Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Dié kantoor is beter as ’n koffiehuis
Werkplek vir entrepreneurs
Op soek na ’n kantoor in Kaapstad wat nie soos ’n kantoor voel nie? Tharien Hattingh gesels met Schuyler Vorster oor sy unieke konsep, Ideas Cartel.
Schuyler Vorster van Ideas Cartel. Foto: Nicolette Basson

Wat is Ideas Cartel?

Ideas Cartel is ’n werkomgewing in Kaapstad wat werkspasie op ’n aanpasbare grondslag verhuur. Ideas Cartel bied entre­preneurs en vryskutwerkers ’n plek waar hulle kan werk en voeg die nodige kantoordienste by. Daar is verskillende soorte lidmaatskap waaruit lede kan kies en dit kan aangepas word om lede se spesi­fieke behoeftes te bevredig.

Waar het jy aan die idee van Ideas Cartel gekom?

Ek is self ’n sakeman en entrepreneur wat gereeld reis en by koffiewinkels sit en werk. Die behoefte het by my ontstaan om in ’n tydelike werkruimte te wees wat my meer bied as ’n koffiewinkel. Ek het dit ook onregverdig gevind om by ’n koffiewinkel te sit en werk, omdat die geld wat ek daar bestee nie die spasie en tyd regverdig nie.

Hoe het Ideas Cartel gegroei?

Ons het met twee vertrekke en ’n paar tafels begin. Twee jaar later beset ons lede ’n hele gebou in Waterkantstraat in Kaapstad en is daar ’n waglys vir toekomstige lede.

Hoe het jy die onderneming gefinansier?

Ek is heeltyds ’n bemarkingsbestuurder by ’n tegnologiemaatskappy en is self betrokke by ’n paar suksesvolle ondernemings. Ek kon dus self Ideas Cartel se aanvangskapitaal voorsien.

Hoe bestuur jy ’n suksesvolle onderneming as jy jou aandag tussen soveel ondernemings moet verdeel?

Ek maak van tegnologie gebruik. Ek het ’n uitstekende toepassing op my foon waarmee ek Ideas Cartel bestuur. Ek het ook ’n ongelooflike bestuurder wat verseker dat alles glad verloop. Sy het ’n passie vir die onderneming en bestuur dit asof dit haar eie is.

Ek volg ’n gesonde leefstyl en maak seker ek kry genoeg slaap. Dit verseker dat ek my tyd optimaal kan benut.

Wat is Ideas Cartel se toekomsplanne?

Ons maak ’n tweede tak in Kaapstad oop wat lede meer unieke dienste sal bied. Daar gaan byvoorbeeld ’n skoonheidskundige op die perseel wees en ’n lid kan vinnig haar naels by haar ­tafel laat versorg terwyl sy nog werk. Ideas Cartel fokus daarop om vir lede elke dag ’n lekker en produktiewe werksdag te skep.

Kaapstad is ’n kosmopolitiese stad. Is daar ander stede waar hierdie konsep sal werk?

Omdat Ideas Cartel vir ’n baie spesifieke mark geskep is, sal die konsep slegs werk waar ’n nismark is. Op die oomblik is die nismark slegs in Kaapstad. Maar omdat die sakewêreld en tegnologie deurlopend verander, kan ’n nismark vinnig in ’n ander Suid-Afrikaanse stad ontwikkel. Ons kan wel moontlik die konsep na ander wêreldstede soos Dubai of London te neem.

Hoe lyk jul kompetisie?

Op die oomblik is daar geen ander spelers in die mark wat presies dieselfde diens as ons lewer nie. Ons diens is uniek en fokus daarop om weg te beweeg van die tradisionele korporatiewe kantooromgewing. As daar wel kompetisie opduik, kan dit net ’n goeie ding wees.

Hoe kan lede regtig produktief werk in ’n omgewing waar ’n klomp mense van verskillende ondernemings werk?

Ons lede het ’n keuse van verskillende werkomgewings. Vir ’n sosiale persoon is daar ’n oopplan-opsie en vir iemand wat in stilte en in isolasie moet werk, is daar ’n kantoor met sy eie badkamer. Dit hang af van jou in watter omgewing jy wil werk. Ons aanvullende dienste help ook dat lede se produktiwiteit styg. Só spaar ons hulle tyd.

Entrepreneurs en vryskutwerkers wat in isolasie werk, mis soms die energie wat hulle van ander kan kry. Ideas Cartel moedig dié soort energie aan.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.