Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Leaderex: Innovasie raak al hoe belangriker
Adriaan Basson, redakteur van Beeld en hoofredakteur van Netwerk24.

Beeld, Netwerk24 en die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB) gaan kragte saamsnoer vir die komende Leaderex, ’n uitstalling oor leierskap.

Dié byeenkoms van bestuurders, beroepslui en entrepreneurs – die eerste in sy soort – vind in September in Sandton plaas.

Dr. Marietjie Theron-Wepener, USB-bemarkingshoof, sê: “Ons is baie opgewonde dat Beeld en Netwerk24 as mediavennote hierdie inisiatief saam met ons gaan aanpak. Beeld is ’n gesaghebbende en toekomsgerigte dagblad in die sakehoofstad van die land en Netwerk24 is die grootste Afrikaanse platform vir sakenuus.”

Theron-Wepener sê die bestuurskool het besluit om sy betrokkenheid by die ekspo oor leierskap vir die toekoms te fokus. Dit sal gedoen word aan die hand van vrae soos: 

  • Hoe lyk die leier van môre? 

  • Hoe beplan jy as leier vir toekomstige innovasie? 

  • Wat is die vaardighede waaroor leiers van die toekoms moet beskik?

Voorste sakeleiers sal deelneem aan ’n USB-paneelbespreking oor die onderwerp “Ontwikkel leiers vir môre”.

Adriaan Basson, Beeld en Netwerk24 se hoofredakteur, sê: “Beeld en sy susterskoerante het reeds ’n bestaande vennootskap met die USB deur Sake se Geïntegreerde Verslagdoeningkompetisie. Die Leaderex-projek is dus ’n verdieping van ons samewerking. 

Ons neem graag deel aan ’n inisiatief wat die land se knellende leierskapsuitdagings aanspreek en oplossings debatteer.”

■ Kry meer inligting oor die ekspo by www.lea​derex.com.

Sake en Netwerk24 publiseer elke Donderdag ’n rubriek oor leierskap, Diskoers. Een daarvan was met prof. Piet Naudé, direkteur van die USB.

Lees ook:

■ ​Piet Naudé: Leierskap pas aan by elke soort ‘slagveld’

 ​Brand Pretorius: Goeie leier moet veral homself kan lei

■ ​Nicolaas Kruger: Goeie leiers is positief en het dryfkrag

■ ​Herman Mashaba: ’n Leier laat hom deur die werklikheid lei

USB-stalletjies

Die USB sal drie stalletjies by die ekspo oprig waar besoekers onder meer inligting kan kry oor die bestuurskool se programme, soos die nagraadse diploma in besigheidsbestuur en –administrasie, waarvoor studente van enige plek ter wêreld kan inskryf omdat die klasse op die kampus ook intyds aanlyn (vervlegte leer) aangebied word. Hierdie kwalifikasie gee toegang tot die MBA-graad indien studente nie ’n honneurs- of vierjarige graad het nie.

Die tweede stalletjie sal fokus op entrepreneurskap en meer spesifiek die USB se Kleinsakeakademie vir lae-inkomste-groepe, terwyl die derde stalletjie op bestuursafrigting gerig is, waar dr. Salomé van Coller-Peter, programhoof: MPhil in Bestuursafrigting, afrigtingsessies sal aanbied.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.