Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneursake
Fikse entrepreneur skep fris maatskappy
Jy wil oefen, maar die gimnasium is nie jou ding nie of jy het bloot nie tyd daarvoor nie. Tharien Hattingh gesels met ’n entrepreneur wat dalk net die toerusting vir jou het: Alec Candiotes van Cactic Fitness.
Alec Candiotes van Cactic Fitness – ’n ou wat ’n onderneming uit sy passie vir oefening geskep het. Foto: Mario Sales

Wat is Cactic Fitness?

Ons verskaf gimtoerusting wat jou die vryheid gee om te oefen wanneer en waar jy wil. Ons leuse is: “Gym. Your way.”

Hoe het jy op die idee gekom?

Ek is nog altyd mal oor oefening. Met die geboorte van my eerste kind het ek minder oefentyd gehad en ek moes ’n plan maak.

Cactic Fitness is gebore uit my behoefte om ’n gimnasiumoefensessie by die huis te kan doen. Gewigte en ander oefentoerusting kos ’n plaas se prys en dit is toe dat ek aan dié kreatiewe toerusting dink.

Cactic Fitness word vervaardig deur Cactic Manufacturing. Hoe het die sinergie ontstaan?

In 2010 is my pa oorlede en as ouer broer moes ek inspring om die pot aan die kook te hou. Ek het ’n geleentheid gesien om ’n vervaardigingsaanleg in Kempton Park saam met ander vennote te koop. Die vervaardigingsaanleg het perfek ingepas by die ontwikkeling en vervaardiging van Cactic Fitness se produkte.

Hoe het jy jou vennote gekies?

Dit was vir my veral belangrik dat my vennote in Cactic se visie en missie glo en saam aan ’n toekoms wil bou. Hulle het jare se ondervinding in hul spesialisvelde en verseker dus dat ons ons sake op alle gebiede reg bestuur.

Jy het weggestap van ’n groot salaris as geoktrooieerde rekenmeester om jou eie onderneming te begin. Hoe het jy dit reggekry?

Ek en my vrou is ’n goeie span en ons het geweet ons sal ons uitgawes moet sny om hierdie droom te bewaarheid.

Ek hou ook altyd die einddoel in die oog. Ek fokus op die rede vir die skuif en hoe dit my en my gesin op lang termyn gaan raak. Dit is belangrik dat ’n entrepreneur nie net op persoonlike finan­siële gewin fokus nie, maar ook op die impak op jou omgewing en op mense se lewe.

Hoe het jou professionele agtergrond bygedra tot die sukses van Cactic Fitness?

Dit help my definitief met my beplanning en die bestuur van die onderneming, ook . Ek weet hoe om voor te berei vir vergaderings en voorleggings en hoe om met mense te werk. Dit help my ook definitief met die bestuur van die finansiële sy. Ons het ’n patent vir Cactic Fitness geregistreer en dit was harde werk en baie papierwerk – my agtergrond het daartoe bygedra dat ek dit professioneel kon doen.

Jy gebruik goeiegehalte-diensverskaffers. Glo jy dat goedkoop koop duur koop is?

Ja, in die meeste gevalle. Cactic Fitness fokus daarop om goeiegehalte-gimtoerusting aan klante te lewer en die klante belê in Cactic Fitness en in die mense agter Cactic Fitness. Net so belê ek in mense as my diensverskaffers en ek verwag goeie gehalte.

Wat was jou grootste ontnugtering as entrepreneur?

Suid-Afrikaners is sku om ander Suid-Afrikaners te ondersteun. Ons moet in ons alledaagse bestaan Suid-Afrikaners ondersteun. Ons moet vervaardiging aanmoedig en plaaslik koop en verkoop.

Wat is jou grootste uitdaging?

Geduld! Dit is vir my moeilik om geduldig te bly en te wag dat die onderneming groei tot waar ek dit wil hê.

Wie is Cactic Fitness se klante?

Sowel individue as kommer­siële klante soos skole, hotelle en gimnasiums.

Watter eienskap van jul produk verseker dat dit nie ’n wit olifant gaan word nie?

Die kreatiwiteit van die produk. Daar is ’n groot verskeidenheid van oefeninge wat met die toerusting gedoen kan word en oud en jonk, vrou en man kan saam oefen. Die toerusting pak ook maklik weg sodat dit nie in jou pad sal wees nie.

Wat is Cactic Fitness se toekomsplanne?

Om te groei, natuurlik! Dit is ons toekomsvisie om ’n handelsnaam te vestig wat internasionaal erkenning kry en wat trots Suid-Afrikaans vervaardig en versprei word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.