Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Jy moet weet wanneer om te werk én te speel
Tharien Hattingh gesels met Gerrit Olivier, eienaar van About IT, ’n IT-maatskappy met takke in Gauteng, die Oos-Kaap en die Vrystaat.
Gerrit Olivier, eienaar van About IT. Foto: Tharien Hattingh

Wat is About IT? 

Dit is my maatskappy, wat Sage-produkte verkoop, instel en uitbrei. Ons hooffokus is om inligtingstelsels aan kliënte te verskaf wat die funksionering van hul onderneming optimaliseer. Jy het gestudeer om ’n ouditeur te word. 

Hoekom het jy van rigting verander?

As ouditklerk in die vroeë 1990’s het ek besef ek hou baie meer van die werking van die interne stelsels van maatskappye as van die oudit daarvan.

Nadat ek my klerkskap voltooi het, het ek gespesialiseer in stelsels. Ek was betrokke by en deel van verskeie maatskappye totdat ek About IT in 2003 begin het. Jou tyd as ouditklerk was in die era voordat rekenaars gebruik is vir oudit. 

Watter invloed het dit op jou ontwikkeling gehad?

Ek voel bevoorreg dat ek my loopbaan met handoudits kon afskop. Dit het verseker dat ek weet presies hoe elke sakeproses werk en hoe rekeningkunde werk. Vandag hanteer rekenaars baie van die eenvoudige funksies. Dit is belangrik om eers die eenvoudige werking van ’n stelsel te ken en te verstaan voordat jy op die ingewikkelde sy kan fokus. 

Hoe het jy About IT se aanvang gefinansier?

Terwyl ek nog ’n heeltydse werk gehad het, het ek my eie kliëntebasis in my vrye tyd opgebou. Ek het oorgeskakel toe my kliënte my uitgawes kon dra. Ek het aan die begin ook daarop gefokus om my koste so laag as moontlik te hou om risiko te minimaliseer. 

Hoe het About IT ontwikkel?

Ons het begin met ’n tak in Pretoria en vandag het ons ’n sterk teenwoordigheid in die Oos-Kaap. Ons het ook onlangs ’n tak in Bloemfontein oopgemaak. Ons het aan die begin verskeie dienste gebied, van hardeware-ondersteuning tot stelselontwerp. Tegnologie het so ontwikkel dat ons vandag slegs op een ding kan fokus om te verseker dat ons die beste diens moontlik bied. 

Hoe betrokke is jy by die daaglikse bedrywighede?

Ek is 100% betrokke. Ná 11 jaar is die onderneming steeds nie op ’n plek waar ek kan terugsit en ontspan nie. Omdat ons ’n diens lewer, word dit gekoppel aan ’n persoon. Ek is een van die sleutelpersone in die onderneming en dien die meeste kliënte persoonlik.

Mense is die kern van jou onderneming. Hoe hanteer jy personeelbestuur?

Dit is seker die ingewikkeldste deel van die onderneming. Ons werk in ’n spesialisveld en ek benodig dus individue met ondervinding en die nodige kwalifikasies en dit is ’n duur kommoditeit. Dit is ook moeilik om werknemers lojaal te hou en te verseker dat die geld wat jy in hulle belê deur opleiding en ondervinding, in die toekoms vir jou ’n aanwins gaan wees. 

Wat was jou duurste les tot dusver?

Dat jy nie die verkeerde personeel moet aanstel nie. Jy kan honderd goeie projekte afhandel, maar misluk net een keer, en jou onderneming ly oneindige skade. In dié bedryf hang die sukses van jou projekte meestal van jou personeel af. 

Jy is ’n kranige driekampatleet. Hoe beïnvloed dit jou sakebenadering?

Net soos met ander aspekte van die lewe is dit belangrik om jou onderneming gebalanseerd te bedryf en te bestuur.

Driekamp het my geleer om op verskeie dinge gelyk te fokus en nie by een ding vas te haak nie. Dit het my ook gehelp om ’n meer holistiese uitkyk op die lewe en my onderneming te hê. Dié eienskap help met my besluitneming. 

Watter eienskappe het ’n ware entrepreneur volgens jou?

Hy kan baie hard werk en het dissipline – dissipline om te weet wanneer jy moet werk en wanneer jy moet ophou werk.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.