Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Bosch-familie van Witrivier
Entrepreneursake: Hoe laat kunstenaars die boeke klop?
Geen sprake van aftrede in dié veld
Anton en Hanlie Bosch is keramiekkunstenaars wat suksesvol hul eie ateljee in Witrivier, Bosch Ceramic Art Studio, bedryf. Nina Bosch is hul jongste dogter, wat sedert einde 2013 as juwelier en kunstenaar onder die naam Nina Bosch Porcelain Jewellery werk. Tharien Hattingh gesels met hulle.
Hanlie, Anton en Nina Bosch by hul huis in Witrivier. Foto: Tharien Hattinhh
Keramiek is ’n fisiek veeleisende medium om mee te werk en ons weet daar gaan ’n dag kom wanneer dit nie meer moontlik gaan wees om so hard te werk nie. Ons sal aanpas by ons omstandighede en ook na ander kunsmediums beweeg.

Julle al drie is kreatiewe siele wat ’n lewe uit kuns maak. Hoe oorleef julle sonder ’n vaste maandelikse inkomste?

Dit is baie stresvol, maar jy raak gewoond daaraan. As jy heeldag kreatief verkeer en skeppend is, gaan die lewe aan en op die een of ander manier oorleef jy.

Ons kreatiewe siele beplan nie ons toekoms in te veel besonderhede nie en leer om te leef van wat ons het.

Die bekommernisse oor môre druk ons wel om hard te werk en gedissiplineerd te wees. Ons kan nie net werk wanneer ons “geïnspireerd’ voel nie.

Hoe belangrik is dit vir julle om kunswerke te lewer wat die mark wil hê?

Ons fokus elke dag daarop om mooi stukke te skep wat mense sal wil koop.

Ons doen nooit marknavorsing en skep dan spesifiek volgens ’n marktendens nie. Ons kreatiewe wil om te skep kom altyd eerste, nie die tendense in die mark nie.

Dit is wel baie belangrik om vir alle prysklasse kunswerke te maak. Om ’n keramiek-ateljee aan die gang te hou, moet jy voortdurend verskillende stukke maak. Jy kan nie net vir maande aaneen op groot stukke fokus nie, jy moet ook kleiner stukke maak en só ’n groter gedeelte van die mark bevredig.

Het julle vaste werksure?

Nee. Jy werk totdat die kunsstuk klaar is. Die medium waarmee ons werk, verg deurlopende aandag, veral as daar stukke is wat in die oond gebak word of droog gewaai word. Ons werk konstant.

Waar is julle afsetpunte?

Ons stukke is te koop by ons ateljee in Witrivier en dan hou ons ook gereeld uitstallings landwyd. Nina verkoop van haar juweliersware in winkels en op markte.

Wat bedoel kunstenaars daarmee as hulle sê ’n kunsuitstalling het goed gegaan?

Ons sal sê as 90% van jou werke verkoop het, het dit goed gegaan. Ons kunsmedium is wel nie die winsgewendste medium nie. Keramiek het baie uitgawes.

Wat is jul grootste uitgawes?

Elektrisiteit, definitief. Ons gebruik groot oonde.

Watter uitdagings beleef julle in jul ondernemings?

Dit is ’n uitdaging om heeltyd gefokus en kreatief te bly. Partykeer ervaar ’n mens ’n kreatiewe blokkasie.

Ons sit ook nogal druk op onsself om heeltyd te vernuwe en beter te word in wat ons doen.

Hanlie help met die meeste van die agter-die-skerms-sake-aspekte en haar grootste uitdaging is om genoeg tyd vir haar kuns te vind.

Nina het weer die uitdaging om haar besigheid te vestig.

Raak julle ooit uitgebrand?

Ja, ’n kunstenaar raak moeg en uitgeput en dan is dit tyd om weg te breek van die ateljee en jou kop skoon te kry.

Anton is die seun van die wêreldbekende keramiekkunstenaar, Esias Bosch. Hoe help Esias se beroemde naam julle met jul besighede?

Pa Esias se naam het in ’n sekere mate die pad vir ons gelyk gemaak, maar dit sit weer ’n ander soort verantwoordelikheid op ons. Dít wat ons skep moet steeds mooi wees, maak nie saak wat ons van is of wie ons voorsate is nie.

Word jul werk ooit gemeet aan Esias se werk?

Ja, maar ons manier van dinge doen verskil baie. Ons het uiteenlopende style en tegnieke.

Hoe beplan julle vir jul oudag?

Kunstenaars kan nie aftree nie. Ons sal nooit kan ophou om kreatief te wees nie en daarom is dit belangrik vir ons om ons gesondheid op te pas.

Keramiek is ’n fisiek veeleisende medium om mee te werk en ons weet daar gaan ’n dag kom wanneer dit nie meer moontlik gaan wees om so hard te werk nie. Ons sal aanpas by ons omstandighede en ook na ander kunsmediums beweeg.

Wat is julle toekomsplanne?

Nina moet haar naam vestig en groei in die mark en droom daarvan om haar eie ateljee te hê. Hanlie wil graag meer tyd maak om op haar kuns te fokus en Anton wil kreatief bly en aanhou om mooi kunswerke te skep.

’n Oorsese uitstalling is ook nog ’n groot droom van Anton.

Watter raad het julle aan ander kunstenaars wat ’n lewe uit kuns wil maak?

Jy moet bereid wees om baie hard te werk.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.