Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Lizé Lambrechts: Kry hulp as jy weet jy het dit nodig

Mense vra my gereeld of ek as vrou al ooit gevoel het ek moet baklei vir bevordering?

“Was daar meer struikelblokke op jou pad?”

“Bestaan die glasplafon vir vroue nog?”

My antwoord is dat ek nooit anders as my manlike eweknieë gevoel het nie. Ek het geweet ek het dieselfde vermoë as enige man om die werk te doen en het dit nooit vir ’n oomblik betwyfel nie. Gelukkig vir my het my werkgewers (Sanlam en Santam) dit ook raakgesien.

Ek is trots op wat ek bereik het, want ek het hard gewerk en was toegewyd – nie omdat ek gedink het daar is bevooroordeling teen my omdat ek ’n vrou en ’n ma is nie. Ek glo mans én vroue het die vermoë om in die werkplek uit te blink. Dit hang van elke persoon af hoe hulle hul geleenthede aangryp. Ek gebruik elke geleentheid wat ek kan om dié boodskap oor te dra aan die mense saam met wie ek werk.

Ek grond my leierskapstyl op ’n gedeelde visie en insluiting. Instellings floreer as almal aanklank vind by ’n visie wat tot hul waardes, drome, ambisie en etiek spreek. As ’n visie geskep word wat ander inspireer om daarin te deel, word individue en spanne in staat gestel om hul potensiaal ten volle te bereik. Dit is my definisie van leierskap, en dit is waarna ek elke dag streef. Party dae is meer suksesvol as ander.

Ek is ten volle bewus daarvan dat ek geensins ’n perfekte leier is nie.

My leierskapspad het ook op persoonlike vlak harde werk vereis. Toe ek sowat 13 jaar gelede aangestel is om ’n groot afdeling – Sanlam Persoonlike Finansies – te bestuur, was ek soms daaraan skuldig dat ek vergeet het dat mense emosies het, of ten minste dat mense se emosies ’n impak op hul prestasie het.

Lizé Lambrechts

Dit was moeilik, maar tog belangrik om te erken dat ek ondersteuning en raad nodig het om my potensiaal as leier te verwesenlik. Ek het met ’n professionele lewensafrigter vir uitvoerende sakelui saamgewerk en dit het my gehelp om ’n meer emosioneel-intelligente leier te word.

Ek moedig almal aan om hulp te kry wanneer hulle dit nodig het, of wanneer hulle voel dat iets hulle terughou.

Ek glo deur uiters talentvolle mense met hul eie komplementêre, sterk eienskappe. As ’n span kan ons soveel meer doen as wat net individue sou kon.

As jy die regte balans vind tussen talent, struktuur, aansporing en aanspreeklikheid – dís wanneer ’n organisasie floreer. Soos ek dit sien, is my kernrol om seker te maak dat die regte balans gevind word.

My grootste werkstevredenheid spruit ongetwyfeld daaruit om te sien hoe mense saam met wie ek deur die jare gewerk het, sukses behaal.

Net om te weet dat daar ’n omgewing en visie was wat hulle toegelaat het om te floreer, laat my goed voel, al was die geswoeg en gesweet natuurlik aan hul eie toedoen te danke!

Dit is my doel om ’n omgewing te skep wat mense voed en die beste in hulle na vore bring. Ek hou daarvan om ware sukses te sien en hoe toekomstige leiers ontwikkel.

Almal wat in ’n leiersposisie is, moet deur hul voorbeeld lei (“walk the talk”) – op persoonlike en professionele vlak.

Almal weet my gesin is een van my grootste prioriteite, en ek verstaan hoe belangrik ’n gesin ook vir ander mense is. Dié respek vir familie, vriende en ander dinge wat vir ons saakmaak, lewer ’n groot bydrae tot ’n gesonde, lewendige en gebalanseerde organisasie.

Die Diskoers

Diskoers is ’n weeklikse rubriek oor leierskap en die vraagstukke waarmee leiers worstel.

Wie is Lizé Lambrechts?

Lizé Lambrechts is in Januarie 2015 as Santam se uitvoerende hoof aangestel. Sy was 13 jaar lank die hoof van Sanlam se afdeling Persoonlike Finansies. Lambrechts was een van Suid-Afrika se eerste handjievol gekwalifiseerde vroue-aktuarisse. Sy is getroud en het ’n dogter. Sy woon in Kaapstad.

Sien uit na...

Christo Botes, uitvoerende direkteur van Business Partners en nuwe president van die AHi, skryf aanstaande week vir ons.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.