Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Aftree? Nee, op 75 is sy werk nog veels te lekker
Tharien Hattingh gesels met Francois Marais, uitvoerende hoof en stigter van Safari Investments RSA en besturende direkteur en stigter van MDM Argitekte.
Francois Marais van Safari Investments. Foto: Instinctif

Op 75 is jy uitvoerende hoof van Safari Investments RSA, ’n genoteerde eiendomsbeleggingsmaatskappy, én besturende direkteur van ’n argitekfirma. Hoe het jy gekom tot waar jy vandag is? 

Nadat ek in 1965 as argitek gekwalifiseer het, het ek in Namibië by ’n argitekfirma aangesluit. Ná drie jaar het ek die geleentheid gekry om die firma oor te neem. Ek het byna 20 jaar aan die praktyk gebou en in 1984 na Pretoria verhuis waar ek nog ’n praktyk geopen het.

In die vroeë 1990’s het ek by die ontwikkeling van eiendom betrokke geraak en dit het tot die stigting van Safari gelei. Safari ontwikkel, besit en bestuur winkelsentrums en grond in Suider-Afrika. Ons fokus meestal op ontwikkelende gebiede. 

Hoe het jy die skuif van argitek na ontwikkelaar ervaar?

Dit was eintlik ’n baie natuurlik kopskuif. Om geboue te ontwerp is tog deel van ontwikkeling en elke projek wat ek as argitek aangepak het, was ook ’n saketransaksie. Dus het my beroep my al van vroeg af voorberei op die rol van ontwikkelaar. 

Wanneer en hoe het jy met die ontwikkeling van jou eerste beleggingseiendom begin?

Ek en drie ander beleggers het in 1992 ’n bankgebou in Rustenburg ontwikkel. Daarna het ons by verskeie eiendomsbeleggings betrokke geraak en self ook ontwikkel. Ons het vir sowat tien jaar eien­dom gekoop en verkoop totdat ons finansieel stabiel was en van die eiendomme kon hou en self bestuur.

Ons beleggingsgroepie het vinnig gegroei en vandag het ons meer as 400 beleggers. 

Hoe het die maatskappy se beleggingskultuur ontwikkel?

Dit was en is tot vandag nog vir my belangrik dat al die beleggers dieselfde beleggingskultuur deel.

Beleggers moet glo in die produk en nie bang wees om te groei nie. Ons het nog nooit ’n oornamesituasie ondersteun nie en ons bly weg van meerderheidsbelange. Dit is belangrik dat beleggers deel het in die maatskappy se besluitneming. Die meeste van Safari se eiendom is in ontwikkelende gebiede. Waarom het julle daarop besluit?

Ek het in afgeleë gebiede in Namibië werk vir die regering gedoen en ondervinding van sulke projekte opgedoen. In die vroeë 2000’s was daar goeie geleenthede in sulke gebiede in Suid-Afrika en ons het dit aangegryp.

Ander het gemeen dié gebiede hou te veel risiko in weens die politieke onstabiliteit in Suid-Afrika. Ons het die wonderlike, groeiende mark raak gesien en vandag pluk ons die vrugte! 

Jy het 50 jaar werkondervinding, maar nie ’n finansiële kwalifikasie nie. Kan ’n boek jou leer wat jy in die praktyk van sake kan leer?

Kwalifikasies kan sekere sakekennis vinniger aan jou openbaar, maar ervaring speel definitief ’n groot rol. Vroeër jare was sakekwalifikasies beperk; nou is daar ’n groot verskeidenheid. Daar is groot mededinging in die bedryf, so jy moet jou op alle terreine so goed moontlik toerus. 

Wat was jou grootste struikelblok?

Nee, ek het nog nie struikelblokke gehad nie – net probleme met oplossings en lesse om te leer. 

Wat was dan jou belangrikste les?

Om nooit moed op te gee nie en altyd te volhard. Daar moet altyd ’n doel wees waarop jy fokus en dit is slegs met deursettingsvermoë dat jy jou doel bereik. Die bevrediging van ’n doel wat bereik word, maak altyd die harde werk die moeite werd. 

Wat hou jou op 75 nog so passievol oor die onderneming?

Ek het ’n droom dat dít wat ons opgebou het, volhoubaar sal wees. Sowel die beleggings as die bestuur moet volhoubaar wees. Ek weet ons het ’n groot verantwoordelikheid teenoor ons beleggers. Ek is ook daagliks omring deur ’n innoverende en goed gekwalifiseerde span. 

Maak vroeë aftrede ’n mens vroeër oud?

Ek dink so. Ek is geseënd met ’n passie vir dít wat ek doen en geniet elke dag my werk. Om af te tree, was nog nooit vir my ’n opsie nie. Ek glo daar is mense wat hul werk as ’n las sien en wat so gou moontlik wil aftree. Dit is vir my ’n groot jammerte. 

Hoe voel jou vrou daaroor dat jy nog elke dag werk?

Sy het vrede daarmee gemaak. 

Enige gesondheidswenke?

Ek vat al sedert 35-jarige ouderdom elke dag ’n middagslapie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.