Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Birillo oorweeg n franchise-model
Bedryfsingenieur ‘tree af’ op 30, begin koffiekroeg
Reone Louw is die eienaar van Birillo, ’n koffiekroeg in Pretoria waar dit eerstens gaan oor goeie koffie, nie die koek en ander tierlantyntjies van 'n "gewone" koffiehuis nie. Sy was ’n bedryfsingenieur voordat sy deur die geur van koffie verlei is.
Reone Louw, eienaar van Birillo, ’n koffiekroeg in Pretoria. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Birillo?

Birillo is ’n koffiekroeg wat spesialiseer in goeie koffie. In Engels is dit beter bekend as ’n espresso bar.

Is dit dieselfde as ’n koffiewinkel?

Nee. Ons hooffokus is koffie. Ons fokus nie op koek, maaltye en allerhande ander eetgoed nie. Ons verkoop koffie, die res is ’n bysaak.

Waar het jou inspirasie vir so ’n koffiekroeg vandaan gekom?

Ek wou nog altyd my eie onderneming besit het en is mal oor koffie. Met ’n vakansie in Kaapstad het ek by talle koffiekroeë uitgehang en besef dat daar ’n koffiekultuur in Kaapstad is.

Later was ek op reis in Kanada en het daar weer die koffiekultuur van gehalte-wegneemkoffie beleef.

Ek het besef Pretoria het nie so ’n kultuur nie en het besluit dit is net die rigting vir my eie onderneming.

Baie koffiewinkels sukkel om die mas op te kom. Hoe het jy seker gemaak jou idee gaan werk?

Ek het baie navorsing gedoen oor die konsep. Ek het vir die jaar voordat Birillo oopgemaak het aan my sakemodel gewerk. Ek wou eers seker maak die idee gaan werk.

Ek het in daardie stadium ’n goeie heeltydse werk gehad en wou nie sommer ’n bloutjie loop nie.

Ek het ook Saterdae by ’n koffiestalletjie by ’n mark gewerk. Só het ek baie van koffie geleer en ook hoe om met kliënte te werk.

Wat is jou agtergrond?

Ek het as bedryfsingenieur gekwalifiseer en het jare lank as sakekonsultant in dié rigting gewerk.

Watter eienskap van jou studieveld help jou die meeste met die bestuur van jou onderneming?

As bedryfsingenieur word jy geleer om op een doel te fokus en die beste daarin te wees.

Verder glo ek hoe eenvoudiger jou sakemodel is, hoe beter. 

Ek het ook geleer om na dinge te kyk uit my kliënt se oogpunt om ’n goeie ervaring te verseker.

Hoe het jy Birillo gefinansier?

Dit is seker nie die antwoord wat van ’n wyse entrepreneur verwag word nie, maar ek het my pensioen laat uitbetaal en verder van my spaargeld gebruik om Birillo op die been te bring.

Ek is seker met my Godgegewe talente en vermoëns sal ek met Birillo en die geld wat Birillo voorsien, kan woeker en vir my ’n goeie aftrede verseker.

Ek het eintlik al klaar afgetree, want dit voel nie of ek meer werk nie. Ek het dus op 30 my pensioen gevat en afgetree.

Mense inspireer jou en jy is trots op elkeen van jou personeellede. Hoe belê jy in hulle om van jou onderneming ’n sukses te maak?

Ek bestee baie tyd saam met my personeel en maak seker ek verstaan hul behoeftes en toekomsvisie. Ek probeer dan ook om hulle toe te rus en te bemagtig. Ek wil hulle graag ’n geleentheid bied om ervaring op te doen, te groei en hul ambisies te bewaarheid.

Een van my baristas het gevorder tot bestuurder van my winkel, en sodra ’n tweede winkel se deure open, gaan sy my areabestuurder word.

So, daar is planne vir ’n tweede winkel?

’n Onafhanklike eienaar het my genader om ’n Birillo in Johannesburg oop te maak, en ek is ook op soek na ’n winkel vir my tweede Birillo in Pretoria.

Is Birillo ’n wenresep vir ’n franchise-model?

Ja, beslis! Ek is ook reeds besig met planne daarvoor. Birillo is ’n eenvoudige konsep, en omdat Birillo slegs op een produk fokus, verminder dit die kans dat gehalte verlore kan gaan.

Is alle mense eintlik entrepreneurs of is entrepreneurs ’n aparte groep denkers en doeners?

’n Entrepreneur is definitief iemand wat verslaaf is aan verandering en wat onafhanklik van ’n roetine kan funksioneer.

Nie een dag in my week is dieselfde nie en ek moet heeltyd oop wees vir verandering en innoverend kan dink.

Nie alle mense is gemaak om innoverend te wees in ’n konstant veranderende omgewing nie. Dit is vir my lekker en ’n bron van energie om heeltyd kreatief en vernuwend te kan wees.

Wat beteken Birillo?

Birillo is die Italiaanse woord vir ’n baken of ’n landmerk. Birillo is ’n koffiebaken vir my kliënte.

Lees nog:

■ ​Boetiekbier van SA is die beste ter wêreld

■ ​Plaasmark word sake-broeikas

■ ​Hy wil soesji veel verder vat

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.