Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Mans kry hier hulp om hul beste voet voor te sit
Mans kan ook maar mooi lyk, of hoe? Tharien Hattingh gesels met iemand wat beslis so reken, Rozanne Lazarus, wat Moi Styling in Kaapstad vier jaar bedryf.
Rozanne Lazarus van Moi Styling.

Wat is Moi Styling?

Dit is ’n stileringsonderneming wat spesifiek fokus op mans - kleredrag, haarsorg en so meer, veral vir spesiale geleenthede.

Stilering van mans? Hoe het dié idee ontstaan?

Ek het ná my studie in grafiese ontwerp ondervinding in modestilering by glanstydskrifte opgedoen. Ek het agtergekom daar is niemand wat toesien dat mans reg aantrek en altyd op hul beste lyk nie.

Daar was veral ’n leemte in die troubedryf. Daar is ’n oormaat trourokwinkels en -ontwerpers, maar niemand wat spesifiek op die bruidegom fokus nie.

Mans het ook nie altyd tyd of geduld om in winkels rond te soek vir die regte klere nie.

Wat behels jou onderneming?

Moi Styling is vir my kliënt ’n eenstopwinkel. Mans maak ’n stileringafspraak en die bruid of bruidegom voltooi vorms waarop hulle aandui wat hulle nodig het.

Hulle stuur ook vir my ’n “mood board” - die gevoel van hul troue. Volgens al dié inligting stel ek ’n uitrusting saam.

Ek klee die man van kroontjie tot toontjie. Tydens die afspraak kan die man sy hele formele uitrusting in sy grootte bekom.

Hoe het jy jou onderneming gefinansier?

Ek kan gelukkig die onderneming by my huis bedryf en daarom is my oorhoofse koste nog altyd taamlik laag. Ek het ook ’n goeie verhouding met my verskaffer en neem voorraad op sig. Daarom hoef ek nie my kontant in voorraad te belê nie. Hoe het Moi Styling gegroei?

Aan die begin het ek slegs twee of drie kliënte per maand gehad. Die idee van stilering vir mans moes eers versprei en bruidegomme moes gewoond raak aan die idee dat hulle ook voor die groot dag spesiale aandag kan kry.

Vanjaar het ek ’n rekord-48 kliënte in een maand gehad.

Hoe bemark jy?

My beste bemarking is verwysings en gestileerde fotosessies vir die media. Ek neem ook gereeld aan trouslypskole deel.

Watter struikelblokke was daar al op jou pad?

Die troubedryf is seisoenaal en aan die begin van Moi Styling se bestaan was dit nogal kommerwekkend. Mettertyd raak troues regdeur die jaar gewilder en in 2014 kan ek bevestig dat ek konstant besig is.

Jou agtergrond en onderneming is ’n kreatiewe wêreld. Watter sake-aspekte was vir jou moeilik?

Die administrasie. Hoewel ek ’n baie geordende mens is, is dit steeds vir my moeilik om my onderneming se finansies te bestuur en seker te maak ek is op datum. My pa is ’n uitstekende sakeman en hy is my mentor op dié gebied.

Wat dryf jou?

Ek het ’n passie vir dít wat ek doen. Ek raak steeds senuagtig met elke afspraak en doen dus moeite om altyd goed voorbereid te wees en seker te maak my kliënte kry die beste diens moontlik.

Hoekom slaag Moi Styling?

Kliëntediens is my fokuspunt. Ek glo ook ek het daardie sesde sintuig – ek weet wanneer my kliënte tevrede is en wanneer ek verder moet soek na die perfekte uitrusting. Ek is nie ’n verkoopsvrou nie, ek is ’n stilis met die voordeel dat jy formele klere teen ’n billike prys by my kan koop.

Het jy planne om uit te brei na ander stede?

Ek het kliënte oor Suid-Afrika heen en het al selfs internasionale kliënte. Dit bevestig dat daar wel ’n behoefte aan die diens in ander dele van die land is.

Ek sal nie presies dieselfde diens teen dieselfde prys in ander stede kan lewer nie. Al my verskaffers is in die Kaap en ek werk daagliks met hulle.

Dit is ’n deel van my sakemodel wat nog goeie dinkwerk benodig.

Wat is jou toekomsdroom?

Ek droom van ’n stileringsprogram vir mans op TV.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.