Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Pret met Koskenades
Dié egpaar kook en geniet saam
Hanlie en Ivan Meiring het al jare ondervinding in die kosbedryf – as restauranteienaars, spyseniers en deesdae ook as aanbieders van prettige kooklesse. Lees ’n bietjie hoe hulle kóók.
Hanlie en Ivan Meiring van Koskenades. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Koskenades?

Koskenades is ons kookskool by ons huis waar ons kookklasse in groepsverband aanbied.

Hoe het Koskenades begin?

Ons werk al 24 jaar saam in die kosbedryf en die afgelope vier jaar is Koskenades ons sakeonderneming en verseker ons gesin van kontantvloei.

Ons het jare lank ’n spysenieringsonderneming gehad en later ook ’n restaurant bestuur. Namate ons gesin gegroei het, was die lang ure wat die re­staurant van ons vereis het, nie meer moontlik nie.

Ons het daarna namens Ivan se ouers ’n franchise-pasteiwinkel en ’n bakkery bestuur. Na aanleiding van die pasteiwinkel en Ivan se liefde vir lekker kos, het Ivan in 2003 ’n unieke glutenvrye pastei ontwikkel.

In 2009 het dié pasteie tot konsessiewinkels gelei.

Dié groep het weer so vinnig gegroei, ons kapitaal kon nie byhou nie en die maatskappy is toegemaak. Ons fokus dus nou op die ontwikkeling en verspreiding van ons unieke glutenvrye pasteie.

Koskenades is uit ons liefde vir kos gebore en onderhou ons gesin.

Julle het al in klomp verskillende fasette van die kosbedryf gewerk. Wat is jul gunsteling?

Spyseniering. Ons is mal daaroor om spyseniering te doen vir private gesellighede.

Julle is lief vir kos en mense. Is ’n franchise-konsep vir iemand wat ’n passie het vir kos, of is dit slegs vir sakebreine?

’n Franchisewinkel gaan oor omsetsyfers en dan die belangrikste: daardie winspersentasie. Of die kliënt werklik die beste voedselervaring het wat hy of sy verdien, is nie die belangrikste doelwit van ’n franchise nie – veral nie met wegneemetes nie.

Toe ons self ’n franchise begin het, het ons met ander mense se geld gewerk. Sodra jy met ander mense se geld werk, is jou liefde vir kos by die agterdeur uit en jou verantwoordelikheidsin hamer by die voordeur.

’n Franchise bied ook min tot geen ruimte vir kreatiwiteit nie. As jy regtig lief is vir kos, kan ’n franchise-konsep jou ingeboks laat voel.

Hoe beïnvloed jul abnormale werkure jul huishouding?

Ons het nog nooit ’n normale 8-tot-5-werkroetine gehad nie, so ons gesin is gewoond daaraan dat ma en pa op vreemde tye en lang ure werk.

Ons het vier kinders en ons motiveer hulle om hul passie te volg en nie die stereotipiese rigtings ná skool te kies nie. As jy jou passie nastreef, sal die geld volg.

Hoe vorder jul ontwikkeling en verspreiding van die glutenvrye pastei?

Ons is in die proses om finansiering te bevestig om ’n fabriek op die been te bring.

Ons het ook gevestigde verhoudings met bekende kleinhandelwinkels in Suid-Afrika waardeur ons die produk gaan verkoop.

Ons volgende stap is om die internasionale mark te betree.

Hoekom glo julle die produk gaan verkoop?

Daar is nog nie so ’n produk op die mark nie. “Good-to-go” is ’n lekker en gesonde pastei wat glutenvry is. Uiteindelik kan mense wat glutenweerstandig is, ook ’n pastei geniet. Glutenweerstandigheid is wêreldwyd ’n kwessie vir baie mense.

Hoe gaan julle keer dat jul resep en metode gesteel word?

Ons gaan nie die resep patenteer nie, want dan is ons resep en metode openbare kennis. In ons fabriek gaan die produksieproses ook so opgestel word dat geen enkele werknemer die hele resep of metode ken nie.

Verder kan ons nie keer dat ’n ander kok of maatskappy ons produk ontleed en namaak nie, ons moet net seker maak ons is altyd een stappie voor ons mededingers.

Die fabriek gaan verg dat julle werknemers moet aanstel. Wat is jul filosofie oor personeelbestuur?

Personeelbestuur is moeilik. Dit is belangrik om werknemers te identifiseer wat verantwoordelikheid kan en wil aanvaar en dan daardie werknemers te ontwikkel en ’n pad met hulle te stap.

Jou deur moet altyd oop wees vir jou werknemers en hulle moet weet waar hulle met jou staan. Ons het voorheen al tot 80 werknemers gehad, so ons het die harde lesse geleer.

Julle het al in die verlede terugslae beleef. Hoe bly julle positief en gemotiveerd?

As jy ’n gesin het om voor te sorg, kan jy nooit gaan lê nie. En as jy gaan lê, mis jy dalk jou groot deurbraak wat om die draai vir jou lê en wag.

 Die onderneming is in Garsfontein, Pretoria. Besoek ​www.koskenades.co.za vir meer inligting of besoek die ​Koskenades-Facebook-blad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.