Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneursake
Ligte, kamera, aksie! (En hopelik sê sy ja)
Tharien Hattingh gesels met Hanco Venter en Anné van der Hoven van die Pretoriase onderneming TrouPasella, 'n onderneming wat benewens tradisionele troufoto's aksie-verlowingsfoto's neem.
Anné van der Hoven en Hanco Venter van TrouPasella, wat van jawoord vra ’n avontuur maak.

Wat is TrouPasella?

TrouPasella is ons troufotografie-onderneming. Ons aanvanklike troufotografie-idee het verder uitgebrei na aksie-verlowingsfoto’s. Die bruidegom reël vooraf met ons om sy hele verlowingsproses skelmpies af te neem.

Ons vermom ons en maak seker ons vang elke verrassende en emosionele oomblik met die lens vas, terwyl die bruid geen idee het van hierdie bykomende verrassing nie.

Ons noem dit ons pasella aan die troupaartjie. Hierdie pasella-fotosessie vorm dan ook deel van die pad wat ons met die paartjie stap.

Julle het ’n kans gewaag en jul heeltydse beroep verruil vir die kreatiewe wêreld van troufotografie. Hoekom het julle besluit om hierdie reeds belaaide mark te betree?

Albei van ons het ’n ernstige korporatiewe werk gehad en het vasgevang gevoel in die boksies waarin dit ons geplaas het.

Ons het geweet ons moet daar uit. 

Anné is nog altyd ’n kreatiewe siel en Hanco het ’n entrepreneursbrein. Saam het ons geweet sal ons ’n goeie entrepreneurspan wees.

Ons het ’n veld gesoek waarin mense gelukkig en positief is, aangesien ons positiewe mense is. En waar kan jy jou ’n gelukkiger situasie voorstel as ’n paartjie wat verloof raak en trou? Dit is hoe ons op troufotografie besluit het.

Hoe het julle geweet jul waagstuk gaan werk?

Ons het ses maande voordat ons bedank het deeltyds aan TrouPasella gewerk en so seker gemaak dat ons ernstig oor die onderneming is.

Hoe dra jul agtergrond by tot jul onderneming? 

(Hanco is ’n bedryfsingenieur en Anné ’n stelselontleder.)

Ons sal ons tersiêre onderrig en werkondervinding vir niks verruil nie. ’n Onderneming bestaan uit ’n klomp stelsels wat goed moet saamwerk om groei binne ’n stewige struktuur te verseker. Ons graadkursusse en werkondervinding help om te verseker dat al ons stelsels en beplanning waterdig is.

Die feit dat ons albei reeds vir iemand anders gewerk het, verseker ook dat ons die vryheid wat entrepreneurskap ons bied, waardeer.

Nie een van julle was die “voorgeskrewe” 10 000 uur in ’n werkgewer se diens nie. Wat is jul raad aan ander jong entrepreneurs?

Om vir iemand anders te werk is belangrik. Dit gee jou perspektief en leer jou lesse wat jy nie op ’n ander manier sal leer nie, maar as jy ’n entrepreneursgees het en ’n geleentheid kom oor jou pad, moet jy dit aangryp.

Dit is ook belangrik om te onthou dat jou eerste onderneming nie noodwendig die wenner gaan wees nie.

Dit bied jou wel die moontlikheid om by nog ondernemings en geleenthede betrokke te raak. Jy moet jou voelers uitsteek.

Julle het nie professionele ­opleiding in fotografie nie. Hoe werk dit?

Ons fotografie en die manier waarop ons dinge doen, dra ons unieke stempel. Ons wil nie hê dat invloede van buite ons kreatiwiteit beïnvloed nie.

Baiekeer, as ’n mens vir ’n spesifieke taak opgelei is, verrig jy die taak net soos wat jy geleer is. Jy vergeet om al die ander metodes te ondersoek.

Ons wil oopkop wees oor ­fotografie en ons tegnieke. En buitendien is daar niks wat jy nie op YouTube kan leer nie.

Hoe het julle TrouPasella se ­aanvang gefinansier?

Toe ons besluit het om TrouPasella te begin, het ons reeds gespaar vir ’n oorsese vakansie. Ons vakansiefonds en nog so ’n paar maande se spaargeld het die begin van TrouPasella gefinansier.

Ons het ook teruggetrek na ons ouerhuise en so hou ons die uitgawes so laag moontlik.

Julle is in ’n verhouding én bestuur ’n onderneming. Werk dit?

Ja, dit werk absoluut. Ons is klankborde vir mekaar en inspireer mekaar in die groei en bestuur van ons onderneming. Ons is harde werkers en is bereid om die ekstra myl te stap.

Wou julle al ooit moed opgee met TrouPasella?

Daar was al dorings op ons pad, maar die oomblik as ons besef ons is vry en ons werk aan ons eie toekoms, is ons koppe weer helder.

Wat is julle toekomsplanne?

Ons wil ’n alles-in-een-troupakket- en -diensverskaffer word. Paartjies moet aan ons deur kan klop vir alle dienste wat benodig word by ’n troue. Ons voelers is ook uit vir ander entrepreneursgeleenthede en ons is besig om te woeker met ’n idee of twee.

■ Die onderneming se webwerf is ​troupasella.co.za.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.