Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
86% van KMO’s sê hulle sal Covid-19 oorleef

Al het die meeste klein- en middelslagondernemings (KMO’s) geen geldelike hulp of verligting met huurbetaling gekry nie, het verreweg die meeste van hulle in ’n peiling in Oktober gesê hulle sal die Covid-19-pandemie oorleef.

Mama Bongi se produksie van watertand-sjokoladekoekies het binne drie maande van 45 sakkies per week tot 400 opgeskiet.

En selfs ’n derde van die sakelui wat wel hul ondernemings moes sluit, het gesê hulle sal mettertyd weer een open.

Ondanks die uitdagings het KMO’s weer gewys hoe veerkragtig hulle is, sê Karl Westvig, uitvoerende hoof van Retail Capital, wat finansieringsoplossings vir sulke ondernemings bied.

In ’n peiling wat Retail Capital in Oktober onder KMO’s gedoen het, het nagenoeg 86% gesê hulle sal oorleef.

Die land was van 21 September op vlak 1 van die inperking totdat die gewysigde vlak 3-maatreëls weer die afgelope Dinsdag ingestel is. Die nuwe maatreëls sal veral die drank- en gasvryheidsbedryf weer onder druk plaas.

Westvig sê die KMO-sektor word soos ’n stiefkind behandel, al maak dié ondernemings sowat 30% van die land se bruto binnelandse produk (BBP) uit en het hulle meer as 6 miljoen mense in diens.

Van die respondente het 40% by verskeie instellings en fondse om finansiële verligting te midde van die pandemie aansoek gedoen, maar 42% van hulle het geen hulp ontvang nie.

Net 35% was suksesvol met die tydelike Covid-19-Ters-uitbetalings deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), net 16% by banke en 10% het hulp gekry van die onafhanklike South African Future Trust (SAFT), wat deur ’n skenking van R1 miljard deur Nicky en Jonathan Oppenheimer op die been gebring is.

Westvig sê dít kom terwyl 72% van respondente tydens die inperking geen inkomste verdien het nie en boonop al die moontlike gedoen het om personeel te behou deur verkorte werkure of salarisverminderings.

Retail Capital het die bevindings van die meningspeiling, wat hy onder meer as 300 KMO’s in die voedsel- en drank-, konstruksie-, kleinhandel-, hotel-, gasvryheid- en toerismebedryf gedoen het, in die publikasie Unlocked vervat.

Dit deel ook KMO’s se ervaring tydens Covid-19, lesse wat hulle geleer en geleenthede wat kleinsake-eienaars aangegryp het.

Westvig sê teen Oktober is sowat R15 miljard uit ’n moontlike R200 miljard aan KMO’s versprei as deel van hulp te midde van die pandemie. Die meeste van die geld het aan ondernemings met ’n omset van R100 miljoen tot R500 miljoen gegaan.

Van die ondernemings op Retail Capital se boeke met ’n omset onder R10 miljoen per jaar het nie een hulp van staatskant gekry nie, sê hy.

Dayne Marshall van Marshall Music het gedurende die inperking rekordverkope van kitare gehad.

“Dis verbasend dat terwyl KMO’s alles moontlik gedoen het om hul ondernemings aan die gang te hou, het finansiële instellings wat steun kon bied, in baie gevalle nie tot hul hulp gekom nie.”

Hy vertel van ’n kliënt van Retail Capital wie se R250 000-aansoek by ’n kommersiële bank skriftelik goedgekeur is, maar die geld is nooit aan haar betaal nie. Ná verskeie opvolgoproepe het dit geblyk haar aansoek het deur die administratiewe krake geval en teen die tyd dat dit gevind is, was daar nie meer geld in die betrokke fonds om haar te help nie.

Retail Capital het sedert die begin van die inperking einde Maart meer as R500 miljoen aan sy kliënte betaal. Alle debietorders is opgeskort terwyl kliënte se ondernemings gesluit was.

Volgens Westvig is dit tasbare hulp wat ’n verskil vir KMO’s maak – nie net lippediens twee keer per jaar tydens die begroting en mediumtermynbegrotingsraamwerk nie.

’n Driekwart van die respondente in die peiling het lesse uit Covid-19 geleer, terwyl 39% reeds hul sakemodel verander het.

Onder die suksesstories tel:

Dayne Marshall van Marshall Music het gevind tydens die streng inperking het al hoe meer mense besluit om ’n instrument te begin bespeel. Kitare het een van die winkel se belangrikste produkte geword met rekordverkope.

Voor die inperking het aanlyn verkope vir net 2% van sy inkomste gesorg, maar dit het opgeskiet tot 20%.

Tuisateljeetoerusting het ook baie goed gevaar, omdat soveel mense van die huis wou uitsaai of stroom. Voor Covid-19 het dié produkte 5% van Marshall se omset uitgemaak, maar nou is dit 20%; en

Mama Bongi se tuisgebakte sjokoladekoekies het binne enkele maande tydens die inperking ’n treffer geword.

Dit het alles begin toe sy die koekies (’n resep van ’n kollega) gebak het vir spanne van Julia Finnis-Bedford se agentskap wat aan buite-opnames van rolprente werk. Gou het die klante gevra waar hulle vir vriende en familie daarvan kan koop.

Finnis-Bedford het deli’s in die Kaapstad-omgewing genader om dit in voorraad te hou en sedertdien staan kleinhandelgroepe ook tou om dit op hul rakke te hou.

Die sjokoladekoekies was so gewild dat Mama Bongi se produksie binne net drie maande van 45 sakkies per week tot 400 opgeskiet het.

Haar sosialemediateenwoordigheid is uitgebou en dit het die boodskap oor die watertand-versnapering net verder laat versprei.

Meer oor:  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.