Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
E-winkel vereis goeie voorraadbeheer
Dié entrepreneur woeker aanlyn met mooi goed
Tharien Hattingh gesels met Michelle du Plessis. Sy bedryf ’n aanlyn winkel, Macaroon Collection, wat veral handsakke en beursies vir vroue, en deesdae ook produkte vir babas, verkoop.
Michelle du Plessis van Macaroon Collection. Foto: Tharien Hattingh

Hoe het Macaroon Collection ontstaan?

Nadat ek ’n BCom-graad in toerisme verwerf het, het ek ses jaar lank as ’n bruilofbeplanner gewerk en daarna in die korporatiewe wêreld betrokke geraak. 

Ná ’n paar jaar as korporatiewe bemarker en ’n honneursgraad later, het die wêreld van mooi bybehore vir vroue my geroep. 

’n Kleinhandelwinkel kon ek nie bekostig nie en toe kry ek die idee om bybehore deur sosiale media te bemark. My idee het gou vlam gevat en ek bedryf nou al drie jaar ’n heeltydse aanlyn winkel uit my woonstel.

Lees nog:

■ ​Volg dié 7 stappe om ’n aanlyn winkel te begin

Jy voer heelwat van jou produkte in, hoe so?

Sekere produkte is nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. My pro­duk­reeks sluit mode-items in wat elke seisoen deur nuwe modes vervang word, dus moet ek goed geprysde verskaffers gebruik, wat meestal in die buiteland is.

Met ’n aanlyn winkel is dit moeilik om te weet wie jou klante is en wat hulle wil hê. Hoe verseker jy dat jou produkreeks in die kol is?

Macaroon Collection is my handelsnaam, met ’n sekere gevoel en atmosfeer. Ek filtreer my klante deur my handelsnaam. 

Kliënte gaan slegs by Macaroon Collec­tion koop as hulle aangetrokke voel tot die handelsnaam. My produkreeks pas by my handelsnaam. 

My winkel is ’n weerspieëling van myself. Ek sal nie produkte koop en bemark as dit nie vir my mooi is nie. 

Dit is ook baie belangrik vir my om my oë heeltyd oop te hou en seker te maak Macaroon Collection bly nuut en vars.

Sosiale media is ’n integrale deel van jou onderneming, hoewel tydrowend. Sal jy oorweeg om uit te kontrakteer?

Nee. Dit is vir my belangrik om dit self te doen. Dit is een van my min kontakkanale met my klante. Sosiale media vertel vir jou baie van wat jou kliënte wil hê en dien as marknavorsing. Sosiale media is ’n strategiese bemarkingsfunksie van my besigheid.

Wat is jou toekomsdrome vir Macaroon Collection?

Om ’n gewilde en gevestigde handelsnaam te word. Ek open ook in April vanjaar my eerste kleinhandelwinkel en verwesenlik so ’n groot droom van my. Babatreetjies.

Wat is uitdagings in die bestuur en groei van ’n aanlyn winkel?

Om die publiek se vertroue te wen en om hulle te leer dat aanlyn inkopies effektief en veilig is. Die Suid-Afrikaanse mark moet nog baie ontwikkel in die verband. Gelukkig tree daar jaarliks heelwat aanlyn winkels toe tot die mark en vergroot dus die platform vir die publiek.

Is die tegniese kant van ’n aanlyn winkel ingewikkeld?

Nee, glad nie. Daar is uitstekende diensverskaffers en spesialiste in Suid-Afrika. 

Die instandhouding van ’n webblad is egter ’n ander ding. Dit is ’n deurlopende taak om seker te maak dat ’n aanlyn winkel se webblad op die hoogte en volledig is. 

Op die oomblik is my voorraadstelsel en my aanlyn verkoopstelsel nog nie geïntegreer nie, so dit verg baie tyd en aandag.

’n Aanlyn winkel het nie ’n fisieke afsetpunt nie. Hoe gemaak met verkope wat omgeruil word?

Ek koerier die produkte terug en stuur die regte produk of gee die klant se geld terug. Ek probeer sulke gevalle beperk, want dit vreet aan my wins. Dit is belangrik om die eerste keer die regte produk na die regte koper in die gewenste toestand te stuur.

Hoe het die stakende posdiens jou onderneming geraak? 

As entrepreneur is my oë en ore altyd oop en weet ek wat in my industrie aangaan. Só verseker ek dat ek vroegtydig planne beraam as van my diensverskaffers nie beskikbaar is nie. Ek maak slegs gebruik van die private sektor vir al my koerierbehoeftes.

Jou ouers is albei entrepreneurs. Is entrepreneurskap in jou gene of het jy dit aangeleer?

Ek dink dit is bietjie van albei. Jy moet die persoonlikheid hê om geleenthede raak te sien, en risiko’s te loop, maar jy moet ook die vaardighede aanleer om die regte geleenthede raak te sien en om risiko’s te evalueer en te bestuur.

Alec Candiotes van Cactic Fitness.

Lees nog onderhoude met entrepreneurs deur Tharien Hattingh:

​Fiks​e entrepreneur skep fris maatskappy

​Speke van fiets-webwerf gons omtrént

Sy het die X-faktor vir s​koothondjies

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.