Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneur se raad: ‘Moenie beloof wat jy nie kan lewer’
Daar is geen tekort aan doemprofete oor die land se vervaardigingsektor nie, maar elke reël het 'n uitsondering. Hanno Calitz, mede-eienaar van Absolute Ablutions, gesels met Tharien Hattingh oor die wêreldwye sukses van dié onderneming.

Wat is Absolute Ablutions?

Absolute Ablutions ontwerp, vervaardig en versprei ’n verskeidenheid sleepwaens en mobiele toilette. Ons spesialiseer daarin om produkte te lewer volgens die kliënt se unieke spesifikasies.

Hoe het jy besluit om met die vervaardiging van dié produk te begin?

Ek het 12 jaar lank in die staal- en boubedryf gewerk en daar ondervinding van loodgieterswerk opgedoen. Ek het die geleentheid raakgesien om toilette vir die Kaapse rolprentbedryf te bou en só het Absolute Ablu­tions begin.

Hoe het jy die aanvangskapitaal voorsien?

Toe ek Absolute Ablutions 15 jaar gelede geopen het, het ek beleggingseiendomme met verbande gehad waarteen ek kon leen.

Dit was stresvol om met die bank se geld ’n nuwe onderneming te begin en ek het so gou moontlik ’n positiewe kontantbalans opgebou en dus alle winste in die onderneming gedruk.

Vandag groei ons soos ons dit op ’n gesonde manier kan hanteer.

Gesonde kontantvloei is vir jou belangrik. Hoe maak jy seker Absolute Ablutions bly in die swart?

Ons begin eers met die vervaardiging van ’n produk as ons ’n deposito ontvang het. Ons beperk ons blootstelling aan risiko deur kort produksietyd, vinnige lewering, gunstige voorwaardes by verskaffers, asook betaling teen aflewering. 

Die materiale wat ons gebruik, is duur en kan dus nie lank op ons vloer wees nie. ’n Voltooide produk moet so gou moontlik ’n eienaar kry. Ons vervaardig dus meestal op bestelling.

Goeie beplanning bly steeds een van die belangrikste rolle in produksie en kontantvloei.

Wat is die belangrikste faktore in ’n vervaardigingsonderneming?

Betroubare verskaffers en jou produksiespan. Verskaffers moet by spertye hou en produkte van goeie gehalte lewer. Sonder materiale kan geen produk vervaardig word nie.

Ons produksie-en-bestuurspan is ons belangrikste bate. Ons werknemers se entoesiastiese deelname in die produksie en trots op die eindproduk is ’n integrale deel van ons sukses.

Hanno Calitz, mede-eienaar van Absolute Ablutions. Foto: Tharien Hattingh

Hoe motiveer jy jou werknemers?

Ons het daagliks ’n produksievergadering, waar doelwitte en sperdatums bespreek word.

Ons maak seker dat elke werknemer weet wat van hom verwag word en wat sy spesifieke doelwit vir die week is.

Die meeste van ons bestellings verskil en dit dra by tot die interessantheid van die werk. Ons vergoed ook ons werknemers regverdig en beloon hulle as belangrike sperdatums bereik is.

Jou broer, Steyn, staan saam met jou aan die bestuur van Absolute Ablutions. Hoe hanteer julle hierdie werksverhouding?

Dit werk baie goed vir ons. Ek dink nie aan my broer as ’n familielid nie, maar eerder as vennoot wat die produksiespan met sy vinger op die pols stuur.

Dit is net ’n bonus dat ons familie is en mekaar se sakebelange ook op die hart dra.

Ons het gelyke aandele in die onderneming om goeie magsdeling te handhaaf.

Jou kliënteverhoudings is vir jou belangrik en jy hanteer alle kommunikasie met kliënte self. Hoe so?

Ek wil self met elke kliënt skakel en seker maak ons verstaan die kliënt se behoeftes en vervaardig die regte produk. Dit is belangrik om inisiatief aan die dag te lê om sodoende die regte produk te skep waar ’n kliënt ’n unieke behoefte het.

Ek hanteer ook alle klagtes van kliënte en beskou dit as deel van my plig om seker te maak dat alle kliënte 100% tevrede is met die eindproduk.

Ek hanteer tot 60 oproepe per dag en my persoonlike kontaknommer is ons eerste bemarkingskakel.

Wie is Absolute Ablutions se kliën­te?

Dit wissel van diensmaatskappye en boere tot konstruksiemaatskappye en myne. Ons voorsien produkte oor die hele vasteland heen en het al aan kliënte in Nieu-Seeland en Kalifornië voorsien.

Hoekom stel internasionale kliënte in hierdie soort Suid-Afrikaanse produk belang?

Suid-Afrika het ’n goeie vervaardigingskultuur met genoegsame rugsteun van materiale en logistiek. Ons het dit reggekry om met ’n unieke produk en sake-etiek ’n internasionale reputasie in ’n wye mark op te bou. Ons voer sowat 25% van ons omset uit.

Wat is jou goue sakereël?

Doen wat jy sê en sê wat jy doen. Moenie ’n bestelling aan ’n kliënt beloof as jy dit nie kan bybring nie.

Ek glo ook daarin om altyd eerste die slegte nuus te deel. Moenie uitstel om ’n kliënt in te lig dat jou vervaardiging agter skedule is nie. Hou die kliënt altyd op die hoogte van sake.

■ Absolute Ablutions se fabriek is in Stellenbosch in die Wes-Kaap. Besoek www.absoluteablutions.c​o.za vir meer inligting.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.