Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Suid-Afrikaanse konsep steeds beste op mark
2de Mark Shuttleworth sy tyd ver vooruit
Hy is al beskryf as Suid-Afrika se tweede Mark Shuttleworth, maar Michael Wright van Striata is 'n tegnologie-entrepreneur in eie reg. Hy gesels met Vida Booysen.
Michael Wright, uitvoerende hoof van Striata.

Wat is een van die swaarste dinge vir ’n Suid-Afrikaanse entrepreneur om te doen wanneer hy ’n deurbraak op die internasionale mark wil maak?

Dis om op te hou om in rand en sent te dink en nie elke keer “eisj!” te sê wanneer ’n uitgawe in pond of dollar aangegaan word nie.

Michael Wright is die stigter van Striata, wat reeds sedert 2002 Suid-Afrikaanse banke in staat stel om bankstate per e-pos as ’n geënkripteerde aanhegsel te stuur.

Hy woon die afgelope ses jaar in Londen, waar sy maatskappy ook uitgebreide sakebelange het.

“Dit is eers die afgelope twee jaar dat ek opgehou het om alle koste na rand terug te verwerk en berekenings net in ponde begin doen het, sonder om ineen te krimp elke keer as ek besef hoeveel van my Suid-Afrikaanse wins ek nou gaan bestee,” vertel Wright per Skype uit sy kantoor in Londen.

Suid-Afrikaners leef die gesegde van ‘’n boer maak ’n plan’ uit. In die VSA sou jy eers ’n konsultant betaal om vir jou te vertel wat die opsies is en dan betaal jy weer iemand anders met ervaring om jou gekose opsie uit te oefen. Dít sal Suid-Afrikaanse entrepreneurs nie doen nie.
Michael Wright

Wat is Striata?

Striata is in 1999 as ’n e-posmaatskappy begin, waarna hy vinnig in elektroniese rekeninge begin spesialiseer het.

Teen 2001 het Wright en sy jong vennote die eerste geënkripteerde e-leser in Suid-Afrika ontwikkel – toevallig ook een van die eerstes wêreldwyd wat suksesvol kommer­sieel ontwikkel is. Dieselfde span wat ­Striata 15 jaar gelede begin het, is steeds aan die stuur van sake.

Suid-Afrikaanse kliënte sluit banke soos Standard Bank en Absa in, asook maatskappye soos Multi­Choice, Cell C en Liberty.

Die deurbraak was om ’n simmetries geënkripteerde stelsel te ontwikkel wat so gevorderd was dat dit nie gekraak kon word nie.

Vir die eerste keer kon ’n maatskappy wat ’n staat aan ’n kliënt moet uitstuur, dit veilig en eenmalig doen, sonder dat die kliënt met ’n wagwoord op ’n webportaal hoef aan te meld om sy sensitiewe bankinligting te sien.

Suid-Afrikaanse banke het dit reeds in 2002 aanvaar, lank voor die res van die wêreld bygekom het, en selfs vandag nog is hierdie stelsel die wêreld se voorste en mees gevorderde e-pos-enkripsie.

Die e-leser bespaar maatskappye meer as die helfte van hul papierkoste en in ’n wêreld waar kommunikasie toenemend elektronies plaasvind, kry Striata deesdae al hoe meer internasionale kliënte in markte soos Brittanje, die VSA, Australië, Singapoer en Hongkong.

Striata se kantoor in Londen.

Deurbraak

Wright vertel dit het baie geduld geverg om ’n deurbraak in die internasionale mark te maak, want sy tegnologiese oplossing was sy tyd vooruit.

“Destyds kon jy ’n 40 bis-geënkripteerde PDF-dokument as aanhegsel stuur, wat maklik ontsyfer kon word – omdat die VSA ’n regulasie ingestel het dat jy nie dáár enige geënkripteerde dokument groter as dié perk mag stuur nie. Hul veiligheidsowerhede wou dit eers sélf ontsyfer,” vertel Wright.

Dit het hom twee jaar se harde werk geverg om sy eerste Britse kliënt te werf, “en dit was maar ’n ou kleintjie”. Sy onmiddellike Suid-Afrikaanse sukses het hom egter onwrikbaar in die lewensvatbaarheid van sy produk laat glo.

Hy het geen private beleggersgeld beskikbaar gehad nie en dus ’n baie konserwatiewe strategie gevolg, deur byvoorbeeld net eers een baanbreker in ’n mark in te stuur om ’n paar aanvanklike kliënte te werf.

“Dit is steeds die benadering wat ons volg, maar in lande waar die voertaal nie Engels is nie, soos byvoorbeeld Indonesië, soek ons na plaaslike vennote wat reeds ’n gevestigde kliëntebasis het.”

Wright sê mense kyk na tegnologie-suksesverhale soos Über of Slack en dink dit is oornagwonders. “Daar begin elke jaar miljoene sulke ondernemings en dit is maar enkeles wat op die regte tyd en plek die regte produk in die mark stoot. Geluk speel wel ’n rol, maar dit neem ook jare se harde werk om die deurbraak te maak.”

Shuttleworth en Musk

Jong Suid-Afrikaanse entrepreneurs het die afgelope jare hul stem (en beursie) dik gemaak in die interna­sionale tegnologiebedryf.

Dink maar aan name soos Mark Shuttleworth wat sy maatskappy Thawte vir sowat R3,5 miljard in 1999 verkoop het, Willem van Biljon, wat Mosaic Software begin het, of die Suid-Afrikaans gebore Elon Musk wat saam met Roelof Botha die elektroniese betaaldiens PayPal gestig het.

Lees ook: ​Weghol-reaksie op Tesla se nuwe battery

Wanneer Wright, ’n oudleerling van Jeppe High School for Boys, gevra word waarom Suid-Afrikaanse tegnologie-entrepreneurs buitengewoon goed presteer oorsee, kom daar ’n breë glimlag op sy gesig lank voordat Skype sy woorde oordra.

“Dis omdat ons Suid-Afrikaners die gesegde van ‘ ’n boer maak ’n plan’ uitleef. In die VSA sou jy eers ’n konsultant betaal om vir jou te vertel wat die opsies is en dan betaal jy weer iemand anders met ervaring om jou gekose opsie uit te oefen. Dít sal Suid-Afrikaanse entrepreneurs nie doen nie. Ons weet niemand anders sal ons help nie en ons werk eenvoudig self uit hoe ons iets gedoen sal kry – en dan voer ons dit verder.”

Dit sal Striata se mededingers 13 jaar se harde werk kos om in te haal op die boereplan wat hy reeds vervolmaak het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.