Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Rapid Response
App help trauma voorkom
Haar sakeplan het al twee groot kompetisies gewen, maar vir Marlize Holtzhausen is die werklike toets vir Rapid Response hoeveel trauma dit voorkom. Sy gesels oor dié app en onderneming.
Marlize Holtzhausen van Rapid Response.

Wat is Rapid Response?

Rapid Response is ’n selfoonapp wat ’n slagoffer van misdaad of ’n ongeluk help om so vinnig moontlik met die nodige nooddienste te kommunikeer.

Die Rapid Response-noodsein word geaktiveer deur middel van die druk van ’n knoppie op ’n selfoon of deur die skandering van ’n selfoon oor die Rapid Response-skyfie.

Die noodsein word dan direk na ER24 gestuur en aan naasbestaandes van die slagoffer. ER24 sal dadelik met die slagoffer kommunikeer en dan optree soos nodig.

Indien daar ná drie oproepe geen antwoord by die slagoffer is nie, word ’n noodvoertuig na die slagoffer ontbied.

Hoe het jy aan hierdie idee gekom?

My suster is in 2010 ontvoer en verkrag. Die misdaad het my diep geraak en ek het gesukkel om die trauma te verwerk. Ek het ’n behoefte ontwikkel om hierdie trauma vir ander mense te beperk.

Ek het gebid en gevas vir ’n oplossing en die app-idee het by my opgekom. Terselfdertyd het ek deur gemeenskaplike vriende vir Gerrit Cloete ontmoet. Hy het dieselfde visie en idee as ek gehad. Ons het koppe bymekaargesit en aan ’n sakeplan gewerk.

Hoe het jy geweet die app gaan werk?

Ek was ’n derdejaarstudent aan Kovsies (Universiteit van die Vrystaat) se bestuursleierskapprogram en het my app-idee as ’n sakeplan gebruik in my tesis vir die kwalifikasie.

Ek het goeie terugvoering oor die konsep en sakeplan gekry en het daardeur die eerste plek verwerf in die Internasionale Arbeidsorganisasie se enterPrize Job Creation-uitdaging.

Deel van die prys wat ek ontvang het, was ’n inskrywing vir Microsoft se BizSpark-program. Die program is daarop gefokus om sagteware-ontwikkelaars met innoverende sake-apps te help.

Ná die goeie terugvoering het ek geweet my idee gaan werk. Ek het ook verlede jaar Google se Entrepreneursfees in Zürich, Switserland, gewen. Dit was die bevestiging wat ek nodig gehad het.

Die ontwikkeling en instandhouding van die app is seker die belangrikste element van jul onderneming. Hoe verseker julle dat die app optimaal funksioneer?

Die ontwikkeling en instandhouding van die app is ’n ingewikkelde en deurlopende proses en moet deur ’n kundige ontwikkelaar gedoen word. Ons het gesoek na ’n ontwikkelaar wat dieselfde sakebeginsels as ons nastreef.

Dit is belangrik dat die ontwikkelaar betroubaar is en by spertye hou. Die omgewing en platforms waarin ’n app bestaan, verander gedurig en daarom is ’n ontwikkelaar wat goed is met probleemoplossing van kardinale belang.

Hoe het julle ER24 oorreed om aan boord te kom?

Ons het goed navorsing gedoen oor ons idee, ER24 en hoe die sinergie tussen ons kan werk. Verder het ons met genoegsame selfvertroue en geloof in ons produk ons idee aan ER24 voorgelê.

Jy moet op jou produk vertrou om iemand anders se vertroue te wen.

Dat ons ook opreg opgewonde oor ons produk is en ’n passie vir Rapid Response het, het in ons guns getel.

Hoe het jy momentum behou nadat julle die Google-prys gewen het?

Dit is baie moeilik om momentum te behou nadat ’n mens op so ’n hoogtepunt was. Ná afloop van die kompetisie het ek geweet die sakekonsep is geloofwaardig.

Ek was, en is vandag nog, die sukses en volharding verskuldig aan die mense en instellings wat in die sakeonderneming glo. Dit motiveer my elke dag en dan natuurlik ook elke traumasituasie wat met die hulp van Rapid Response voorkom word.

Suid-Afrikaners betaal maandeliks hoë premies vir mediese fondse en versekering. Hoe bemark jy jou produk aan ’n platsak-betaler?

Rapid Response is ’n voorkomingsmiddel. Die meeste Suid-Afrikaners word daagliks deur misdaad geraak. Misdaad is onvoorspelbaar. ’n Mediese fonds of versekering kan jou nie help om misdaad te voorkom nie, maar kan slegs die gevolge hanteer.

Rapid Response help dat gebruikers nie in ’n situasie beland waar ’n mediese fonds of versekering nodig is nie.

Rapido is Rapid Response se kenteken en is ’n werklike figuurtjie. Waarom is Rapido gebore?

Misdaad is ’n ernstige saak en jonk en oud word daardeur geraak. Ons bemark Rapid

Response aan alle Suid-Afrikaners en die toepassing is ook gebruikersvriendelik vir alle ouderdomme.

Ons het as maatstaf die app so ontwikkel dat ’n vierjarige dit kan gebruik.

Rapido is ons sleutel om Rapid Response kindervriendelik te maak.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.