Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Koekedoor se Martjie bou aan legende
TV-kykers sal Martjie Malan, eienaar van M Patisserie in Stellenbosch, herken as naaswenner van die kykNET-program Koekedoor. Sy gesels met Tharien Hattingh.
Martjie Malan van M Patisserie, ’n bakkery in Stellenbosch. Foto: Tharien Hattingh

Hoe het dit gebeur dat jy jou eie bakkery open?

Ek was nog altyd mal oor bak en beoefen die stokperdjie al vandat ek ’n klein dogtertjie was. Ek het onderwys gestudeer en daarna drie jaar lank in Suid-Afrika skoolgehou.

My man se werkgewer het ons vir ’n jaar na Swede gestuur. Daar het ek by ’n internasionale skool gewerk. In Swede het ek Europese fyngebak ontdek.

Met ons terugkeer na Suid-Afrika wou ek ’n onderneming begin wat hand aan hand loop met my liefde vir bak.

Eers het ek my gebak net vanuit ’n kombuis en op markte verkoop. Ek het ook later ’n bakskool vir kinders gehad.

Deesdae fokus ek al my tyd en energie op my winkel in Stellenbosch.

Hoe het jy jou droom gefinansier?

Ek sê altyd ek het dit met bloedgeld begin. Ek het verskeie beleggers wat die droom vir my moontlik maak, en my man het ook ’n aandeel hierin. Ek is dus gefokus en werk baie hard om sukses te verseker. 

Die besit van ’n koffiewinkel op Stellenbosch klink romanties. Is dit so romanties?

Die winkel is ’n droom van my, maar ek twyfel of dit aldag so romanties is. Dit is baie harde werk en aangesien ek ’n perfeksionis is en my unieke styl in al my produkte inbring, is ek meestal nou betrokke by al die prosesse van die onderneming.

Sal jy jou verantwoordelikhede kan delegeer na ’n betroubare bestuurder?

Ek sal ’n betroubare span en prosesse moet kry om te verseker dat die winkel soms sonder my kan funksioneer. My gesin is my grootste prioriteit en verdien my aandag wanneer nodig. Maar dit gaan moeilik wees. Ek benodig ’n ambassadeur wat my styl en my handelsnaam verstaan soos ek.

Ek sal ook graag by ander fasette van die bakbedryf betrokke wil raak en sal hiervoor meer aanpasbaar moet wees.

Wat is jou raad aan ander entrepreneurs?

Kry vir jou ’n definitiewe prentjie en doel waarheen jy werk. Dit sal jou help om al die nodige trappies tot by jou einddoel met moed en volharding te klim. 

Dit is ook belangrik om elke trappie op jou pad na bo as belangrik te ag. Die klein tree wat jy vandag gee en die lesse wat jy leer, berei jou voor op dit wat nog op jou wag.Wat is die goue reël om ’n bakkery winsgewend te bedryf?

Ken die koste van elke produk op jou rak. Maak die somme oor elke produk en maak seker jy is bewus van ál jou uitgawes. Wat is die grootste uitdaging?

Die geldsake. Ek is ’n bobaas-bakster, maar finansiële vaardigheid is nie my sterk punt nie. Ek het dus kundiges wat my bystaan met sakebesluite en beplanning. Ek probeer ook self meer leer oor dié veld.

Wat is jou toekomsplanne met M Patisserie?

Ek bou aan ’n legende. M Patisserie moet generasies lank ’n handelsnaam wees wat mense, geleenthede en fantastiese fyngebak verenig. Daar is bakkerye in Europa wat al 400 jaar lank bestaan.

Om dié doel te bereik, moet ek seker maak ek gee altyd my beste en bly innoverend. Ek wil ook my handelsnaam só bou en vestig dat mense met die eerste oogopslag my gebak herken.

Hoekom het jy vir Koekedoor ingeskryf?

Ek is mal oor bak en Koekedoor is ’n uitstekende platform om blootstelling te kry aan die bakbedryf en myself te verryk. Dit was ’n wonderlike ervaring.

Is ’n realiteitsreeks ’n waarborg vir kitssukses vir ’n onderneming?

Koekedoor het al baie voete na my winkel gebring en ek glo daar gaan nog baie voete kom.

Daar bestaan egter definitief nie iets soos kitssukses in hierdie bedryf nie. Ek werk al vyf jaar lank baie hard aan my onderneming, nog lank voor Koekedoor.

In die reeks het ek my bes gelewer en my grense verskuif. My klante en aanhangers gaan nou steeds dieselfde van my verwag. Dit gaan my op my tone hou en ek glo dit gaan my onderneming na hoër hoogtes neem.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.