Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Diskoers
Brand Pretorius: Goeie leier moet veral homself kan lei
'n Legende in Suid-Afrika se motorbedryf inspireer in ons rubriek oor leierskap. Hy sê integriteit is die belangrikste voorvereiste vir volhoubare, doeltreffende leierskap.

Doeltreffende, inspirerende ­leierskap is soos elektrisiteit wat ’n land, gemeenskap, sakeonderneming, sportspan en selfs ’n gesin aandryf na ’n beter toekoms. Sonder gehalte-leierskap is mense figuurlik gesproke in donkerte gehul, sonder rigting, motivering en hoop.

In die sakewêreld verteenwoordig bekwame leierskap die magtigste mededingende voordeel. Ongelukkig dui die resultate van wetenskaplike opnames op ’n kommerwekkend lae vlak van werknemerbetrokkenheid en -verbintenis.

In baie gevalle word dit meegebring deur ’n uitgediende, outokratiese en transaksionele benadering tot leierskap. Sulke “base” gebruik posisionele mag en gesag om respek en gehoorsaamheid aan hul instruksies af te dwing. Dit onderdruk inisiatief en ondermyn motivering.

So ’n benadering lei slegs tot gedwonge voldoening en swak resultate.

Leierskap het na my mening niks met posisie, gesag en mag te doen nie, maar dit behels invloed wat verdien moet word.

Die ware toets vir leierskap is nie of mense aan bevele gehoor gee nie, maar of hulle vrywillig hul intelligensie, energie, bydrae en lojaliteit aanbied tot voordeel van die organisasie.

Dit gebeur net as die leier daarin slaag om al die betrokkenes se vertroue en respek te verdien deur middel van ’n onberispelike persoonlike voorbeeld en deur die lewer van uitstaande resultate.

Wat my betref, is integriteit die belangrikste voorvereiste vir volhoubare, doeltreffende leierskap. Die leier se karakter sal dus sy geloofwaardigheid en derhalwe sy invloed bepaal.

Brand Pretorius

Die leiers vir wie ek agting het, verdien hul invloed deur hul besluitneming en gedrag te anker in beginsels soos konsekwentheid, integriteit en regverdigheid. Hul gedrag versinnebeeld waardes soos respek vir alle mense, eerlikheid, openheid, deursigtigheid, aanvaarding van verantwoordelikheid en die strewe na uitnemendheid.

Goeie leiers het die waagmoed om rigting te gee na ’n beter toekoms. Hulle lei met visie, geloof, passie, energie en entoesiasme. Hul klem val nie op mikrobestuur en dissipline nie, maar eerder op inspirasie, bemagtiging en aanmoediging. Hulle betrek hul mense en vertrou hulle.

’n Sleuteltaak van leiers is die skep van ’n prestasiekultuur wat die mense om hulle aanmoedig om hul bes te doen.

Dit gebeur net as almal voel hulle word gerespekteer en dat hul bydraes met dankbaarheid erken word.

Goeie leiers het ’n obsessie met die moraal en ontwikkeling van hul mense. Hulle glo dat gesonde interpersoonlike verhoudings gegrond op wedersydse vertroue tot goeie prestasies aanleiding gee. Inspirerende leiers is sigbaar en toeganklik, luister met aandag en empatie en kommunikeer doeltreffend.

Wanneer hulle mense presteer, gee hulle die nodige erkenning aan hulle.

Ek glo dat jy as leier eers ’n hart moet aanraak voordat jy vir ’n hand kan vra. Dit gebeur wanneer jy vir jou mense omgee en ook bereid is om hulle te dien. In my ondervinding is dienende leierskap die sleutel tot ’n hoë mate van verbintenis en sprankelende resultate.

’n Sleuteltaak van leiers is die skep van ’n prestasie-kultuur wat die mense om hulle aanmoedig om hul bes te doen.

Dit neem die gehalte van verhoudings na ’n ander vlak en lei tot die spontane aanvaarding van medeverantwoordelikheid.

Dit het ’n positiewe invloed op betrokkenheid, eerlikheid en lojaliteit.

Dienende leierskap het betekenis en waarde, spesifiek in die ongenaakbare sake-omgewing van vandag.

Wat is die belangrikste lesse wat ek geleer het uit ’n leierskapsoogpunt?

In die eerste plek het ek geleer dat die beginpunt van doeltreffende leierskap van ander, die bemeestering van selfleierskap is.

Dit vereis morele intelligensie en beheer oor ’n mens se eie emosies, die onderdrukking van ego en ’n verbintenis tot nederigheid.

Ander karaktereienskappe wat benodig word, is aanpasbaarheid, selfdissipline, gehardheid en deursettingsvermoë.

Tweedens het ek geleer dat die ware toets van leierskap gesetel is in die vermoë van die leier om sy toekomsvisie in realiteit om te skakel, en om die mikpunte wat gestel is te behaal. Doeltreffende uitvoering is baie belangriker as voornemens, en resultate is oneindig belangriker as ambisieuse beloftes.

Wat beskou ek as die grootste leierskapsuitdagings in Suid-Afrika?

Myns insiens vereis dit van ons organisasies om voortdurend te transformeer sodat dit tred kan hou met ’n vinnig veranderende omgewing.

Terselfdertyd moet optimale prestasievlakke bereik word omdat die omgewing gekenmerk word deur intense mededinging.

Om hierdie dubbele uitdaging die hoof te bied, verg dat leiers altyd die regte dinge moet doen ten opsigte van strategie, beginsels en waardes, en dat hulle ook in terme van praktiese uitvoering hierdie regte dinge reg moet doen.

Dit is in wese waaroor die kuns van inspirerende leierskap en die wetenskap van doeltreffende bestuur gaan.

Brand Pretorius: ’n legende in motorbedryf

Wie is Brand Pretorius?

Brand Pretorius is ’n legende in Suid-Afrika se motorbedryf. Hy het eers Toyota en toe McCarthy in markleiers omgeskep, nie net wat verkope betref nie, maar ook kliëntediens.

Hy dien in die direksie van Agrinet, Reunert, Italtile, Tata Africa Holdings, Tongaat Hulett en Metair Investments, by laasgenoemde as voorsitter. Hy het ’n boek oor leierskap geskryf met die titel Aan die stuur: My leierskapsreis.

Sien uit na  . . .

Volgende week skryf Dave Macready, uitvoerende hoof van Old Mutual, vir Diskoers.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.