die elektrisiteitsnetwerk en paaie van vorige mynbedrywighede, gebruik maak,” het sy verduidelik.

Eskom se transmissie-afdeling het op 31 Oktober gewaarsku dat die IRP se enorme beplande uitbreiding van hernubare krag sy transmissielyne kan oorlaai as die projekte se ligging nie fyn beplan word nie.

Kragopwekking in Suid-Afrika is geskiedkundig baie gekonsentreerd, veral in die noorde. Die hoëspanningstransmissielyne is dus in gange opgerig om vir so ’n balans voorsien te maak, maar neem sewe tot tien jaar om vooruitbeplan te word.

As hernubare krag nie gebou kan word waar transmissie dit kan hanteer nie, kan dit dié projekte se opwekkingsbydrae dalk neutraliseer,” sê Ronald Marais, senior bestuurder: strategiese kragnetwerkbeplanning van Eskom se transmissie-afdeling.

Paul Lochner, omgewingsassesseringspraktisyn van die WNNR, sê die nuwe HKOS sal verseker dat die huidige transmissienetwerk volhoubaar benut word en gee Eskom se transmissie-afdeling genoeg kans om dit in die toekoms doeltreffend uit te brei.

Lochner sê wel dit beteken egter nie dat geen ander hernubare kragprojekte buite die HKOS ontwikkel kan word nie. Dit sal net “van geval tot geval” deursigtig oorweeg moet word.

Die uitkomste van die tweede fase van die WNNR se strategiese omgewingsassessering wat HKOS vir wind- en sonkrag in Suid-Afrika moes identifiseer, is op 26 September vanjaar aan belanghebbendes by die WNNR in Pretoria voorgelê.

Hierdie studie is in opdrag van die departement van omgewing, visserye en bosbou uitgevoer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.