Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Diskoers
Herman Mashaba: ’n Leier laat hom deur die werklikheid lei
Diskoers is ’n weeklikse rubriek elke Donderdag in Sake waarin van die land se voorste uitvoerende hoofde, akademici en sakeleiers hul perspektief oor leierskap gee. Herman Mashaba, uitvoerende voorsitter van Lephatsi Investments en stigter van Black Like Me, skryf vandag vir ons.

In Suid-Afrika moet ons vandag op politieke leierskap fokus omdat die besluite wat op daardie vlak geneem word, die negatiefste op die land inwerk.

Ons lees daagliks van besluite wat lyk of dit doelbewus geneem is om skade te doen, pleks daarvan om die ekonomiese omstandighede vir ons mense te verbeter.

As die regering die werklikheid in ag wou neem, sou hy besef dat die besluite wat hy neem skade aanrig en dat hy van rigting moet verander, maar dit is nie wat gebeur nie.

Regering moet kyk na wat in die res van die wêreld werk

Die regering blyk doelgerig in die verkeerde rigting in te foeter. Daar is verskeie internasionale vergelykings wat kan help dat die regte besluite geneem word vir die verbetering van Suid-Afrika se ekonomiese groei, maar ons beleidmakers blyk vasberade te wees om die teenoorgestelde te doen as wat in die res van die wêreld werk.

Jy sal dink as die beleidsmakers iets sou wou leer, hulle sal kyk na wat die regerings van Mauritius en Singapoer doen en nie dié van Kuba nie. Wat gesondheidsorg en ekonomiese vooruitgang betref, is daar baie by Singapoer te leer.

En wanneer dit kom by verhoudings tussen die regering, sake en die bevolking in die algemeen, lyk dit of Mauritius ’n weg gevind het om al die talente tot voordeel van almal te benut. Hul besluite word geneem op grond van die werklikheid.

In my eie onderneming het ek in 1997 ’n slegte besluit geneem toe ek die meerderheidsbelang in Black Like Me aan ’n multina­sionale maatskappy verkoop het. My motivering was dat die maatskappy sal voordeel trek uit die goed gevestigde verspreidingsnetwerk en bemarkingshulpbronne. 

Herman Mashaba is die uitvoerende voorsitter van Lephatsi Investments, die stigter en uitvoerende hoof van Leswikeng Minerals and Energy, en stigter van die skoonheidsproduktemaatskappy Black Like Me.

Die werklikheid, nie wensdenkery, moet gids wees

Ongelukkig het ons nie die sinergieë bereik wat ek verwag het nie en die maatskappy het agteruit gegaan. Vreemde stelsels en beheer is ingestel wat tot die koste bygedra het, maar nie tot verkope nie.

Toe ek die werklikheid in ag geneem het, het ek besluit om te onderhandel dat die ooreenkoms beëindig word en het ten einde die onderneming twee jaar later teruggekoop. Die werklikheid, nie wensdenkery, moes my gids wees.

Kan ons politici nie ook sien waar hulle foute gemaak het, die realiteit in oënskou neem en van rigting verander nie? Besef hulle nie byvoorbeeld dat die talente van al die land se mense ten volle benut moet word om van Suid-Afrika ’n vooruitstrewende en vredevolle land te maak nie?

Kyk na Singapoer se Lee Kuan Yew

As jy elders ter wêreld na goeie leierskap soek, is daar selde ’n beter voorbeeld as Singapoer se Lee Kuan Yew. Toe hy premier geword het van dié onderontwikkelde eiland wat Singapoer was, het hy dit omgedraai in die ekonomiese krag wat dit vandag is.

Singapoer het ’n goeie private en openbare gesondheidsorgstelsel en die lewensverwagting van die mense is by geboorte 82, vergeleke met Suid-Afrika se 53.

Singapoer het ’n bruto binnelandse produk per capita van $60 000 teenoor Suid-Afrika se $11 000, en ’n werkloosheidskoers van 2% vergeleke met ons 36,1%. Watter soort leierskap gee sulke resultate?

Die regering blyk doelgerig in die verkeerde rigting in te foeter.
Herman Mashaba

Nasionale minimum loon nie goed vir ekonomie

Sou Lee Kuan Yew ’n nasionale minimum loon ingestel het in tyd van massiewe werkloosheidsvlakke? Nooit!

Sou hy sukkelende werkgewers aangesê het het om meer te betaal as dit wat hulle reeds betaal en so daartoe lei dat hulle minder werkers aanstel? Nee, want hy grond sy beleid op die werklikheid.

Glo die regering werklik die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se verteenwoordigers dat die vasstelling van ’n nasionale minimum loon goed sal wees vir die ekonomie? Of weet hulle dat die ILO twak praat en die prys van arbeid styg as die kopers daarvan minder koop en nie meer nie; en dat wesenlike werkloosheid net sal styg nie?

Soos dit is, het ons 8,7 miljoen werkloses (36,1% van die potensiële arbeidsmag) in die land. Gaan die regering werklik ’n beleid instel wat dié syfer net verhoog?

As hy bereid is om na die werklikheid te kyk, sal hy nie dalk besef dat indien jy dieselfde minimum loon instel in stedelike en plattelandse gebiede, waar daar reeds ’n laer vraag na arbeid is, mense beslis hul werk gaan verloor nie? 

Wil hulle ’n Arabiese Lente hier veroorsaak? Sal dit die enigste soort werklikheid wees wat hulle van rigting laat verander? Hoekom vra hulle die ILO se raad? Waarom vra hulle nie eerder klein en arm werkgewers hoeveel mense hulle sal moet afdank om self te keer dat hulle bankrot speel nie?

Suid-Afrika se politieke leiers moet hul besluite op die werklikheid begin grond en nie op wensdenkery nie. Die oorlewing van die land hang daarvan af!

Dís die diskoers

Diskoers is ’n weeklikse rubriek elke Donderdag in Sake waarin van die land se voorste uitvoerende hoofde, akademici en sakeleiers hul perspektief oor leierskap gee.

Wie is Herman Mashaba?

Herman Mashaba is die uitvoerende voorsitter van Lephatsi Investments, die stigter en uitvoerende hoof van Leswikeng Minerals and Energy, stigter van die skoonheidsproduktemaatskappy Black Like Me en voormalige voorsitter van die Vryemarkstigting.

Sy outobiografie, Black Like You, het in 2013 verskyn. Daarin vertel hy van sy grootwordjare in Ga-Ramotse naby Hammanskraal, en hoe hy aanvanklik haarprodukte uit die kattebak van sy motor verkoop het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.