Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneursake
Lekker woon jou reg, glo ontwikkelaar
Johann Grobler van Hlala Kamnandi Developments wil ’n verskil in mense se lewe maak. Dit doen hy deur huisvesting te verskaf, het hy aan Tharien Hattingh vertel.
Johann Grobler van Hlala Kamnandi is ’n eiendomsontwikkelaar wat bekostigbare huisvesting bou wat baie meer is as die gebruiklike eenvormige huisies sonder teëls of ingeboude kaste. ­Foto: Tharien Hattingh

Wat is Hlala Kamnandi?

Hlala Kamnandi doen hoofsaaklik residensiële ontwikkelings – meestal, maar nie uitsluitlik nie, bekostigbare huisvesting.

Dit is ’n eenstop-ontwikkelingsonderneming wat die hele proses bestuur, van grondwerwing tot die verkoop van die voltooide eiendomme.

Wat beteken Hlala Kamnandi?

Dit beteken om lekker te woon in Zoeloe.

Hoe het jy op die naam besluit?

My passie is om ’n verskil te maak en my voertuig is behuising. Hlala Kamnandi se missie is om vir huiseienaars altyd meer waarde te gee as die bedrag wat hulle in rand en sent betaal.

Ek fokus daarop om waarde in my klante se lewe te skep en so hul menswaardigheid te bevestig en te vier.

’n Groot deel van jou klante is in die mark vir huise van tussen R300 000 en R600 000. Hoe verseker jy dat ’n huis nie net ’n dak oor die kop is nie?

Ek sluit vir klante al die ekstras in wat nie normaalweg in huisvesting in dié prysklas ingesluit word nie. Dit is die verskil tussen ’n huis en ’n tuiste.

Hlala Kamnandi bou huise met teëls op die vloere, ingeboude kaste, matte in die kamers, ’n stoof, genoeg muursokke en ’n tuin. Dit klink dalk vreemd, maar dit word gewoonlik uitgesluit by bekostigbare huisvesting.

Ek glo ook nie daarin dat al die eenhede dieselfde lyk nie. As jy mense self hul woning laat kies, skep jy woonbuurte en bevestig jy weer eens hul individuele menswaardigheid.

Dit is ook opvallend hoe ons ontwikkelings die omliggende eiendomme se waarde en ingesteldheid teenoor instandhouding verbeter.

’n Gemeenskap word beïnvloed deur sy omgewing en ons ontwikkelings beïnvloed ander huiseienaars om hul eiendomme ook op te knap en in stand te hou.

Jy het ’n hoë posisie in die korporatiewe wêreld beklee en toe besluit om weg te breek. Hoekom?

Ek het besef dat ek nie ’n groot genoeg verskil in ander mense se lewe maak nie en dat suksesvol nie dieselfde as betekenisvol is nie.

My menswees was gedefinieer deur my sakekaartjie en titel. Ek het nog altyd ’n belangstelling in die opheffing van mense gehad en het geweet dat as ek die vermoë het, ek ook die verantwoordelikheid het.

As ek op water wil loop, moet ek uit die boot klim.

Hoe het jy die sprong van salaristrekker na sake-eienaar gefinansier?

Toe ek besef dat ek sal moet spring om my volle potensiaal te bereik, het ek begin woeker met my salaris en bates opgebou.

Ek is al van my studentedae af by die eiendomsmark betrokke.

Jy het as tiener reeds jou entrepreneursgees ontwikkel deur besems te verkoop. Watter lesse het jy geleer wat jy nou nog benut?

Wees passievol oor jou produk, ken jou produk, ken jou klante en byt vas. Met die besemonderneming het ek geleer om na my klant se behoeftes te luister en dan die besem vir daardie behoefte bemark.

Ek het ook geleer dat ’n “nee” in die sakewêreld nie ’n persoonlike aanval of belediging is nie, maar slegs ’n “nee” vir jou produk.

Watter struikelblokke moes Hlala Kamnandi al oorkom?

My vennote speel ’n kardinale rol in Hlala Kamnandi se sukses.

Sonder byvoorbeeld ’n bouvennoot met dieselfde waardestelsel en missie sal my doel nooit bereik word nie.

Deur die verkeerde vennote het ek al duur lesse geleer, op monetêre sowel as morele vlak.

Ek het vroeg geleer hoe ek nié sake wil doen nie.

Daar sal altyd nog geleenthede wees om geld te maak, maar nie noodwendig geleenthede om jou reputasie te herstel nie. My reputasie en waardes is vir my baie belangrik.

Wat is volgens jou die sondes wat entrepreneurs moet vermy?

Ek beleef in Suid-Afrika veral ’n kultuur van suinigheid en geldgierigheid.

Ons is almal so bang om ons stukkie koek met ander te deel. Ons moet besef dat die koek groot genoeg is vir almal om daarvan te eet.

Wat is jou toekomsplanne?

Ek wil nog vir duisende gesinne met ’n behoorlike tuiste help, grondeienaars help om hul grond se waarde te ontsluit, by staatsprojekte betrokke raak, by die nywerheids- en kommersiële eiendomsbedryf betrokke raak en bowenal gesonde gemeenskappe bou.

Ek wil ook nog graag ’n doktorsgraad voltooi.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.