Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Jong entrepreneurs kry kans om uitvindsels te wys
Siyavuya Ngudle, ’n Bloemfonteinse deelnemer aan die SAB Kickstart-wedstryd vir uitvinders en ’n tweedejaarstudent in inligtingstegnologie, demonstreer ’n toepassing wat hy geskryf het en wat hy kommersieel wil ontwikkel. Foto: Vi

’n Kompetisie vir “garage-uitvinders” laat jong Suid-Afrikaanse entrepreneurs toustaan om hul uitvindsels aan die wêreld te wys.

Die bierreus SAB hou tans landwyd uitdunne in ’n nuwe entrepreneursprogram, SAB KickStart Ignite, waar die teikengroep jong innoveerders met ’n lewensvatbare produk, rekenaarprogram of idee is.

Op die onlangse uitdunronde by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie: Vrystaat (SUT) in Bloemfontein, het Simphiwe Mntambo, ontwikkelingspesialis en een van die beoordelaars, verduidelik dat die program suksesvolle “uitvinders” onder sy vlerk sal neem en help om hul idee in ’n besigheid te omskep.

Maar eers moes jy binne twee minute die skeptiese beoordelaars oortuig dat jou idee darem die potensiaal het om ’n lewensvatbare onderneming te word.

“Ons soek mense wat iets self ontwerp en die kennis het om dit self te vervaardig, nie die werk aan iemand anders uitkontrakteer of bloot die produkte invoer en onder ’n ander verpakking wil verkoop nie,” verduidelik Mntambo.

Dat die beoordelaars bedryfspesialiste is, het gou duidelik geword toe een van die Bloemfonteinse deelnemers verduidelik hoe hy ’n rekenaarprogram ontwerp het wat mense speel-speel help om elektrisiteit te bespaar.

’n Ingewikkelde gesprek oor programmering het gevolg, en die deelnemer moes toegee dat die programmeertaal wat hy gebruik het, nie die beste een vir die doel was nie.

Desondanks is hy genooi na die volgende ronde waar hy ná verstellings aan sy programmering en ’n daglange werksessie om sy idee te verfyn, weer die kans sou kry om sy sake-idee te verkoop.

Bootcamp

“Suksevolle vervaardigers wie se idees potensiaal het, word genooi na ’n ‘Makers Bootcamp’ waar hulle die kans kry om hul idees of patent te modelleer, deur gebruik te maak van beskikbare vervaardigingskomponente. 

Hierna sal dié wat ’n uitstekende kans op sukses het, en gewillig is om baie tyd en moeite in die ontwikkeling van hul produk te sit, gekeur word om vir ses maande lank ’n inkubasieprogram te volg, verduidelik Mpho Sadiki, SAB se hoof van transformasie en volhoubaarheid.

In dié ses maande sal die jong uitvinders deur ingenieurs en sake-afrigters geleer word hoe om hul idee te verfyn tot ’n produk wat iemand graag sal aankoop. Hulle sal ’n maandelikse toelaag ontvang, asook aanvangkapitaal om hul onderneming op die been te kry.

SAB hoop om die jong vervaardigers-beweging in Suid-Afrika uit te bou en te versterk deur jong entrepreneurs te bemagtig om prototipes te maak en hul idees te kommersialiseer, verduidelik Sadiki.

“Op hierdie wyse verskuif ons die klem weg van verbruikers wat produkte koop na vervaardigers van innoverende produkte, dienste en bedrywe wat die ekonomie kan versterk.”

 SAB KickStart Ignite is gemik op jong vervaardigers tussen 18 en 35 wat ’n kommersieel lewensvatbare produk of idee het wat verband hou met die vervaardigings- of inligtingstegnologie-sektore.

Die idee moet onder meer gebruik maak van een van die volgende metodes of grondstowwe: 3D-drukwerk, leer, hout, metaal, laser- of viniel-snywerk, sagteware-ontwerp, of die ontwikkeling van tegnologie vir die internet. 

Die kompetisie word in vennootskap met universiteite van tegnologie en vervaardigersmaatskappye soos The Makerspace en House 4 Hack gehou. 

Die volgende uitdunronde vind op 2 Oktober by die Universiteit van Limpopo plaas. Meer inligting is beskikbaar by www.sabki​ckstart.net of stuur ’n e-pos aan ​kickstart@za.sabmiller.com.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.