Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Oudprokureur mal oor haar eie boekwinkel
Boeke bly maar tasbaar en eg
Sonja Janse van Rensburg, die eienaar van een van twee boekwinkels in Pretoria met die naam Graffiti Books & Stationery, glo die egtheid van ’n regte boek en die behoefte om elektronies “af te skakel”, lok mense steeds na boekwinkels. Sy het met Tharien Hattingh gesels.
Sonja Janse van Rensburg (regs), eienaar van die Pretoriase boekwinkels Graffiti, was 20 jaar lank ’n prokureur. Sy werk nou net sulke lang tye, maar voel dat haar tyd haar eie is. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Graffiti?

Graffiti Books is een van twee onafhanklike gemeenskapsboekwinkels met die Graffiti-handelsnaam in Pretoria.

Jy het 20 jaar lank as ’n suksesvolle prokureur gepraktiseer en toe ’n heeltydse boekwinkel­eienaar geword. Hoe het dit gebeur?

Ek het my werk as prokureur verskriklik geniet, maar het op ’n punt gekom waar ek verandering nodig gehad het. ’n Vriendin van my het die Graffiti-handelsnaam en ook eerste boekwinkel begin en oor ’n glasie wyn en vele koffies het ons besluit dit is net die verandering wat ek nodig het.

Hoekom was dit tyd vir ’n verandering in jou loopbaan?

Dit was tyd dat ek weer iets doen wat my verryk. As prokureur gee jy ongelooflik baie van jouself en jy ontvang bitter min op ’n persoonlike vlak. Die prokureursprofessie is bevredigend op ’n professionele vlak omdat jy heeltyd ander mense se probleme oplos, maar dit bevredig jou persoonlike behoeftes aan selfverwesenliking en gesonde menseverhoudinge nie regtig nie.

Is dit so romanties soos wat dit klink om ’n boekwinkel te besit en te bestuur?

Ja, dit is, en hoewel daar baie administrasie saam met die bestuur van ’n boekwinkel kom, is die meeste van die ander elemente kreatief en stimulerend. Daar is soveel verskillende hoede wat ek op ’n dag moet dra as boekwinkeleienaar en ek is mal daaroor.

Watter hoede moet jy als kan dra as boekwinkeleienaar?

Jy moet die linkerkant van jou brein kan inspan en fokus op administrasie, boekhou, bestuur van finansies en kontantvloei. Dan moet jy ook kreatief kan dink oor jou boekevoorraad, winkeluitleg en uitstallings. Jy moet planne kan beraam om voete na jou winkel te lok. Jy moet kan luister na jou ­kliënte en wat hulle wil hê. Jy moet jou personeellede ken en ook die regte personeellede kies om van jou boekwinkel ’n sukses te maak. Graffiti is ’n klein en intieme boekwinkel. Hoe ervaar jy die mededinging van groot boekwinkels?

Ons kan glad nie meeding met die groot boekwinkels nie. Hul voorraadaankoopkoste en oorhoofse koste per vierkante meter is soveel minder en hul voete en voorraadvolumes is hoër. Daarom fokus ek op die nismark waarin ek my begeef. Ek maak seker dat my boekwinkel ’n gemeenskapsboekwinkel bly en dus die gemeenskap dien. Ek het ook moeite gedoen om ’n esteties bevredigende atmosfeer te skep sodat kliënte die boekwinkel ook as ’n toevlugsoord kan ervaar.

Hoe beïnvloed die groei van elektroniese boeke jou onderneming?

’n Gedrukte boek verteenwoordig steeds ’n vorm van tasbare egtheid. Die reis met ’n gedrukte boek is eenvoudig intenser en die indruk wat dit laat, refrein en rimpel net langer in jou gemoed as ’n verhaal wat in onnatuurlike lig op ’n elektroniese instrument gelees word.

Hoewel boekverkope jaarliks daal, is daar tog baie klante wat keer op keer terugkom en getuig dat ’n elektroniese boek net nie dieselfde persoonlike leeservaring bied as die gedrukte kopie nie.

Deesdae word ons gebombardeer met tegnologie, vinnige gesprekke en kort boodskappies aan mekaar en ek glo dit veroorsaak dat mense se onwillekeurige behoefte na egtheid toeneem. Ek dink daardie behoefte kan beter bevredig word wanneer jy selfsugtige eietyd met ’n gedrukte boek bestee.

Lees kinders nog?

Ek kan met ’n warm hart bevestig dat ons kinderafdeling die vinnigste gegroei en uitgebrei het sedert die boekwinkel vier jaar gelede oopgemaak het. Daar is heelwat kinders wat hul sakgeld spaar en dan boeke kom uitsoek. Deur gesprekke met hierdie klein lesers kan ek agterkom dat ons groot denkers en doeners in die toekoms kan verwag.

’n Boek is ’n luukse en nie ’n noodsaaklikheid nie. Hoe lok jy voete?

Jy is reg, om ’n boek te koop is iets wat jy vir jouself doen om jou te verryk. Graffiti is in ’n onkonvensionele inkopiesentrum geleë waarheen mense kom om hulself te bederf. Ek doen dus moeite om saam met die restaurante en die teater in die sentrum geleenthede te reël om mense bewus te maak van die boekwinkel.

Wat is die grootste persoonlike verandering wat jy beleef as gevolg van jou loopbaanskuif?

My tyd is my eie. As prokureur verkoop jy elke sekonde van jou tyd. Ek werk nou net sulke lang ure, indien nie langer nie, maar my ure behoort aan myself.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.