Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneurs
‘Biokinetici moet meer van sake leer’
Tharien Hattingh het haar tekkies aangetrek vir ’n onderhoud met Jaco von Abo, ’n biokinetikus met sy eie praktyk, Train-U-Com.
Die biokenetikus Jaco von Abo van Train-U-Com in Pretoria. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Train-U-Com?

Die praktyk fokus op al die aspekte van ’n gesonde leefstyl, van sportbesering-rehabilitasie tot gewigsverlies.

Net interessantheidshalwe – wat is die verskil tussen ’n biokinetikus en ’n fisioterapeut?

’n Biokinetikus fokus op chroniese probleme en ’n fisioterapeut op akute probleme. Jy sal byvoorbeeld ná ’n motorongeluk ’n fisioterapeut besoek om met jou stywe nek te help. Indien die pyn en spasma voortduur, is dit ’n chroniese probleem, waarmee ’n biokinetikus dan help.

Wat het jou laat besluit om ’n biokinetikus te word?

Ek het as skoolseun ’n biokinetikus besoek as deel van my rehabilitasie en nasorg ná ’n operasie. Ek het onmiddellik in dié studieveld belang gestel en was ook mal oor sport. Biokinetika is ’n goeie kombinasie van die twee belangstellingsvelde.

Jy het op 24 jou eie praktyk begin. Hoe het dit gebeur?

Nadat ek my studie voltooi het, het ek my internskapsjaar by ’n baie suksesvolle biokinetikus en sakeman in Johannesburg voltooi.

Tydens my internskap het ek nie net baie van die praktyk geleer nie, maar ook van sake. Ek het besef ek gaan eendag my eie praktyk bedryf. Ná my internskap het ek vir ’n paar maande onder ’n ander biokinetikus gewerk en gou besef dit is tyd dat ek my eie ding doen. Ek was nog nooit spyt nie.

Hoe het jy die praktyk se aanvang gefinansier?

Ek was nog altyd ’n spaarvarkie. Ek het as student deeltyds gesondheidsprodukte verkoop en heelwat gespaar. My spaargeld het verseker dat ek aan die begin die nodige toerusting en sagteware kon koop.

Ek werk ook deeltyds as gimnasiumbestuurder en dit het aan die begin ’n konstante inkomste verseker.

Het jou graadkursus jou voldoende toegerus met basiese sakevaardighede en praktykbestuur?

Nee, glad nie. Alles wat ek vandag van sake- en praktykbestuur weet, het ek tydens my internskap en deur ondervinding geleer. ’n Sakemodule kan gerus by ons graadkursus gevoeg word. Die meeste biokinetici bedryf hul eie praktyk en so ’n module sal dus nuttig te pas kom.

Hoe lyk jou gemiddelde dag?

Ek werk lang tye. Ek begin gewoonlik om 07:00 en sluit eers teen 18:00 die praktyk se deure. Op ’n gemiddelde dag sien ek sowat 10 of 12 pasiënte en tussendeur hou ek my administrasie op hoogte, skryf verslae, werk programme uit, lees na en bestuur die gimnasium. Aan die einde van ’n dag is ek gedaan.

Hoe bemark jy jou praktyk?

Verwysings. Ek het nog nie regtig nodig gehad om te bemark nie.

Ek gebruik ook Google Ad Words en verseker so dat internetgebruikers Train-U-Com maklik vind.

Hoe voel jy oor jou mededinging?

Ek voel nie bedreig deur my mededingers nie, maar is bewus van die praktyke in my omgewing.

Hoe het die biokinetikaveld gegroei?

Mense raak beslis al hoe meer gesondheidsbewus en doen moeite om na hul gesondheid om te sien en dit te verbeter.

Skolesport het ook ernstiger en meer gevorderd geword en skoolkinders gebruik biokinetici gereeld.

Wat is jou toekomsplanne?

Ek beoog om my praktyk binnekort te akkrediteer sodat ek interns kan oplei en my praktyk so kan groei.

Tyd is op die oomblik die vernaamste beperkende faktor en ek fokus daarop om dit te “vermeerder”.

Daar is ook ’n geleentheid vir ’n tweede praktyk in die omgewing.

Hoe gaan jy verseker dat jou interns jou goeie naam hoog hou?

Ek gaan daarop fokus om waarde te voeg by my interns se lewe en loopbaan.

Hulle moet weet dat hulle by my sal leer hoe om ’n suksesvolle praktyk op die been te bring en te bestuur en dat hul internskap ’n belegging in hul toekoms is.

Ek gaan steeds persoonlike kontak met my pasiënte behou en so verseker dat hul die nodige aandag kry.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.