Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
‘Maak seker om veearts te wees is passie’
Tharien Hattingh gesels met Martin Crafford en Pieter Vivier, twee veeartse wat Noag se Dierekliniek bestuur, oor hul onderneming - en ook die moeilike dele van veearts wees.
Pieter Vivier en Martin Crafford, twee veeartse van Pretoria. ­Foto: Tharien Hattingh

Julle is twee vriende wat as veeartse al drie jaar lank ’n praktyk suksesvol opbou en bedryf. Hoe het dit gebeur?

Ons het saam gestudeer en het gou goeie pelle geraak. Ná ons studie wou ons graag saam werk. Ons het eers beplan om ’n paar jaar oorsee te werk en só ons studieskuld te betaal. Ons oorsee-planne het nie heeltemal gerealiseer nie, maar die geleentheid het hom wel voorgedoen dat ons saam kon werk. 

Die praktyk het op ons pad gekom en ons het die geleentheid aangegryp om Noag se Dierekliniek ons eie te maak.

Julle het ’n reeds bestaande praktyk gekoop. Waar het julle kapitaal gekry?

Pieter se pa het die kapitaal aan ons voorgeskiet. Dit was maar moeilik om finansiering by die banke te kry. Ons het nie ’n vaste salaris gehad nie en ook nie regtig bates waarteen ons die skuld kon verseker nie.

Die praktyk bestaan uit die perseel en die sakedeel. Ons het vir eers net die sakedeel by die vorige eienaar gekoop en toe ons later finansiering by die bank kon kry, het ons ook die perseel gekoop.

Hoe laat julle die praktyk groei?

Ons het baie van die vorige praktyk se kliënte oorgeneem. Aan die begin het kliënte nog na die vorige eienaar gevra, maar hulle het darem gou geleer hulle kan ons vertrou. Die feit dat ons twee veeartse is wat voltyds by die praktyk betrokke is, bied ons die geleentheid om soveel meer dienste te bied.

Die verhouding met ons ­kliënte is vir ons baie belangrik. Troeteldiere is soos mense se kinders en daarom moet jy met liefde met elke dier en eienaar werk. Ons het ook onlangs ’n derde veearts aangestel. Sy bring ’n ander dimensie na die praktyk en daar is kliënte wat ’n vroulike veearts verkies.

Hoe voel dit om in so ’n noue werkverhouding en vennootskap met ’n vriend te wees?

Ons kom baie goed oor die weg en ons visie is dieselfde. Ons albei doen waarvoor ons lief is. Ons kan reguit met mekaar praat en konflik gou oplos. Dis ook lekker dat ons mekaar se persoonlike lewe ken en só verstaan as dringende persoonlike sake gehanteer moet word.

Watter deel van die onderneming is vir julle die uitdagendste?

Om deurlopend die beste diens te lewer wat ons kan. Dit is vir ons ’n positiewe uitdaging en ons sit baie energie daarin. Aan die ander kant is agterstallige debiteure ’n groot negatiewe uitdaging. Ons haat dit om kliënte te vra om agterstallige rekeninge te betaal.

Ons studie het ons goed voorberei om veeartse te wees, maar nie noodwendig vir alles wat gepaardgaan met ’n onderneming nie.

Is ’n mediese fonds of versekering vir diere nodig?

Ja, ons beveel dit aan. Dit stel ’n eienaar in staat om die beste behandeling vir ’n troeteldier te bied.

Hoe voel dit om ’n dier van kant te maak?

Dit is nooit lekker nie. Dit hang af van geval tot geval. As die dier regtig siek of oud is en ons die dier nie kan genees of sy lewensgehalte kan verbeter nie, is dit goed dat ons die dier se lyding kan verlig. 

As daar gevalle kom waar die eienaars beperk word deur verskeie omstandighede en besluit om die dier nie te behandel nie, is dit baie sleg.

Om ’n veearts te word, is ’n lang en moeilike paadjie. Wat is jul raad aan aspirant-veeartsenykundestudente?

Maak seker dit is wat jy wil doen. Gaan doen vakansiewerk by ’n veearts en maak seker dit is jou passie. As jy die ja-gevoel kry, volhard! Die har-de werk sal die moeite werd wees.

Wat is jul raad aan jong veeartse wat ’n praktyk wil begin?

Doen deeglik navorsing oor die ligging van jou praktyk. Doen ook bietjie ondervinding op om te sien wat ’n praktyk behels. Verder moet jy jou oë toeknyp en die tree gee. Dit is baie opwindend en bevredigend om aan jou eie praktyk te bou.

  Noag se Dierekliniek is in Moreletapark, Pretoria.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.